Maandelikse Argief vir Junie, 2010

Orania se kraakvars neuteoes

Aanleg vir gradering en pak

Die blare hang nog vir oulaas geel en herfserig aan die pekanbome in Orania.  Dit is egter ‘n gesig wat ‘n mens moet geniet as jy die geleentheid het om dit te sien, want oestyd het reeds in alle erns begin.  Op Orania is daar ongeveer 155 ha pekanneutbome aangeplant, wat sowat 15 500 bome verteenwoordig.

Dit is belangrik om te besef dat pekanneutboerdery ‘n langtermynbelegging is.  Boere raak dikwels moedeloos vir die lang wagtyd en ploeg dan bome uit wat al ‘n paar jaar groeityd agter die rug het.  Op Orania is die oudste bome nou ongeveer vyftien jaar oud en opbrengste verbeter nog jaarliks.  Die nasionale gemiddelde opbrengs is ongeveer een duisend vyfhonderd kilogram per hektaar.  Die uiteindelike verwagte gemiddeld  vir Orania is tweeduisend kilogram pekanneute per hektaar.  Daar word egter ’n gemiddelde van sowat 500 kilogram per hektaar vir die 2010-oesseisoen verwag omdat al die bome nog nie in volle produksie is nie.

Die boorde op Orania is almal in privaatbesit.  Sommige word egter deur kontrakteurs onderhou.

Jong bome word nog met die hand geoes, maar die meeste bome is reeds sterk genoeg om meganies geoes te word.  Dié proses behels ‘n skudmasjien waar ‘n klamp om die boom se stam gehaak word en dan word  die boom met ‘n vinnige vibrasie geskud.  Die geel en bruin blare tuimel dan saam met die pekanneute grond toe en val in sommige gevalle op skadunette.

Johan Ferreira van Dendronboerdery, ‘n kontrakteur wat sowat 110ha met vyftien manne binne twee en ‘n half maande oes, het die oesproses al verder gemeganiseer.  Hier word die neute wat op die boordvloer lê nadat die bome geskud is, met ‘n reuse suier aan ‘n trekker opgesuig terwyl die blare terselfdertyd  uitgeblaas word.   Johan maak ook gebruik van ‘n kragtige blaser, wat die neute op die boordvloer almal in een rigting blaas.  Daar word reeds beplan om  ‘n boordbesem aan te koop.  Die boordbesem sal dan vooraan die trekker geplaas word met die blaser agteraan.  Sodoende sal die neute in windrye gevee en dan maklik met die suier opgesuig word.  Dit behoort produktiwiteit verder te verhoog.

By Dendronboerdery is daar ook onlangs ‘n nuwe verpakkingsaanleg in gebruik geneem.  Die neute word op ‘n produksielyn met ‘n masjien skoongemaak en volgens grootte en kwaliteit gesorteer.  Gekraakte neute word met die hand van ‘n vervoerband  verwyder.  Die gegradeerde neute val volgens grootte in sakke. Die sakke word toegestik en ‘n identifikasiekaartjie word aangeheg.

Die wit sakke met Orania-pekanneute word in ‘n koelkamer gestoor,  gereed vir die uitvoermark waarvoor dit bestem is.

Neute uit sommige boorde word egter in Annatjie Joubert se Karoo-pekanaanleg meganies gekraak, uitgedop en in grootmaat vakuumverpak.  Annatjie berei ook kleiner verpakkings voor met verskillende mengsels van neute, byvoorbeeld gebak, gegeur of met rosyne gemeng.

Die kwaliteit van neute uit die Bo-Karoo is besonder hoog, met ‘n gemiddelde uitdoppersentasie van tot 58%.

Pekanneute word beskou as een van die beste beskikbare gesondheidskosse en is besonder ryk aan voordelige vetsure en ook ‘n goeie bron van plantaardige proteïen.   In Orania is dopvars pekanneute in oorvloed beskikbaar en Oraniërs wat bederf is met goeie kwaliteit, vars neute, is al buitengewoon kieskeurig oor watter neute regtig lekker is!

Lida Strydom

Jongmanne neem die voortou

Carel iv Boshoff

Wat is die definisie van jonk wees?   As ‘n mens jonk is as jy onder vyf en veertig jaar oud is, dan word Orania nou bestuur deur jongmanne!

Orania bestaan uit ‘n Aandeleblokskema.  Dit is waar persone eiendom in Orania koop en so aandele in die maatskappy opneem.  Daar vind elke jaar ‘n aandeelhouersvergadering plaas waar ‘n direksie verkies word.  Die verkose direksie dien dan as die munisipale bestuur van die dorp.

Op Saterdag 22 Mei was dit weer D-dag en moes vier nuwe lede vir die direksie aangewys word.  Op die Donderdagaand vooraf kon die kandidate op Radio Orania die luisteraars beïndruk met wat hulle alles beplan om vir Orania te doen.  Teen Saterdag het die kiesers geweet wie hulle wou hê.  Met groot oortuiging is gestem vir Willie du Plessis, Willie Nel, Herman Grotius en Carel Boshoff (iv).  Die bestaande lede van die direksie is Frans de Klerk, Renus Steyn, en Harry Theron.

Vier van die manne is onder vyf en veertig jaar oud, wat dit die jongste direksie maak wat nog op Orania gedien het.  Wat egter interessant is, is dat vyf van die manne al reeds van voor 2000 af in Orania woon en dat hulle reeds ingeburger is in die besondere weë van Orania.

Carel Boshoff (iv) is as voorsitter van die Raad verkies en sal ook in die handel en wandel bekend staan as burgemeester van Orania.

Frans de Klerk , tans die Uitvoerende Hoof van Orania Beweging, is onlangs aangestel as Uitvoerende Hoof van Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk.  Intussen voeg die jonge Ebert Terblanche hom ook op 1 Augustus as korporatiewe bestuurder by Orania se Dorpsraad.

Ons sien uit na opwindende ontwikkeling saam met die manne, maar ons mis defnitief ‘n paar vroue op die raad!