Maandelikse Argief vir Julie, 2010

Orania van hoek tot kant beplan

Carel en Elisma Boshoff besig met opnames

Die direksies van Vluytjeskraal 272 (VAB), algemeen bekend as die Dorpsraad en Orania Bestuursdienste (OBD) oftewel die ontwikkelingsmaatskappy van Orania, het verlede week met vyf professionele konsultante vergader.

Orania is ’n ou Waterwese-dorp en die infrastruktuur dateer uit die jare sestig.  Hoewel die infrastruktuur in ’n redelike toestand is en goed onderhou word, maak versnelde ontwikkeling uitbreiding van die stelsels nou noodsaaklik.

Orania se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) is verlede jaar deur die stadsbeplanner Louw van Biljon voltooi.  Die direksies van VAB en OBD was nou gereed vir die volgende stap en daarom is Orania se vyf professionele konsultante na Orania genooi vir ’n reeks van samesprekings.

Die konsultante sluit in: ’n stadsbeplanner, ’n elektriese ingenieur, ’n siviele ingenieur, ’n landmeter en ’n prokureur.  Die volgende stap wat geïdentifiseer is, is om ’n grondgebruikskema vir Orania op te stel.  Hoewel Orania ’n redelike geïntegreerde benadering volg, sal Orania in verskillende sones verdeel word sodat bepaalde swaarder nywerhede byvoorbeeld van woongebiede geskei sal wees.

Daar word tans gewerk aan die opstel van omvattende elektroniese landmeterskaarte vir Orania.  Alles wat fisies op Orania bestaan word nou ook elektronies gedokumenteer sodat ons in die toekoms ook elektroniese kaarte vir riolering en kragkabels sal hê.

Voorspruitend uit die besoek van die konsultante is vier en twintig projekte geïdentifiseer waarby Dorpsraad betrokke sal wees.  Aangesien daar nou verhoogde belangstelling in Orania is, sal is daar ook verhoogde aanvraag vir dienste deur Dorpsraad voorsiening gemaak moet word.  Verskeie beplannings vir dienste vir nuwe ontwikkelings geniet nou aandag.

In die lig daarvan dat Orania volhoubaarheid wil bevorder word daar ook voorsiening gemaak vir ontwikkelingsgebiede waar eienaars verkies om onafhanklik van dienste te wees.  Dit is bv dienste soos elektrisiteit, riolering en wateraansluitings.  Daar sal egter ook sekere beginsels geld om te verseker dat hierdie ontwikkelings ook op ’n aanvaarbare vlak geskied.

Hou Orania gerus dop!  In die volgende vyf jaar gaan die ontwikkeling menige belangstellendes verbaas.  Koop liewer gouer as later jou stukkie eiendom op Orania!

Maklik deur die muur

Daar is groot druk op elke inwoner van Orania om homself in beter omstandighede in te DINK!

Omdat arbeid, prakties gesproke, die groot verskil is tussen Orania en die groot “elders”, wil ons daarmee so wys moontlik handel.  Om ‘n gat vir ‘n riool- of waterpyp met beitels deur ‘n steenmuur te kap is een manier.  Dit neem lank, veroorsaak ’n slordige gat wat opgevul of gepleister moet word en dikteer ‘n sekere volgorde: eers bou, dan gat maak, dan opvul en pleister, dan teël.

‘n Praktiese nutsman het hieroor getob en toe ‘n “gatboor” gebou wat op ‘n gewone boor, of selfs op ‘n omslagboor pas.  Die ontwerp is gaandeweg verfyn en vervaardiging het uitgebrei tot ‘n klein fabriek wat tans bore landwyd versprei.  Verskillende groottes bore maak koeëlronde gate deur mure en selfs klaargeteëlde oppervlaktes, nommerpas vir waterpype, lugversorgingspype, ens.

Maar die fabriek waar Francois Botes, Hennie Helberg, Norman Bester en Philip Knoetze werk is interessant om meer redes as net hulle produkte.  Hulle het oor jare verskeie innoverende veranderinge en ontwerpe in werking gestel: meesal self ontwerp en gebou!  Norman, wat die praktiese innoveerder is, het verbasend genoeg slegs boekhoukundige opleiding, wat my laat  wonder oor boekhouers se innovering wanneer dit by belasting kom!

Elke denkende Afrikaner weet dat intellektuele eiendom, innovering, ondernemerskap en veral ook vervaardiging belangrik is wanneer groei van ‘n gemeenskap ter sprake is.  Hierdie manne bring hulle kant op al hierdie gebiede en verskaf verskeie produkte wat suksesvol oor die land versprei en verkoop word.

