Maandelikse Argief vir Februarie, 2011

Majuba herdenking 2011

Die Boere op pad na die kruin

Die Slag van Majuba was die finale slag van die Eerste Vryheidsoorlog in 1881. Dit word geag as die enigste oorlog wat die Empire in daardie tydsgreep verloor het, en was ‘n oorwinning vir die reg van etniese groeperings in ‘n tyd van koloniale oorheersing. Hierdie slag word jaarliks as ‘n openbare vakansiedag in Orania gevier, en is hierdie jaar gevier deur mense aan te moedig om die oggend af te skop met ontbyt saam met die bure.

Amptelike gebeure het ‘n vertelling ingesluit deur Sebastian Biehl oor die aanloop tot die slag, en daarna ‘n nagebootsde stormloop teen die hange van “Majuba” uit om die Engelse aan te val. ‘n Video oor die gebeure voor en tydens die Slag van Majuba is daarna vertoon.

Dit is interessant dat 27 Februarie vanjaar weer op ‘n Sondag geval het soos die geval in 1881 was.

Die Vierkleur wapper weer!

Boere en Kakies na die slag. Fotos: Magdaleen Kleynhans

Neute is ons besigheid!

Proe bietjie hier

Orania word toenemend bekwaam in die produksie en hantering van pekanneute, en hier wys een van die verwerkers haar neute aan een van vele hoë-profiel groepe wat Orania in die laaste tyd besoek.

Afskeid van student

Besoekende student (middel in pienk)

‘n Doktorale antropologie student het die afgelope jaar in Orania deurgebring as deel van haar verhandeling oor Orania. Alhoewel ons nog nie weet wat sy oor die inwoners sê nie, het ons haar as baie aangenaam ervaar, en sal haar mis!

Reaksies op die Zuma-artikel in Beeld

Lees Ebert Terblanche, ‘n jong, professionele persoon van Orania se reaksie.

Sebastiaan Biehl, ‘n politieke analis, wat op Orania woon, het ook op die berig gereageer:

Geagte Redakteur

Ek reageer graag op die artikel “Zuma aan Afrikaner: daar is jou tuiste” in Beeld van 17 Februarie 2011.

Dit is baie positief dat president Zuma die Afrikaner se behoefte aan ‘n tuiste verstaan en ons reg om in Afrika as volk met ons eie wese en kultuur te leef bevestig. Dit is ‘n groot verbetering teenoor sy voorganger met sy rasgebaseerde sienings en verwysings na Afrikaners as “settlers of a special kind”.

Nogtans is Zuma se uitsprake nie heeltemal konsekwent nie. Hy erken ons reg op ‘n Nkandla, maar wil dit nie graag fisies sien nie maar eerder virtueel, terwyl hy self baie goed weet dat sy Nkandla net as fisiese plek kan bestaan en nie as virtuele Zulu-tuiste nie: Nkandla het grond waar beeste loop, huise met mense by die deure, dit ruik na iets en jy voel die son op jou vel, jy raak aan die mense en gesels met hulle in jou moedertaal Zulu. Ek het volle begrip dat pres. Zuma tuis voel as Zulu in ‘n outentieke Zulu-omgewing. En Nkandla kan ook nie as Zulu-eiland bestaan nie, dit is ingebed in ‘n uitgestrekte Zululand met talle soortgelyke dorpies rondom.

Dus behoort Zuma te begryp dat die “Nkandla van die Afrikaner” nie virtueel of denkbeeldig kan bestaan nie. Hy het Orania besoek en was beïndruk en het Orania se bestaansreg as kulturele tuiste vir die Afrikaner bevestig. Maar hoekom die vrees vir grondgebied? Die Zulu en die meeste ander swart volke is inherent grondgebonde. Dit verbind hulle aan die Afrikaners, en dit onderskei ons van wit “expats” in Suid-Afrika wat as globaliste lewe en vir wie Suid-Afrika net ‘n tydelike plek vir besigheid is.

Zuma erken self dat jou volkskap en gebondenheid aan jou grondgebied jou nie ontneem van jou groter “Suid-Afrikanerskap” nie. Daarom is dit onbillik van Zuma om die Afrikaners hulle fisiese tuisland te ontsê as hy die bestaan daarvan vir sy eie mense verdedig. Orania is reeds geskep en is hier om te bly. Daar sal ook nog ander Oranias wees, net soos wat daar ook nie net een Zulu-dorp in die land bestaan nie.

