Maandelikse Argief vir Januarie, 2011

Nuwe vloedhoogte

Water onder die hotel

Nadat vloedwaters aanvanklik afgeneem het, het dit hierdie naweek weer toegeneem na groter hoogtes as drie weke gelede. Volgens buurboere het dit nou die 1988 vloedvlakke oorskrei. Alhoewel Orania se skade nog bepaal moet word, is dit klein in vergelyking met boere rondom Orania: ek glo dat die direkte skade aan pompe reeds in die miljoene Rande is. Indirekte skade weens versuipte lande, of gewasse wat skade ly omdat nie besproei kan word nie, sal mettertyd duidelik word.

Kom ons swem restaurant toe

Hier kan gesien word hoe die watervlak raak aan die balke onder die restaurant se vloer: op hierdie stadium lyk dit of skade beperk is tot ‘n insakking van ongeveer 100mm.

Alternatiewe energie

Die begin van die operasie

‘n Hele paar inwoners het al, of is besig om alternatiewe energiebronne te begin gebruik. Sonselle is die algemeenste kragbron, maar die derde windlaaier het hierdie naweek verrys!

Die opwekker word opgehys

‘n Inwoner het besluit dat sy klein laaier so goed werk, dat hy ‘n groter model wil byvoeg. Dit word algemeen aanvaar dat Orania se wind nie voldoende is om windkrag lonend te maak nie. As die laaier egter hoog genoeg monteer kan word, is dit minstens ‘n aanvullende bron vir wanneer die son nie skyn nie.

Nou nog net vasbout

Met die bestaande laaier in die agtergrond word die nuwe model op sy plek bevestig.

Die tweede lem word bevestig

Ons sal gaandweg verslag doen oor die doeltreffendheid van hierdie model. Tegnies kan dit net meer as 1 Kw opwek onder sterk wind.

Eie arbeid ons sterkste pilaar

Diagnose in die donker

Dit gebeur soms dat onbeplande dinge gebeur. Wanneer landbouwater probleme gee kan warm humeure nie afgekoel word nie, en moet die Klein Reus uitspring. Laat daar nie die geringste twyfel oor wees nie: een van Orania se belangrikste pilare is selfwerksaamheid. Die politieke begronding daarvoor is solied, maar in praktyk is dit ook die Afrikaner se Achilles hiel. Ons bring hulde aan veral die tegniese manne wat hiervoor goed staan.

Selfs hooflynfoute maak ons nie bang nie

Kwynend of beurend?

Sonondersake?

Daar is werklik baie mense wat Orania vir verskillende redes dophou. Daar is ook vele menings oor sukseskanse. Is Orania ‘n sukkelende sonondersaak, of ‘n beurende bulletjie? Kwynende kanonvoer of passievolle pioniers? Vlugtende vaalseuns, moedelose Maries, of dalk deurdagte doeners?

As ek na die foto hieronder kyk, sien ek meer as meeste mense. Ek sien die sweet en tydelike depressie, die vasbyt en warmkry, die dink en debatte. Ek sien die mense wat hier gebore en oorlede is, en ek sien veral die wat nou nog hier is. En dan sien ek: “Die droom word waar”…

Nog 20!!

Hou die webwerf dop vir die program van die 20ste verjaardagfees!

Wedstryd fotos nou beskikbaar

Wenner afdeling "kuns" deur F de Vos

Gaan kyk gerus na al die inskrywings vir die 2010/2011 fotokompetisie by http://www.flickr.com/photos/oraniabeweging/sets/72157625769321561/

Ook http://www.flickr.com/photos/oraniabeweging/ kan probeer word. Laat asseblief weet wat julle dink!

Selfoontoring impakstudie

Die bestaande toring teen sononder

‘n Publiede deelnameproses het begin tov ‘n voorgenome selfoontoring naby die Orania museum. Daar sal oa ‘n 3g internetdiens beskikbaar wees, maar intussen kan enige persoon of organisasie met belang by die saak kommentaar of beswaar aanteken by hanri@h2on.co.za. Orania Dorpsraad kan ook geskakel word vir inligting. U moet voor 14 Februarie registreer as u wil deelneem.