Skakel Francois Botes by 082 809 7879

Pasmaak gate vir rioolpype

Kosovo het betekenis

‘n Uitspraak wat volgens politieke kenners vir etniese minderhede belang het:

Kosovo independence not illegal, says UN court

Kosovo’s government says its independence is irreversible

Kosovo’s declaration of independence from Serbia in 2008 was not illegal under international law, top UN judges say.

The ICJ was ruling on Serbia ‘s claim that Kosovo’s secession violated its territorial integrity.

The International Court of Justice’s non-binding ruling may encourage other countries to recognise Kosovo.

The US and many EU countries support Kosovo’s independence; Russia is strongly opposed to it.

Addressing the court in The Hague , ICJ president Hisashi Owada said international law “contains no applicable prohibition” of Kosovo’s declaration of independence.

“Accordingly, [the court] concludes that the declaration of independence on 17 February 2008 did not violate general international law,” he said.

Beeld en Litnet kompetisie se wen-artikel

Quintin Diederichs het ‘n artikel ingeskryf vir Litnet, Beeld en die F.W. de Klerk-stigting se kompetisie met die tema Suid-Afrika 100-jaar bestaan.   Sy artikel Die hebsug van die maer koei is as een van die wenartikels aangewys.

Die hebsug van ‘n maer koei

deur Quintin Diederichs

Farao droom van sewe mooi vet koeie wat uit die Nyl uitkom en gaan wei in die soet vleigras. Daarna volg sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was afskuwelik en uitgeteer.

Verder lees Genesis 41 soos volg: “Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op. Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin. Toe het ek wakker geskrik.”

Rigters van onkunde

Volgens die beleid van Suid-Afrika se regerende party is dit hul hoofdoelstelling om ‘n verenigde, nierassige, nieseksistiese en demokratiese samelewing te skep.

Dit kom neer op die bevryding van Afrikane in die besonder en swartmense in die algemeen van politieke, ekonomiese en kulturele onderdrukking. Verder behels dit die opheffing van die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners, veral die behoeftiges. In plaas van bestendige bestuur is dit die Nasionale Demokratiese Revolusie wat die stryd verteenwoordig om hierdie doelwitte te bereik.

Die ANC het enersyds ten doel om ‘n nierassige samelewing te skep en andersyds ‘n agenda om veral swartmense te bevoordeel.  Hierdie doelstelling maak vir die meerderheid Suid-Afrikaners baie sin. Die proletariaat is sodoende vry van onderdrukking, terwyl hulle die enigste groep is wat ‘n posisie beklee om mense aan te stel wat ander groepe kan onderdruk.

Minderheidsgroepe, soos die Afrikaner, se tale en kulture moet gereeld tweedeviool speel wanneer die meerderheid se beste belange bevorder word. Hierdie verskynsel kom veral voor by universiteite en in die werkplek waar minderhede nie daadwerklik aanspraak kan maak op hul taal- en kultuurregte nie. Die resultaat is die verarming en selfs die uitmergeling van minderhede se tale en kulture.

In 1965 het die “Congress of the People” die Vryheidsmanifes aanvaar. Die Vryheidsmanifes is vandag nog die basiese beleidsdokument van die ANC. In hierdie dokument staan daar swart op wit geskryf dat alle nasionale groepe gelyke regte sal hê, dat almal gelyk voor die reg sal wees, dat daar vir almal huise, sekuriteit en gerief sal wees en dat die deure van onderwys en kultuur altyd oop sal wees. In kort – hemel op aarde.

Dit skyn nuwe lig op die huidige staatspresident van Suid-Afrika se visie dat die ANC sal regeer “tot Jesus eendag kom”. Meer as elf en ‘n half miljoen mense is dit eens met pres. Zuma. Desnieteenstaande is byna ‘n tweederdemeerderheid, oftewel 65,9%, van al die Suid-Afrikaners wat in 2009 gestem het, duidelik nie gereed vir Jesus se wederkoms nie. Hulle gaan waarskynlik ook nooit wees nie en sorg derhalwe vir ‘n skuiwergat in die sisteem wat nog talle nasionaal-demokraties-revolusionêre stryders uit hul “House of Revolution” gaan oplewer.

