‘n Natuurlike benadering hoef nie noodwendig swakker opbrengste te lewer nie. Hierdie nektariens word NOOIT met chemiese middels bespuit nie, en lyk nie of hulle kla nie!
Maandelikse Argief vir November, 2010
Orania se benadering om natuurlike stelsels te bevorder het ook voordeel vir vee: om vrugte onder bome te laat lê bevorder vrugtevlieg oorlewing, en daarom is diere wat die vrugte benut ‘n voordeel. As hulle egter TE lekker eet aan appelkose wil jy nie weet hoe lyk die spoor agter hulle nie!
Toerisme en landbou: dis ons twee huidige ekonomiese pilare. Suid-Afrikaanse boere word wêreldwyd beskou as van die beste. Hoekom sou dit wees?
In Orania se geval is daar druk om arbeid beter te bestuur, en meganisering is een moontlikheid.
Met die plant van hierdie mielieland word ‘n belangrike beginsel bewys: ons omwoners is vir ons goud werd, en as hulle inkoop op ons arbeidsbeginsels, het ons veel om te waardeer! Ons grond is nog te min om gesofistikeerde masjinerie aan te koop, en daarom is hulp en raad van buite onontbeerlik.
Kyk op die foto onder hoe word kunsmis in die planter gestort.
Nadat die kunsmis en saad in die planter gelaai is, begin ‘n proses van kalibrasie om die korrekte hoeveelhede per Hektaar te bepaal. Dan is dit kouters in die grond laat sak en laat waai!
Dan volg ‘n belangrike aspek:
Al is daar elektroniese monitors in die trekker, word ‘n ry pitte oopgegrawe om die plant interval, diepte en konstantheid na te gaan. As alles in orde is, word geplant tot die monitor skree!
Dalk is dit wat ons boere bekwaam maak: beplanning, kennis, hulp aan en van mekaar, goeie toerusting, bestuur en monitering? En dan nog die beginsel van volhoubaarheid en natuur bewaring!
‘n Pasgebore Steenbokkie wat in die land weggekruip het, kon gelukkig betyds gered word!
Hierdie Perdekapelaan is ‘n besondere kêrel! Sy groot liefde van kleintyd af was perde. Hy het in sy laat skooljare van ‘n perd afgeval en ernstige skade opgedoen. Na lang hospitalisasie is hy ontslaan met die gebruik van sy regterarm feitlik geheel verlore, en sy regterbeen swak, maar die eerste wat hy wou doen is terug na sy perde!
Hy het skool voltooi, kursusse geneem wat sy vaardigheid met perde verbeter het, en noem homself nou Perdekapelaan omdat hy perde leer. Hy bedryf ‘n klein melkery hier en maak jogurt. Baie van sy werk, soos byvoorbeeld draad span, doen hy self!
Onder is ‘n foto van nog ‘n hartseer geval: hierdie skilpad het onder die lusernsnyer beland. Ek het groot manne en geharde boere al bewoë gesien as hulle per ongeluk ‘n skilpad of Steenbok raaksny.
Nuwe tegnologie maak dit moontlik om permanente kameras op te stel wat op bepaalde tye fotos kan neem en via internet beskikbaar te maak vir publikasie op webwerwe. Dit is tegnies selfs moontlik om intydse videomonitering so beskikbaar te maak.
Waar sou jy so ‘n kamera (webkamera of “webcam”) in Orania wou laat monteer sodat jy elke dag kan kyk wat aangaan?
Hierdie pragtige jong skaaphondjie se toekoms hang nie net van homself af nie: hy kan ‘n goed versorgde, arbeidsbesparende ster word met insette van buite, of hy kan ‘n rondloperhond word wat skape snags doodbyt, of selfs ‘n maer straatbrak wat moet steel om te oorleef. Hy sal verseker sy deel doen om lewend te bly, maar sy kwaliteit van lewe word deur faktore buite homself ook bepaal.
Sy baas het pas Orania toe getrek en is besig om ‘n klein melkery in te rig. Ook hy is tiperend van ‘n proses waar Afrikaners gedwing word om self verantwoordelikheid te neem: sy melkery is ‘n eie besigheid en dus sy risiko. Dit kan oor 10 jaar ‘n pragtige melkery wees, of ‘n sukkelende oorlewingstryd, of selfs ‘n statistiek. Hy is vasberade, maar verseker sal faktore en insette van buite ook ‘n invloed hê. Hoeveel verantwoordelikheid het EK EN JY?
‘n Ondersteuner van Orania huisves hawelose Afrikaners gratis, maar het ‘n tekort aan verblyf. Omdat dit nou somer is, is tente tydelik geskik vir hierdie doel. As u dus ‘n 4-6 man tent van verkieslik duursame materiaal het wat u nie gebruik nie, en kan skenk of goedkoop beskikbaar kan maak, sal ek bly wees as u my sal laat weet by inligting@orania.co.za . Hierdie is nie ‘n amptelike Orania projek nie, maar ons bemiddel graag hierdie versoek.