Doilie kompetisie

Kan jy beter?

Mens kan byna voltyds leef van hierdie webwerf af: pas is die foto-kompetisie (met groot pryse) afgehandel, of ‘n nuwe neem sy plek!

‘n Ondersteuner het duisende Rande se pryse geborg vir ‘n Doilie kompetisie, en ons maak binnekort meer hieroor bekend: kry solank die patrone uit, en vra vir tant Miem raad: ons wil ‘n GROOT en indrukwekkende kompetisie hiervan maak!

En die wenners is…..

Steen vir steen!

Fokus op Orania: Kompetisiewenners:

Die beoordelaars van ons kompetisie was Charl Oberholster, ’n professionele fotograaf van Vryheid, Koos Gagiano, grafiese kunstenaar van Kimberley en Stephan Pretorius, student in Grafiese Ontwerp van die Noordwes Universiteit. Hulle het alle fotos met nommers gemerk ontvang en kon dus sonder invloed oordeel!

Dit is interessant dat die drie beoordelaars dadelik saamgestem het oor die algehele wenner. Die foto beeld Orania se beleid van selfwerksaamheid baie duidelik uit.  Die fotograaf, Lurina Eyekelenboom-Fourie sê van haar foto: Ek hou van die eenvoud van hierdie foto, omdat dit ’n storie vertel en elkeen wat die foto sien, kan sy eie afleiding maak en sy eie unieke storie vertel.

Die beoordelaars sê: Wat meer kan ’n mens sê? Dit is die toonbeeld van selfwerksaamheid en standvastigheid. Dit dui ook op die voortdurende bou aan ’n beter tuiste vir Afrikaners.  Verder is dit tegnies ’n uitstekende foto.

Seën op Selfwerksaamheid

Die eerste prys in die kunsafdeling word gedeel deur twee foto’s wat al twee deur dieselfde fotograaf, Francois de Vos geneem is. Die twee foto’s vertoon al twee ’n monument met ’n reënboog in die agtergrond. Die een met die Ierse Monument en die ander die monument van die Klein Reus.

Besige vakansieskedule!

Nikke Strydom was die wenner in die vakansiekategorie.  Die beoordelaars se mening oor die foto is: dit vang iets van die lekker niksdoen van vakansie vas.

Dr Ben de Klerk het Fokus op Orania met ’n borgskap vir ons moontlik gemaak. Baie dankie dat ons nou ’n arsenaal van pragtige foto’s het wat ons mettertyd sal publiseer! Ook ons hartlike dank aan die beoordelaars wat besonder flink gewerk het, en Lida Strydom wat die kompetisie bestuur het.

Ons het besondere foto’s ontvang en wil almal vir hulle mooi inskrywings bedank.

Volgende jaar maak ons hopelik weer so: neem intussen gereeld Orania foto’s!

Swem uitslae

Johan Joubert

‘n Plaaslike skolier, Johan Joubert, het vandag deelgeneem aan Hopetown se swembyeenkoms en deurgedring na die Streeksbyeenkoms op de Aar. Hy het aan vier items deelgeneem: hy het eerste plekke behaal in sy ouderdomsgroep in vlinderslag, vryslag en borsslag, en nuwe rekords opgestel in bors- en kruipslag. Hy het ook saam met Ruaan van Dyk, Roedolph Schumann en Wilhelm Schumann tweede ge-eindig in die aflos. Wys jou wat doen reën aan die Karoo!

Tassie-Trappie

Jaco Kleynhans wys die skooltassies se inhoud

Orania CVO-skool het vanjaar 16 Graad 1-leerlinge.

Solidariteit se Helpende Hand maak jaarliks ‘n reuse bydrae tot kinders se eerste skooltreë met hulle “Skooltassies” projek. Ons vergeet dikwels hoe dit vir jong kinders moet voel om iets te ontvang wat net syne/hare is en wat hulle ouers soms nie kan bekostig nie. Ek glo dit is ‘n soort gelykmaker wat jare se selfvertroue kan ontketen!