Orania, die Afrikaner se Nkandla, moet net soos Zuma se kulturele kragbron en tuisdorp, leefruimte gegun word om tot sy volle reg te kom. ‘n Afrikanertuiste kan nie bestaan uit ‘n voorstedelike veiligheidsbuurt met Afrikaanse straatname, maar die ander vreemde en geglobaliseerde Suid-Afrika daar buite nie. Dit moet nes Nkandla met sy Zulu-omgewing ingebed wees in ‘n Afrikaanse leefwêreld. Orania kan floreer in die Noord-Kaap, wat ‘n Afrikaanse wêreld is en grootliks onaangeraak van globalisering en verstedeliking is. Maar nes daar tientalle ander Nkandlas oor Zululand verstrooi is wat die een Nkandla veilig laat voel, so moet daar meer Afrikanervestigings in die streek wees. Al bestaan Zululand nie meer as aparte politieke eenheid nie, is Zululand ‘n feit en dit is goed so. As ek ‘n Zulu was, was ek nes Zuma trots daarop, al het ek in Kaapstad of Johannesburg gewoon. Net so moet Afrikaners in die stede of die buiteland trots wees op ‘n outentieke Afrikanertuiste en dit help uitbou. Zuma stel vir ons die voorbeeld dat etniese trots en ‘n gevoel van tuiskom na jou eie plek goed en aanvaarbaar is, ook in die nuwe Suid-Afrika. Afrikaners kan dus ophou om hulle te distansieer van alles wat te doen het met Afrikaneridentiteit en -grondgebied.

President Zuma bewys deur onderhoud waarom die Afrikaner ook `n plek moet hê

Mediaverklaring wat op Donderdag, 17 Februarie uitgestuur is.

Laat Orania ons Nkandla wees

Die Orania Beweging het President Zuma se uitspraak vandag in Afrikaanse koerante dat die Afrikaner ook ’n plek moet hê verwelkom en beskou sy verwysings na Orania as ’n teken dat hy besef dat Orania besig is om ’n werklike tuiste vir die Afrikaner in Afrika te word. In die onderhoud noem die President dat hy Nkandla in KwaZulu-Natal as sy tuiste beskou en dat dit die plek is waar hy sy Zoeloe-kultuur gereeld kan gaan beoefen.

Volgens Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, gee Zuma in sy eie woorde die rede waarom Orania die Afrikaner se plek kan wees. “Die President sê dat hy in Pretoria en Kaapstad werk, maar dan Nkandla toe gaan om daar sy taal te gaan praat en tradisionele Zoeloe-danse te gaan doen. Waarom mag die Afrikaner nie ook ’n plek hê waar sy taal, kultuur en tradisies lewendig gehou kan word nie?”

Orania is vanjaar 20 jaar oud en tydens die afgelope 20 jaar is die nedersetting gevestig as ’n tuiste vir Afrikaners. Orania is vandag ’n plek waar Afrikanerkultuur instand gehou word en waar Afrikaner monumente, literatuur en ander kosbare items versamel word. “In Orania is ons trots op Afrikanerskap en leer ons, ons kinders van die Afrikanergeskiedenis, vier ons Afrikanerkultuurdae en leef ons, ons Afrikanerskap daagliks uit. Orania is egter nie net die somtotaal van sy 900 inwoners nie, maar eerder die somtotaal van duisende Afrikaners wat ondersteuners van Orania is en gereeld Orania besoek om weer hul kultuur te kom beleef. Ons is nie onrealisties om te verwag dat alle Afrikaners Orania toe moet trek nie, maar ons weet egter ook dat geen volk kan bly voortbestaan sonder ’n geografiese gebied waar hy die meerderheid is en waar sy taal, kultuur en tradisies die hooftoon voer nie,” sê Kleynhans.

Die Orania Beweging beskou President Zuma se uitspraak dat die Afrikaner se plek egter nie soos Orania ’n eie grondgebied kan wees nie, maar eerder ’n plek in die Afrikaner se kop moet wees, as ’n weerspreking van Zuma se eie standpunt oor sy kultuurtuiste. Dit spreek ook van die regering se vrees dat Afrikaners  juis van iets soos Orania ’n sukses kan maak. “Hoewel die President erken dat Afrikaners ’n plek moet hê, besef hy ook dat ’n groeiende, suksesvolle Afrikanergemeenskap soos Orania deur sy effektiwiteit ’n verleentheid vir die ANC kan word. In die Bo-Karoo streek het Orania se eie munisipaliteit homself reeds as meer effektief as enige omliggende ANC-munisipaliteit bewys en dit sonder enige staatshulp. ’n Groot suksesvolle Orania waarheen meer Afrikaners verhuis kan dus vir die regering ’n verleentheid word. Ons beskou ’n sterk Orania egter as ’n aanwins vir Suid-Afrika omdat ’n sterk Orania ook Suid-Afrika se ekonomie en infrastruktuur kan ondersteun en kan verseker dat Afrikaners wat eerder sou emigreer, wel in Suid-Afrika sal aanbly,” sê Kleynhans.