Stryders van hierdie aard is geneig om despote te word, soos pres. Zuma se kollega anderrkant die Limpopo  en vele ander soortgelyke tiranne al keer op keer bewys het. Die taal en kultur van minderhede word altyd ondergeploeg wanneer vyandige stryders seggenskap oor die lot van minderhede bekom, veral as hierdie minderhede as vet koeie geag word. So klim die maer koeie een na die ander uit die rivier uit.

Machiavelliaanse drogbeelde

As jy ‘n glanskoei is, of in ‘n minderheidsgroep gebore is het jy blykbaar niks om te vrees nie. Die Vryheidsmanifes en die grondwet van die Republiek is daar om jou te beskerm. Jou lewe, taal en kultuur is veilig. So staan dit geskrewe. Papier brand mos nie.

Blaas nou so hard as wat jy kan op jou vuvuzela om jou dankbaarheid uit te basuin. Praat Engels waar jy ook al  gaan, of nog beter, plaas die kinders sommer in Engelse skole! Waai die reënboogvlag met trots en gooi jou pêrels voor die swyne terwyl jy koes vir al wat jy werd is vir bloedbelope pangas wat op jou volk neerdaal. Dit is wat van jou verwag word, en regtig, die minste wat jy kan doen is om saam met die res stroomaf te swem. Waarheen hierdie stroom vloei is nie ter sake nie want sulke vrae is onpatrioties.

‘n Benarde koukus van klopdisselboomhuigelaars hang ad nauseum leuen na leuen aan die groot klok en bewys daagliks dat die menslike naïwiteit ‘n waardevolle instrument is wat effektief aangewend kan word om ‘n volk op sy knieë te dwing.

Die fanatiese voorstanders van die nasieboukultus het dit vermag om ‘n nuwe identiteit te skep waarin ‘n wesenlike deel van hul volgelinge meer as bereid is om hul taal, kultuur en tradisies van oorsprong meedoënloos te smaad. Dít ter wille van ‘n illusie betreffende transformasie en integrasie met ‘n multikulturele samelewing wat buitengewoon hoë getalle moordenaars, verkragters, dwelmverslaafdes, beroepskriminele en pedofiele huisves.

Vergeet van jou volk, Mevrou, laat vaar jou Afrikanerskap, Meneer – hier staan ons vir een nasie, een toekoms!

Ontnugtering: “Toe het ek wakker geskrik”.

Op ‘n berg bo die Paarl staan die woorde “Dit is ons erns” in ‘n rots gegraveer op die paadjie wat lei na een van slegs twee monumente ter wêreld wat aan ‘n taal toegewy is. Albei monumente is deur die Afrikanervolk opgerig, een in 1893 te Burgersdorp en die ander in 1975 in die  Paarl.

Dat die Afrikaner die enigste volk op aarde is wat sy taal eer betoon deur monumente daarvoor op te rig, kan net as uniek beskryf word. Waar is daardie trots heen? Wie is besig om die maer koeie toe te laat om ons erfenis te vreet? Genoeg is nou genoeg.

Afrikaans is ons moedertaal, die taal waarin ons leer lag het, leer dink het en leer leef het. Dit is die taal waarin ons mense se gevoelens verstaan het en op iemand verlief geraak het. Afrikaans is deel van ons wese as mens.

Ons het reeds ‘n pragtige kultuur en geskiedenis wat talle heldhaftige mans en vroue opgelewer het, waarna ons jeug kan opkyk. Daar is baie volkseie skole waarheen ouers hul kinders kan stuur waar hierdie kennis nie van ons jongmense ontneem word nie.

Dit neem oneindig baie geskiedenis om net ‘n bietjie tradisie te kan hê. Sonder tradisie is kultuur so oppervlakkig soos ‘n viswyf se grappe. Wees dus trots op die tradisies wat eie is aan die Afrikaner en leef jou kultuur ten volle uit sodat dit behoue kan bly vir die nageslag.

Bevryding

Taal en kultuur in die nasionale konteks is ‘n eklektiese sinergie van die land se diverse bevolkingsgroepe, hul onderskeie identiteite en uiteenlopende etniese verwantskappe. Hierdie sinergie het bewys dat die kool die sous nie werd is nie. Die hebsugtige maer koeie en die huigelaars met hul bedenklike drogbeelde sal nie toegelaat word om verder verwoesting te saai nie.

