Maandelikse Argief vir Augustus, 2010

Fees van wetenskap en kuns

So lyk 'n trebuchet!

Hierdie jaar vier die Wetenskap en Kunstefees sy tiende verjaardag!  Die aantal kursusse wat aangebied word verhoog elke jaar, en hierdie jaar is ‘n fees van vaardighede en ekspos.  Tradisioneel bestaan die eerste deel uit verskeie kursusse in vaardighede so wyd soos fotografie, toneelspel, wynmaak, ‘n Pastel boekhoukursus, en vele meer.

Saterdag 2 Oktober is daar vele kompetisies, te eet en te drink, ‘n loopbaan ekspo en pret vir elke jong wetenskaplike!

Gaan kyk gerus by www.oranet.co.za en oorweeg om besoek af te lê, al is dit net vir Saterdag 2 Oktober se ekstra groot feestelikheid.

Kom leer beter fotos neem

Kultuurtiere

Die pampoen gaan nie saam nie!

Twee manne van Orania neem op uitnodiging deel aan die Wielefees (Wheels at the Vaal) wat op 4 en 5 September plaasvind.  Kyk gerus hoe hulle self die saak adverteer:

“Die Noordwes-Universiteit  bied elke jaar in samewerking met die Sylviavale Heritage Museum en die Vaal ou Wieleklub die Wheels at the Vaal uitstalling aan. Die uitstalling is die tweede grootste veteraanvoertuiguitstalling en die grootste lewende kultuuruitstalling in die land.

Die uitstalling vind vanjaar plaas op 4 en 5 September op die kampus van die universiteit. Die kampus is in ‘n natuurreservaat  op die walle van die Vaalrivier geleë. Ons kry jaarliks ongeveer 20 000 + toeskouers. Die uitstallings is vanaf 08:00 tot 17:00.”

Gaan kuier gerus vir die manne: die een “bgei vgeeslik” en die ander sal sommer self sê hy kom van Orania af!  Beide gaan interessante aspekte van Afrikanerkultuur ten toon stel.  Laat weet my as hulle hulleself wangedra!!

Brons om haar nek!

Goed gedaan!

Dit was vroeg opstaan vir Corianca Oosthuizen en haar gesin om al teen sewe uur op ’n Saterdagoggend haar slag te toon by die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes in Kimberley.

Corianca, ’n graad 11 leerling aan Volkskool Orania, het as tema gekies Het jy Griep of Slenkdalkoors? Daar was 104 inskrywings deur leerlinge vanuit die Noordkaap.  Leerlinge kon in 24 kategorieë deelneem en Corianca het besluit om aan die Mediese Wetenskapafdeling deel te neem.

Aangesien Slenkdalkoors die afgelope seisoen ’n groot probleem in die Noordkaap was, het Corianca besluit om op hierdie siekte te fokus.  Sy het die ooreenkomste en verskille tussen Slenkdalkoors- en griepsimptome ondersoek.

Die beoordeelaars was beïndruk deur Corianca se kennis van haar onderwerp en het besluit om ’n bronsmedalje om haar nek te hang.

Die glimlagte was groot toe die Oosthuizengesin weer in Orania aankom!

Slenkdalkoors op skou

Mondig op Orania

Die naaste wat Max Walker aan koek gaan kry!

Om ‘n oorbruggingsjaar te doen het ‘n gewilde neiging onder skoolverlaters geword.  Sommige leerlinge gaan werk oorsee, sommige reis ’n tyd lank, ander doen dit graag by doelgerigte en professionele ondernemers.

Een van hierdie “gapreneurs” het reeds die afgelope twee jaar gesorg dat hulle die leerlinge blootstel aan ‘n wye spektrum van menings en vaardighede en maak dan ook ’n draai op Orania.

Hierdie jaar het een van die studente sy 21 ste verjaardag (onbepland) op Orania gevier.  Max Walker van Upington word hiermee dus groot sukses en vreugde toegewens: ‘n volwasse lewe wat op Orania ingelui word staan ’n goeie kans om selfwerksaamheid te ontwikkel!

Die oorgangsstudente besoek die Pekanplaas

Burgervergadering inleiding

Orania Beweging

Inleiding tot die Burgervergadering

7 Augustus 2010

Geagte lede van die Orania Beweging

Ek wil vanmôre ‘n kort en klaar uiteensetting gee van die sentrale uitdaging waarmee die Vryheidstigting/Orania Beweging nou reeds en in die nabye toekoms gekonfronteer gaan word.  Daarmee hoop ek om ook ‘n vrugbare agtergrond vir ons twee uitgelese gassprekers en ander besprekings van die dag te skep.  Dit hou verband met wat ‘n mens as ons visie of ‘groot plan’ kan beskryf.