Orania is juis die Afrikaner se tuiste in Afrika. “Die vrees dat Afrikaners hulself dus deur Orania sal isoleer is onwaar. In Orania waardeer ons al Suid-Afrika se kulture en is ons baie bewus van die wyse waarop baie ander kulture ook bedreig word. Ons besef egter ook dat die Afrikaner nie sal kan bly voortbestaan indien sy geskiedenis, taal, kultuur, tradisies en gewoontes nie aan volgende geslagte oorgedra gaan word nie. Geen volk kan as ’n klein minderheid dit regkry sonder ’n eie grondgebied waar hy dominant is nie.”

President Zuma het Orania verlede jaar op 14 September besoek. Tydens sy besoek was hy verstom oor die effektiewe manier waarop Orania op die platteland met Afrikanerinisiatief, kapitaal en arbeid ’n suksesvolle ekonomie skep. Hy was ook verbaas oor die feit dat Orania se munisipaliteit alle dienste op ’n effektiewe wyse sonder staatshulp aan die gemeenskap lewer. “Al waarvoor ons vra is dat ons die reg gegun word om vir die Afrikaner sy eie tuiste te skep. Indien ons nie soos die Franssprekendes in Quebec in Kanada, die Kataloniërs in die Noorde van Spanje en die Vlaminge in die Noorde van België ons eie geografiese gebied kan kry nie, sal Afrikanerskap noodgedwonge uitsterf. Dit is al oor en oor in die wêreld bewys dat elke volk sy eie plek nodig het, die status daarvan kan na gelang van die unieke stel omstandighede natuurlik verskil en dit is volgens ons al wat nog uitgesorteer moet word.”

Eie munisipale verkiesing

Kandidate voorgestel tydens die 2000 verkiesing

In 1995 het die Orania Verteenwoordigende Oorgangsraad (OVOR) tot stand gekom (dmv ‘n aansoek gedurende ‘n fase waar “oorgangsrade” oral in die RSA gedien het) wat aan Orania ‘n bepaalde vorm van munisipale erkenning gegee het. Via die OVOR het Orania dan ook verteenwoordiging gehad op die destydse Streeksdiensteraad.

In 2000 het die regering egter besluit om ‘n nuwe munisipale bedeling in Suid-Afrika tot stand te bring en Orania is ingedeel by die nuutgeskepte Thembelihle Munisipaliteit (Hopetown, Steynville en Strydenburg).

Die OVOR en die inwoners van Orania se standpunt was deurgaans dat Orania nie deel van Thembelihle wou word nie, maar sy eie unieke munisipale status wil handhaaf. Verskeie voorleggings is deur die OVOR aan die Munisipale Afbakeningsraad en die regering gemaak, maar dit het op dowe ore geval.

In November 2000 raadpleeg die OVOR ‘n senior advokaat oor die moontlikheid van ‘n hofaansoek oor sy status. So ‘n aansoek word op die rol geplaas vir 4 Desember 2000 in die Hooggeregshof in Kimberley, een dag voor die landswye munisipale verkiesing. Die Regterpresident versoek die regspanne van die OVOR  en die regering om ‘n aanvaarbare skikking te vind. Na oorlegpleging word die volgende ‘n bevel van die hof gemaak:

1. Die aansoek van die OVOR word onbepaald uitgestel.

2. Hangende finale beregtiging van die hofaansoek oor die status van Orania behou die OVOR al die regte en verpligtinge waaroor hy mag beskik vir doeleindes van onderhandelinge en litigasie.

Op 5 Desember 2000 vind landswye munisipale verkiesings plaas. Nie ‘n enkele stem word deur ‘n inwoner uitgebring by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se stemlokaal op Orania nie. Elders, in die skoolsaal van Volkskool Orania, stem feitlik al die inwoners van Orania in die verkiesing van die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR). Dit lok ongekende nasionale en internasionale mediabelangstelling uit.

In 2006 vind daar weer munisipale verkiesings plaas en weer verkies Orania sy eie OVR.