Die taal, kultuur, geskiedenis, tradisies en erfenis van die Afrikaner sal veilig wees mits ‘n wesenlike deel van die volk selfbeskikking oor hul eie instellings verkry. Heelwat Afrikaners is bereid om hierdie instellings met eie arbeid binne ons eie territoriale entiteit op te rig. Orania is ’n tasbare bewys dat dit vir die Afrikaner moontlik is om ons onafhanklikheid stelselmatig en vreedsaam te herwin. Bevryding vir die Afrikaner sal plaasvind binne ‘n federale Suid-Afrika as dit moet, of ‘n soewerein onafhanklike Afrikaner Republiek as dit kan.

“Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly. Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.” C.J. Langenhoven

Quintin Diederichs is ‘n jong sakeman en aktivis vir Afrikanervryheid. Hy het suksesvolle besighede op Orania gevestig en is daadwerklik betrokke met ontwikkeling in die Afrikanertuiste.

Carel Boshoff IV op kykNet saam met Rian

Prof. Carel lê ’n hoeksteen

Orania gons van al die ontwikkeling wat op die oomblik plaasvind.  Waar jy kyk is daar bouspanne fluks aan die werk.  Elke gebou wat opgerig word is vir ons ’n positiewe stem dat ons besig is met die regte ding.  Ons werk aan ’n verdienstelike saak!

Orania is ’n ou Waterwese-dorp en daarom is die meeste bestaande geboue dus voorafvervaardigde geboue.  Christiaan van Zyl, ’n Orania –argitek en bekend vir sy groengeboue, pleit reeds geruime tyd vir ’n boustyl wat Afrikanerkultuur weerspieël.  Dié idee is die afgelope tyd aangeneem toe Rikus van Staden, ’n ontwikkelaar in Orania, twee pragtige Karoo-huisies gebou het.

Prof. Carel Boshoff het die afgelope week by dié idee aangehaak toe hy op sy eiendom, wat net skuins oorkant die twee Karoo-huisies lê, die hoeksteen gelê het vir sy eie Karoohuisie.  Sy seun Carel Boshoff(iv) het hom gehelp om die plan te konseptualiseer en die idees oor te dra aan Christiaan van Zyl wat die ontwerp behartig het.

Met ’n sin vir seremonie is die hoeksteen vir sy huis deur die twee en tagtigjarige vader van Orania gelê terwyl Carel (iv) en Carel (v) teenwoordig was om stene aan te gee.  Prof. Carel het die versugting uitgespreek dat hy in sy nuwe huis omring sal wees van al sy geliefde boeke.  Sy enigste vrees is dat daar nie genoeg ruimte sal wees vir al die boekrakke wat hy benodig nie!

Orania het tans ongeveer agt bouspanne wat voltyds bou.  Dit was egter nie altyd so nie.  Afrikaners het oor die afgelope jare toesighouers geword en die bou-vaardigheid het onder ons mense verlore gegaan.  Dit het ’n sensitiewe afhanklikheid van ander volkere geskep om in ons behoeftes te voldoen.  ’n Volk wat ’n afhanlikheid van ander volkere het, kan nooit vry wees nie.

In Orania se beginjare het bouery met tandeknersprobleme gepaard gegaan.  Meer as een maal is die versoek gerig dat ons maar net vir hierdie één gebou ’n bouspan van buite moes inkry.  Die dorpsvaders het hardnekkig geweier en vasgestaan by die beginsel van eie arbeid.

Negentien jaar later kan ons met trots sê dat Afrikaners in Orania ’n vaardigheid herwin het.  ’n Paar van ons jong bouers het reeds vaktoetse met vlieënde vaandels geslaag.  Nie net kan ons nou in ons eie boubehoeftes voorsien nie, vele jongmanne wat andersins werkloos sou wees, het ’n werk in Orania gevind.  Deur bouwerk kan hulle nou vir hulleself en hulle gesinne sorg.

So word Orania die hoeksteen vir Afrikanervryheid!

Prof CWH Boshoff (82) lê sy nuwe huis se hoeksteen!

Veilige hawe

Dit lyk nog maar rou en oninspirerend, maar binne die volgende twee of drie jaar gaan hier ‘n (tweede) aftree-ontwikkeling staan wat Orania noemenswaardig gaan bevoordeel.

Daar is tans twee aktiewe groeigebiede: aftree-ontwikkelings, en opvoeding.  Ons glo dit verteenwoordig ‘n gesonde balans, en albei het te doen met jongmense: jong skoliere, en jong bouers wat ons eie arbeid verteenwoordig: dit maak ons trots!

Kom kuier gerus oor die volgende maande en hou die vordering dop!

Die eerste fondasies word gegiet