
Die bestuur van die sterreklub van Orania.
Ons het onlangs berig oor die uitdaging wat Gerhardus Thompson aan Orania gerig het. Daar is nou werk van gemaak met ‘n vergadering waarop ‘n bestuur gekies is vir die nuutgestigte sterreklub.
‘n Grondwet word geskryf, uitstappies word beplan, en dan moet ‘n teleskoop aangeskaf word!
Skakel gerus vir Franz Conradie by 083 3013 802 as u wil bydra, help of gesels oor sterre!

John Strydom ontvang sy medalje.
Wat het KR x SW= Vryheid2 en Newe-effekte van navorsing met ‘n uitwoner te doen?
Gerhardus Thompson is waarskynlik een van Orania se aktiefste uitwoners, al woon hy en sy vrou Melinda in die verre Taiwan!
Een van Gerhardus se groot liefdes is wetenskapfiksie, maar een van die dinge wat aan hom krap is dat daar so min wetenskapfiksie in sy lieflingstaal, Afrikaans beskikbaar is.
Maar, ‘n boer maak mos gereeld ‘n plan en daarom het Gerhardus begin met ‘n jaarlikse Afrikaanse Wetenskapfiksieskryfkompetisie.
Met sy onlangse besoek aan Orania kon Gerhardus die pryse oorhandig. Die eerste plek het gegaan aan John Strydom se verhaal Newe-effekte van navorsing. KR x SW= Vryheid2 deur Lida Strydom het die tweede plek verwerf en Martin van der Watt se verhaal Ouma du Toit se storie het die derde plek geneem.
Die prysgeld van Ф1000 is natuurlik glad nie te versmaai nie, maar die pragtige silwer medalje wat die wenner ontvang is iets om jaloers voor te werk!
Die verhale word nou verwerk en sal eersdaags in ‘n bundel gepubliseer word.
Skrywers moet intussen vinnig hulle woorde neerpen, want die volgende kompetisie is reeds weer aan die gang. Meer inligting is beskikbaar by www.afrifiksie.com