Die verkiesing van Orania se eie Verteenwoordigende Raad elke 5 jaar is dus ‘n belangrike aspek van die dorp se selfstandigheid. Hierdeur word die bepalings van die hofbevel van 4 Desember 2000 in stand gehou en bevestig die dorp sy selfstandige munisipale status.

Bogenoemde met erkenning aan Orania Dorpsraad uit Interne Kennisgewing 8/2011.

Program vir 20 jaar fees

Die partytjie begin

Die voorlopige program vir die vrolikheid tydens Orania se 20ste verjaarsdag is bekend!

1 April: Kaalvoetkonsert in die gemeenskapsaal

2 April: Trevor Nasser-musiekkonsert

6 April: Fokuspunt van vieringe

08:00-11:00 Rondomtalie jukskei by jukskeibane

Skakelpersoon: Pieter von Rönge 053 2070 020

Toere sal deur die dag beskikbaar wees.

17:00- laat:  Straatfees begin met vrolike musiek by Gemeenskapswembad.

18:00  Opening en verwelkoming

18:15  Geleentheidspreker

18:40  Oorhandiging van oorkondes aan oudburgemeesters, ook aan eerste intrekkers; bekendstelling van DVD oor prof Carel Boshoff

19:00  Bekendstelling van nuwe Ora-reeks; veiling

20:00  Bekendstelling van orkes en sanger

20:15  Braaipakkies word beskikbaar gestel

22:00 Musiek en dans

7 April: Skouveiling en gereedmaak van stalletjies

8 en 9 April: Orania Skou

9 April: Kaalvoetkonsert in die Gemeenskapsaal

14- 17 April Volkskool Orania-reünie

14 April 2011 Donderdagaand:
Kuieraand by Volkskool se Kuiergat; oudskoliere en personeel toneelaand.

15 April 2011 Vrydagoggend:
Opedag en optog deur Orania; Gemeenskapsprojek deur die leerlinge.

15 April 2011 Vrydagmiddag:
Begeleide toere deur Orania.

15 April 2011 Vrydagaand:
Eenman-vertoning: Christiaan vd Merwe (kaartjies 20 Ora pp) en daarna opskop in die vierkant by Volkskool, met ekhouvanjou, OKAY! (‘n ‘band’/'bende’ van die PUKKE, facebook hul gerus en luister na hul lekker raserige musiek, kyk ook MK op Kyknet). Kaartjies 10 pp vir hul vertonings by Aan-die-Oewer en in die Vierkant by Volkskool.

16 April 2011 Saterdagoggend:
Ontbyt saam met Christiaan vd Merwe en ekhouvanjou,OKAY!, 2(4)ondersteuners kan by die Vrydagaand vertonings die gelukkige wenners wees!
Begeleide toere deur Orania.
Eenman-vertoning: Christiaan vd Merwe.
Optrede: ekhouvanjou,OKAY!

16 April 2011 Saterdagmiddag:
Sport en ontspanning – Aan die oewer.

16 April 2011 Saterdagaand:
Vingerete, DRAMA EN MUSIEK in Volkskoolsaal en -vierkant.

17 April 2011 Sondagoggend:
Gesamentlike kerkdiens in Volkskoolsaal met jou eie piekniekmandjie.

Huiswaarts tot ons weer ontmoet!! (30jaar Reunie???)

Pampoenpionier

Soos 'n kanker

Johan de Villiers is lankal bekend met pampoene: hy plant  gereeld reusepampoene vir die Groot Pampoen wedstryd tydens ons skou. Hierdie slag het pampoen se kind hom voorgespring; hierdie enkele stoel het in ‘n skaapkraal uitgeloop en gaandeweg ‘n gebied se groot soos ‘n dubbele motorhuis ingeneem, ek ook die naasliggende bome en struike beklim! Ongelukkig is dit meer plant as pampoen, maar daar sal darem sekerlik ‘n paar pampoenkoekies van kom!

Onthou ons doiliekompetisie!

Teetyd!

Kyk gerus weer na ons doiliekompetisie se reëls (en mooi pryse!) op die voorblad. ‘n Mens hekel so-iets nie voor ontbyt nie: begin betyds!

Soos ‘n aap sonder ‘n stert

Is afklim makliker as op?

Hierdie aap is onlangs opgemerk in ‘n gebied waar hulle selde voorkom. Dit was opmerklik dat hy baie moeilik en stadig teen die paal afbeweeg het. Die oorsaak was eers duidelik toe hy wegstap: die grootste deel van sy stert makeer. Dit het my laat dink dat ‘n mens sonder identiteit nog steeds mens is: dis net moeiliker en minder elegant!

Stertloos is meer as net voorkoms