In ons Beweging se kort geskiedenis het ons, oorhoofs gesien, die volgende uitdagings die hoof gebied:

  • By die oprigting van die Afrikanervryheidstigting in 1988 was die uitdaging om aan die gedagte van Afrikanerselfbeskikking in ‘n volkstaat ‘n realistiese en volhoubare gestalte te gee, in besonder met betrekking tot die demografiese werklikhede en politieke veranderinge wat besig was om hulle in Suid-Afrika te voltrek.  Dit het ons gedoen deur ‘n omvangryke gebied in die Noordwes-Kaap en selfs ‘n die Suidelike deel van die destydse Suidwes-Afrika aan te wys as gebied waarbinne ‘n volkstaat afgebaken, ontwikkel en bevolk moet word.  Nodeloos om te sê dat die gebrek aan populêre ontvangs geen vinnige verwesenliking van die destydse plan teweeg gebring het nie, maar dat die onderliggende realisme van dié aanspraak aan die volkstaatgedagte nuwe geloofwaardigheid gegee het.
  • By die versnelde pas van politieke verandering wat in die laat tagtiger- en vroeë negentigerjare wêreldwyd én in Suid-Afrika posgevat het, was die uitdaging om hervestiging en ontwikkeling met die oog op Afrikanerselfbeskikking prakties in werking te stel en seker te maak dat dit nie tot blote wensdenkery beperk bly nie.  Dit het ons gedoen deur die verlate konstruksiedorp Orania van die Departement van Waterwese te koop, te betrek en te begin ontwikkel.  Ook hiervan het ons al gesê dat dit nie so vinnig of omvangryk was as wat ons aanvanklik gehoop het nie, maar dat dit die gedagte konkreet beliggaam het, selfs toe baie Suid-Afrikaners nog nie geglo het dat die ANC ontban sou word nie.
  • By die herskepping van die Suid-Afrikaanse staat gedurende die negentigerjare was die uitdaging om die volkstaat as deel van ‘n nuwe grondwetlike bedeling aan te bied en in te sluit.  Dit het ons gedoen deur toonaangewend deel te neem aan die mobilisering van Afrikaners rondom politieke selfbehoud ten aanskoue van onafwendbare magsverlies, sowel as wandelgangbevordering van die gedagte by die grondwetlike onderhandelings wat plaasgevind het.  Hiervan was die vrug dat die volkstaatgedagte oor ‘n breë front onder Afrikaners inslag gevind het, hoewel met wyd uiteenlopende bedoelings, en dat grondwetlike onderhandelaars erkenning aan die volkstaatgedagte begin gee het.  Hoewel die Vryheidstigting se bydrae hiertoe nie te versmaai was nie, moet ons in aanmerking neem dat politieke rolspelers en partye op hierdie stadium die hoofrolspelers was en ons tot ‘n beperkte mate vir die sukses of gebrek daaraan verantwoordelik was.
  • By Afrikaners se bevestiging van die ‘nuwe Suid-Afrika’ soos uit hulle ondersteuning aan opposisie- eerder as alternatiewe politiek rondom die eeuwending sou blyk, was die uitdaging om selfbeskikkingspolitiek en Orania as uitdrukking daarvan op ‘n aanvaarbare wyse aan te bied en nie as ‘n agterhaalde denkbeeld van sy geloofwaardigheid te laat beroof nie.  Dit het ons gedoen deur op Orania as gevestigde en groeiende gemeenskap en op die meriete van plaaslike ontwikkeling en selfstandigheid te fokus en dit as ‘n model van selfstandigheid eerder as afhanklikheid van vreemde besluitnemers te vestig.  Hoewel Orania gedurende die tyd steeds aan negatiewe stereotipering onderwerp is, het dit afgeneem en is Orania toenemend as ‘n legitieme deel van die Suid-Afrikaanse verskeidenheid beskou.  Konsepte soos afskeiding en soewereiniteit is in die tyd teruggehou en heroorweeg en mettertyd met nuwe inhoud weer in die openbare domein geplaas.  Intussen is die groei en ontwikkeling van Orania en die Orania Beweging self bevorder en het ‘n nuwe geslag leierskap op verskeie fronte na vore begin tree.

