Volg die skakel hieronder na die Orania Dorpsnuus van
Maandelikse Argief vir Oktober, 2010
Ondersteuners vra gereeld dat ons meer gereeld nuus moet deurgee. In wese ‘n billike versoek, maar hier gebeur soveel dat mens selde genoeg tyd aan die weergee van gebeure kan spandeer. Daar gebeur natuurlik ook nie daagliks interessante dinge nie-daar is heelwat roetinewerk wat gedoen moet word voor ‘n gebou of besigheid sigbaar raak!
Soos ons voorheen berig het, is die ontwikkelingsplan tans in uitvoering, met veral die grondgebruikskema wat tans goedgekeur moet word (dws die “sonering” vir verskillende tipes bedrywe of geboue). Daarna moet die massadienste aangekoop en geplaas word (riool, paaie, water en dies meer), en slegs daarna kom die indrukwekkende gedeelte!
Die foto hieronder is van ‘n nuwe fabrieksgebou waaroor ek hopelik eersdaags meer sal berig. Daar is ook weekliks ondernemers wat uitasem-opgewonde kom vertel van hulle planne! Nie almal sal gebeur nie, maar ‘n hele klomp wel.
Oktober is ‘n besielende tyd vir pekanboere wanneer die stuifmeel begin “stoot”!
Dit is egter ook ‘n besige tyd omdat die bome ‘n groot sinkbehoefte het, en dit as blaarvoeding toegedien moet word op net die regte tyd: koel, windstil tye kom gewoonlik soggens, saans, en dikwels net snags voor, en dit beteken dikwels spuit tot nanag, of soms selfs deurnag.
Vars pekans is uitmuntende “breinkos”: die olies is uiters gesond en veral goed vir jong kinders wie se breine groot persentasies olie bevat van dieselfde tipe as wat in pekans voorkom. Dis ‘n winskoop teen enige prys.
Die foto hierbo speel homself daagliks op vele plase in die RSA af: ‘n boer wat die omgewing, natuur en sy talente inspan om kos te produseer. Hy is in meeste gevalle passievol oor sy beroep, ingelig oor die nuutste tegnologie, navorsing en gewasse, en werk gemiddeld langer ure as meeste ander mense.
Daar is egter ‘n paar verskille. Die eerste is dat Oraniaboere weerstoestande trotseer wat min ander ooit ervaar: temperature van in die 40 grade C, droogtes en storms wat sy moed kan breek, ryp in die winters, en baie lae lugvog. Dit kan nog gaan, maar wat tans deur die RSA regering beplan word, maak boere baie bekommerd.
Maar die heel grootste POSITIEWE verskil is natuurlik Orania se beleid van eie arbeid. Glo my vry as ek die stelling maak dat hierdie enkele faktor die moeilikste is vir die gemiddelde RSA inwoner om te glo: dat eie arbeid vry maak. Dit is onbeskryflik om te verstaan dat mens nie afhanklik hoef te wees van iemand anders om arbeid te verrig nie; om self te proe hoe “werk” proe; om self sukses te behaal; om self te sien hoe groei dit wat JY geplant het.
Persoonlik is ek ‘n oortuigde “eie arbeid” aanhanger, en ek glo vas dat kleiner gemeenskappe, arbeid uit eie gemeenskap, en die krag van denke die toekoms help vorm.
Kyk maar hoe rustig lê die klein steenbokkie voor die trekker: meer bekommerd oor die fotograaf as die lawaai!
Neem deel aan Orania Beweging se fotokompetisie en wen vet pryse! Verken Orania deur ‘n kameralens en stuur vir ons jou mooiste foto’s.
Foto’s in die volgende kategorieë sal oorweeg word:
- Vakansiefoto’s, mag ook natuurfoto’s insluit
- Arbeidsfoto’s
- Kunsfoto’s, dit kan byvoorbeeld geposeerde foto’s wees wat relevante idees soos Vryheid uitbeeld
Reëls:
- Jy kan soveel foto’s instuur as wat jy wil.
- Foto’s moet ge-epos word na: redakteur@orania.co.za
- Stuur slegs een foto per e-pos.
- Die resolusie van die foto’s moet nie minder as 6 megapixels of 300 dpi wees nie, maar nie groter as 2 Megagrepe nie.
- Die foto’s MOET in Orania of onmiddellike omgewing geneem wees.
- Die Orania Beweging behou hom die reg voor om ingeskrewe foto’s sonder vergoeding vir publikasie of die druk van poskaarte te gebruik.
- Die sluitdatum is 15 Januarie 2011.
- Indien foto’s nie aan die vereiste standaard voldoen nie, sal die pryse nie toegeken word nie.
- Stuur die foto saam met jou naam, adres, e-posadres en selfoonnommer. Stuur ook ‘n kort beskrywing van die foto, sowel as die datum waarop die foto geneem is en in watter kategorie jy wil deelneem.
- Die wenners sal teen 31 Januarie 2011 op hierdie webwerf bekend gemaak word.
Pryse
Een wenner sal ‘n algehele eersteprys ter waarde van 2000 Ora wen.
Daar sal ook in elkeen van die afdelings, nl vakansie-, arbeids- en kunsfoto’s ‘n wenner aangewys word wat elk ‘n kontantprys ter waarde van 500 Ora sal ontvang.
Die bekende skrywer RW Johnson het die afgelope naweek ‘n in-diepte artikel oor Orania in die gesaghebbende Britse koerant, die Sunday Times, gepubliseer. Johnson het Orania onlangs besoek om navorsing vir die artikel te doen en ‘n bekende Amerikaanse fotograaf het die foto’s geneem. Die artikel is oor sewe bladsye in die Sunday Times se tydskrif gepubliseer.










