Fotograwe het hoopvol ingeskryf vir Voorgrond se fotokompetisie want die pryse was uitlokkend lekker.
Ons grafiese ontwerper, Koos Gagiano, het die beoordeling waargeneem. Met sy kunstenaarsoog het hy fyn waarnemings gemaak en met goeie oordeel die groot keuse gemaak. Koos het beklemtoon hoe moeilik dit was om te kies omdat daar ‘n hele paar gunstelinge was.
In die derde plek was Tammy Strümpher van Skotland. Sy wen ‘n geskenkbewys ter waarde van Ф150 van die Orania Beweging. Koos het baie van dié foto gehou en skryf: “Ek hou baie van dié een want dit skep ‘n gevoel van rus na ‘n lang dag se harde werk. Die komposisie is ook baie goed.”

In die derdeplek
Coraine Oosthuizen van Orania wen die tweede prys met haar foto van haar kinders wat fluks in die tuin werk. Haar prys is oornagverblyf in die Oewerpark met aandete en ‘n stoomsessie in die Orania Rivier Spa vir twee persone.
Oor dié foto skryf Koos: “Hierdie een beeld vir my familiewaardes en bande uit. Dinge wat ek dink families vandag nie meer het nie. ‘n Familie wat saam werk en saam ontspan.”

Die naaswenner.
Die wenfoto verskyn op Voorgrond se voorblad en is ingestuur deur Hester en Christiaan van Zyl van Orania. Hester se byskrif was: “Hendrik Holder laai strooibale af”. Die Van Zyls wen Oornagverblyf vir twee in die Orania Oewerhotel, ontbyt en aandete ingesluit, asook ‘n halfuur behandeling by die Orania Rivier Spa vir twee persone.

Die wenfoto!
In sy kommentaar skryf beoordelaar Koos Gagiano oor die wenfoto: “Hierdie een simboliseer vir my Orania se Klein Reus. Selfwerksaamheid. Hardwerkend.”
Hartlike dank aan ons borge: Orania Oewerhotel, Oewer Restaurant, Oewerpark, Orania Rivier Spa en Orania Beweging.
Gaste wat Orania onlangs besoek het, het ‘n roerende storie oor die Anglo-Boereoorlog vertel. Tydens die afbrand van Boerewonings kon een van die Engelse offisiere dit nie oor sy hart kry om twee pragtige houtsneewerke te verbrand nie. Hy het die twee stukke teruggehou en saamgeneem huis toe.
Baie jare daarna het sy gewete hom aangekla en het hy dit by die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen ingegee. ‘n Amptenaar het dit in sy privaatversameling gehou tot hy oud geword het en toe die kunswerke en die storie aan sy dogter oorgedra. Sy is nou ook reeds bejaard en haar groot wens is om die kunswerke terug te besorg aan die oorspronklike familie.
‘n Dowwe stel voorletters kan regs onder op die baadjie onderskei word.
Enige iemand wat kan help met inligting om hierdie besondere verhaal ‘n mooi einde te gee, kan vir John Strydom skakel by 082 975 8132.

Die houtsneewerke is deur ’n Engelse offisier gered tydens die Anglo-Boereoorlog toe ’n plaasopstal afgebrand is.
Die twintigjarige herdenking van oudpresident FW de Klerk se toespraak in die Suid-Afrikaanse Parlement op 2 Februarie 1990 het die afgelope tyd heelwat aandag geniet. Opvallend is dat woorde soos “wonderwerk” en “reënboognasie” hierdie keer veel minder gehoor is en dat die ontmagtiging van Afrikaners met veel meer voorbehoud beoordeel word. Mnr De Klerk tree self ook op soos iemand wat deur die ontvangs van sy nalatenskap gekwel word en hy is dikwels op die verdediging, selfs wanneer hy nie aangeval word nie byvoorbeeld tydens die FW de Klerk Stigting se onlangse beraad oor Afrikaans in hoër onderwys.
Die Afrikaner Vryheidstigting was teen Februarie 1990 reeds besig om oor die aankoop van Orania te onderhandel en het die knoop sowat twee maande later finaal deurgehak. Ons het dus die gebeure vanuit ‘n besondere perspektief beoordeel en ‘n bydrae tot die gevolglike ontwikkeling probeer maak. Terugskouend is ons oordeel oor die wending wat ons geskiedenis op daardie dag geneem het, soos volg:
Mnr De Klerk het op 2 Februarie 1990 eenvoudig die onafwendbare gedoen; dit was net so min dapper as verraderlik, dit was onvermydelik. Hy het dit egter sonder veel onderskeiding gedoen, want ná die aanvanklike euforie blyk dit ‘n gebrekkige skikking en ‘n ontoereikende grondwet te wees wat onder sy leiding aanvaar is.
Ongebreidelde meerderheidsoorheersing het nie net etniese minderhede en inheemse tale soos Afrikaans benadeel nie, maar ook tot nuwe vorme van rassisme en diskriminasie gelei. Om dit voor die ANC se deur te lê soos mnr De Klerk tans doen, is om die ontoepaslikheid van ‘n liberale demokrasie in ‘n land soos Suid-Afrika te misken en om praktiese, demografiese probleme met teoretiese oplossings tegemoet te gaan.
Die werklikheid wat intussen vorm aangeneem het, plaas projekte soos Orania waar mense vir hulle eie lot verantwoordelikheid neem, opnuut in die kollig. Dit is veelseggend dat Orania, klein soos dit nog is, meer volhoubaar as mnr De Klerk se eie party geblyk te wees het.
Orania dra dus ‘n groot verantwoordelikheid: om die Afrikaner se erfenis vir die toekoms in beskerming te neem sonder om na die verlede te probeer terugkeer. Dit doen ons, ongeag wat dit van ons vra, want ons is nie vir onderhorigheid gebore nie.
Kommentaar deur Carel (iv) Boshoff, President van die Orania Beweging.