Tans is alle aanduidings daar dat die hele Suid-Afrikaanse projek besig is om ‘n nuwe wending te neem en dat Afrikaners wat Orania voorheen nie as alternatief oorweeg het nie, besig is om ontnugter te raak en dit begin heroorweeg.  Hierby is dit kostelik hoe naby ‘linkse’ en ‘regse’ politieke opponente se onderliggende sienings aan mekaar gelê het.  Beide het op ‘n manier gedink dat die regime-verandering wat Suid-Afrika beleef het, die emosionele band met en aanspraak op hulle historiese vaderland nie sou afwater nie.  Vir sommige was dit ‘n kwessie van tyd en strategie om beheer te herwin, vir ander was dit ‘n kwessie van werkswyse om hulle kennis en ervaring sodanig in te span dat hulle nie ooglopend in beheer hoef te wees om sake na hulle sin te skik nie.  Op verskillende maniere het beide nog van ‘n diepgesetelde verbintenis aan Suid-Afrika uitgegaan.  Hierdie stelling moet in werklikheid nie in die verlede tyd gemaak word nie, want tot ‘n groot mate is dit steeds so, alhoewel dit my punt is dat dié verbintenis redelik algemeen ontwrig is.

Die twee gebeurtenisse wat hierdie ontwrigting simboliseer, wat as’t ware die ondenkbare verteenwoordig aan die hand waarvan Suid-Afrika vreemd en anders geword het, is die verkiesing van die korrupsieverdagte, tradisionalistiese en poligame mnr Jacob Zuma tot President en die moord op die AWB-leier, mnr Eugene Terreblanche, op sy plaas by Ventersdorp.  As mens daarop terugkyk, kan nie een van die twee gebeure as heeltemal onverwags beskou word nie, maar dalk is dit juis daarom dat dit so ‘n gevoel van vervreemding en ontreddering onder Afrikaners veroorsaak het.  Die houdingsverandering wat hiermee op ‘n dieper vlak ingetree het en wat deur massa-emigrasie en onttrekking voorafgegaan is, is ook nie deur pogings tot gesindheidsverandering wat die suksesvolle sokker wêreldbeker meegebring het, omgekeer nie.

Die punt is eenvoudig dit: dat die Afrikaner as ‘n nasionale kultuurgemeenskap kennelik nie meer oor die instrumente beskik om in die huidige Suid-Afrikaanse staatsbedeling te floreer nie en dat Afrikaners dit toenemend besef.  Intussen is Orania as ‘n simbool van alternatiewe, selfstandige denkwyses en praktyke gevestig, as ‘n konkrete werklikheid wat bewys dat iets anders steeds moontlik is.  As sodanig neem die erkenning en aanvaarding wat Orania geniet toe en dit vertaal in versnelde groei en ontwikkeling.  Die uitdaging waarvoor ons as die Afrikanervryheidstigting, as die beweging waarvan Orania die speerpunt is, nou te staan kom, is  om Afrikanervryheid in ‘n gebied wat deur Afrikaners bewoon en bewerk word, as ‘n nasionale strewe aan te bied; om oor ‘n breë front eienaarskap daarvan te bevorder omdat dit ‘n sleutelstrategie is waarsonder die ander pogings om die Afrikaner se toekoms te verseker, nie volhoubaar gaan wees nie.

Dit is ‘n enorme uitdaging, een waarop ons hele aanloop afgestem was en waarvan mens as’t ware uit die staanspoor gevra het: wanneer sal die tyd daarvoor ryp wees?  Met die oog op die bespreking wat moet volg, wil ek drie belangrike kwessies uitlig.  Dit doen ek met die versterking van Orania se ontwikkelingsvermoë en met die toetrede van nuwe en bekwame personeel tot die Orania Beweging as gegewe.

  • Eerstens die vraag: hoe dra ons ‘n gedagte wat reeds bekend is en waarvan tallose mense wat dit behoort te ondersteun, hulleself tot dusver op ‘n afstand gehou het, opnuut in die gesprek oor ons toekoms in?  Hoe kry ons die perde om nou te spring waar hulle nog elke keer vasgesteek het?  Hoe vertaal ons ons appèl tot die breë Afrikanergemeenskap vanaf ‘aanvaar ons’ na ‘ondersteun ons’?
  • Tweedens moet ons die studieveld wat in die eerste plek tot SABRA se volkstaatgedagte en tot die Vryheidstigting se gebiedskeuse aanleiding gegee het, opnuut ontgin.  Demografie is ‘n studie van die verspreiding van bevolking oor tyd en namate Afrikaners hulleself al meer as ‘n magtelose minderheid in Suid-Afrika ervaar, moet die gedagte dat Suid-Afrika nie die enigste institusionele raamwerk hoef te wees nie, opnuut aangebied word.  Nuwe verantwoording van Afrikaners se getalle, verspreiding en verwagtings, asook van die gebied waarop ons ons pogings afstem, moet weer onderneem word.
  • Derdens moet ons met ‘n eenvoudige saak tot grepe kom.  Orania as nedersetting kon in die verlede en kan in die toekoms tot ‘n baie hoë mate uitsluitlik deur Afrikaners bevolk word.  Dit moet as sodanig uitgebou word en groei en dit moet as ‘n vastrapplek dien.  Daarom dat ons Orania nie as bloot ‘n dorp of klein stad in die vooruitsig stel nie, maar as ‘n selfstandige stad, as ‘n stadstaat.  Daar is egter genoeg rede om te sê dat dit nie genoeg is nie en daar is baie mense wat aanvoer dat ‘n groter gebied ontwikkel moet word.  Die vraag wat in dié geval beantwoord moet word en wat deur die lokale fokus van die afgelope jare op die agtergrond geskuif is, is óf en wát ons vir ‘n groter gebied (tot aan die Weskus was ons vroeë aanduidings) se gegewe nie-Afrikanerbevolking in die vooruitsig stel.  Dat ons nie die herinstelling van apartheid beplan nie, kan as gegewe aanvaar word, maar is ‘n wit-bruin alliansie in die toekoms, soos die alliansie tussen Afrikaners en Engelse in die verlede, lewensvatbaar?  Die punt is dat ons daarsonder van ‘n wesenlik groter gebied sal moet afsien, maar dat ons daarmee baie deeglik sal moet besin oor hoe om nie ‘n voetnota van ons eie inisiatief te word nie.

