Maandelikse Argief vir April, 2011

Geel bus

CVO Skool se nuwe bus

CVO Skool Orania se uitbreiding is sodanig dat ‘n nuwe bus aangekoop moes word: die heldergeel bus ontvang binnekort sy amptelike “versierings” in die vorm van systroke met die skool se naam. Die bus kan 60 skoolkinders dra.

Die seisoene draai

Die weerstasie

Besoekers aan Orania het oor hierdie Paasseisoen ‘n voorsmakie gekry van al Orania se seisoene, en ook sy pragtige kleure hierdie tyd van die jaar. Die afgelope dae was byna somer, met warm, sonnige dae, maar van vandag af het die kwik skielik gedaal tot by die punt waar ryp vannag voorspel word: net die regte geleentheid om jou snoesige donskombers (“In Orania vervaardig”) uit te skud en te waardeer.

Dit is ook die begin van die seisoen waarin pekans ge-oes word. ‘n Oes van minstens 120 ton neute word verwag. Stadigaan leer ons die les van geduld: ons pekans, amandels en olywe begin almal diegene beloon wat reeds tot 15 jaar wag! Ongeveer 5 jaar van nou af behoort die hele plaas se oppervlak ekonomies aktief te wees.

Afrifiksie kompetisie

Op pad?

Kyk gerus weer ‘n slag na die webwerf www.afrifiksie.com

Die kompetisie met gawe pryse sluit 1 Julie 2011 en boekies met die verhale daarin opgeneem word deur die Orania Beweging verkoop. Die verhale moet Afrikaanse wetenskapfiksie wees (science fiction).

Tyd word nou min en belangstellendes moet gaan sit, dink en skryf! Ondersteun asseblief hierdie waardevolle genre in Afrikaans!

Probleem se ander kant

Cornelia Holm

Hersirkulering is harde werk! Nie altyd weens fisiese arbeid nie, maar omdat mens maklik verval in ou roetines. Daarom is dit altyd verfrissend as nuwe geesdrif (veral saam met kundigheid) ons tref.

Mev Cornelia Holm is ‘n kunstenares (en toevallig die “Klein Reus” op Orania se beeldhouer) wat onlangs hierheen verhuis het. Kyk bietjie na sommige van haar maaksels.

Kweekgrasmat

Kweekgras is hier ‘n verpesting, maar ons heldin het die lopers gevleg in toue, en toe ‘n stewige vloermat gemaak.

Hieronder is ‘n planthouer wat sy uit ‘n leë hondekos sak gemaak het. ‘n Bietjie verf vrolik dit op.

Plantpot

Versiersels van gras

Vullisdromme van ou karton

Dalk is dinkwerk en inisiatief die nuwe “arbeid”!

 

Nasionale jukskei

Korrel so en gooi hoog

‘n Span uit Orania neem volgende week deel aan die Nasionale Seniors kampioenskappe in Jukskei op Jukskeipark te Kroonstad. Ons hoop om hulle met goeie nuus terug te ontvang.

Jo Roos uitstalling in Pretoria

'n Houtbeeld deur Jo Roos

Die eggenote van wyle Jo Roos, een van Suid Afrika se gevierde kunstenaars, nooi belangstellendes uit na ‘n fees “in Jo Roos se nagedagtenis”. Dit vind plaas op die herdenking van sy geboortedag op 13 Mei 2011 om 18:00 by hulle galery op De Wildt: Brits R513, Ingang 16. ‘n Woordelose veiling van items uit sy persoonlike versameling sal plaasvind.

Bespreking is noodsaaklik by 082 292 8185 of joroosgallery@gmail.com waar ook bespreek kan word vir besigtiging oor die daaropvolgende twee dae.

Jukskei op die skerm

So maak mens

‘n Franse TV stasie wat sport gebruik as toegang tot gemeenskappe het Orania besoek en te doen gekry met ons gedugte persoonlikhede! Na ‘n toer deur Orania en verskeie nie-sportiewe aktiwiteite hoop ons dat hulle berig op TV Plus (waarskynlik eers in die tweede helfte van 2011) interessant sal wees.

Hoendervergadering

Vryloop hoenders

Op die 2de Mei word ‘n verkennende vergadering op Orania gehou om hoenderboerdery en verwerking te bespreek. Skakel gerus vir John by die Orania Beweging (053 2070 057) as u kan bydra of wil bywoon.

Gedenkbome

Ja, dis diep genoeg

Met Volkskool se 20ste verjaardag is verskeie aksies gereël, maar om gedenkbome in die nag in die vierkant te plant was interessant! Na ‘n eenman vertoning deur akteur Christiaan van der Merwe het verskeie oudleerlinge begin om die uitgesoekte pekanbome te plant.

Chris Joubert het geleer om altwee hande te gebruik

Lekker roerbraai gee energie

Kyk weer vir my oor 20 jaar!

Kyk my pragtige boomplantfoto

Kieser registrasie

Die Klein Reus (foto F de Vos)

‘n Proses van registrasie begin vandag om alle “uitwoners” te betrek by ons verkiesing op 18 Mei.

Een lid van die Verteenwoordigende Oorgangsraad word deur “uitwoners” gekies om hulle belange in Orania te behartig, en e-posse word nou uitgestuur om u te registreer. U sal ‘n e-pos ontvang wat lui dat ons “BallotBin.com” gebruik vir die proses. U kan dan uitteken of deelneem, en ook navrae rig indien nodig. Let daarop dat u ook ‘n kandidaat kan nomineer. Enige navrae kan gerig word aan Jaco Kleynhans by oraniabeweging@orania.co.za , ook indien u wil registreer.

Die res van die Raad word deur inwoners volgens ‘n bepaalde stelsel verkies.