Vriende, met hierdie opmerkings hoop ek om die vergadering vandag en die bespreking wat mag volg, voldoende in te gelei het.

Ek dank u

Carel Boshoff (iv)

President van die Orania Beweging

Orania

Afrifiksie vir Afrikaans!

Orania is ‘n dorp met vele fasette.  Een daarvan is ons eie, unieke en mooiste taal:  Afrikaans!  In hierdie mooi taal maak ons soms eie, unieke, Orania-Afrikaanse woorde.  Een daarvan is die woord uitwoner.

’n Uitwoner, so lui ons definisie, is iemand wie se hart reeds in Orania is, al kan hy of sy nog nie in Orania woon nie.  ’n Mens kom gou agter as iemand ’n uitwoner is, want hulle is sigbaar betrokke.  ’n Mens hoor van hulle, hulle maak planne vir Orania en hulle maak planne om die planne uitgevoer te kry.  Uitwoners is nie mense wat sê:  Julle moet… nie.  Uitwoners is mense wat saam met Oraniërs verantwoordelikheid neem om te doen wat gedoen moet word!

Een van Orania se mees aktiewe uitwoners is Gerhardus Thompson wat tans in Taiwan woon.  Gerhardus is op verskeie terreine in Orania betrokke, maar een van dié wat hy met sy hele hart aanpak is om wetenskapfiksie in Afrikaans te bevorder.  Daarom bied hy jaarliks ’n Afrikaanse wetenskapfiksie skryfkompetisie aan.

Die kompetisie het pas weer ten einde geloop en die wenner van vanjaar se Thompsom-toekenning is Franscois de Vos met sy verhaal Hades.  Francois wen ook vyfhonderd ora (R500).  John Strydom het die tweede plek verwerf met sy verhaal Nagevolge van navorsing oor die gebruik van genetiese manipulasie.

Die volgende ronde van die kompetisie het reeds weer begin en Gerhardus wag gretig op inskrywings.  Meer inligting is beskikbaar by www.afrikfiksie.co.za

Spring sommer nou weg en kry daardie verhaal wat al so lank in jou kop draai, op papier!

Francois de Vos en Klein Reus

Ou wortels

Soms vergeet mens waar Orania oorspronklik vandaan kom: die dorp is deur die Departement van Waterwese gebou as ‘n konstruksiebasis vir hulle kanaalbouers (in die sestigs van die vorige eeu). Daar moes soms weë gebaan word omdat die kanaal vryvloeiend sou wees, en springstof was nodig.  Daarvoor moes ‘n magasyn gebou word, en die kenmerkende vorm is deesdae ‘n algemene stoor op die terrein van ons begraafplaas.

Die magasyn

Afri-skerp!

Soos elke jaar vier Orania weer hierdie jaar Taaldag (14 Augustus).  Daar is egter een verskil: nuwe bloed!

Die fees heet nou “Afri-skerp” en behels  “kuier rondom Afrikaans, musiek, koffie en koek”!  Dit neem om 5 nm ‘n aanvang, en die prettigheid vind in die Gemeenskapsaal plaas.  Opvoerings deur ELIM en ons  skole, asook ‘n pittige Afrikaanse film is op die agenda.

Let daarop dat Taaldag een van Orania se amptelike vakansiedae is.

Skakel 053 2070 045 of  072 075 0489.

Die beste nuus is dat dit gratis is!

'n Vorige jaar se Taaldagpret!