
Kry die VOLLE storie!
Weens verwarrende mediaberigte rondom die verkiesing wil ons graag Orania se posisie in meer besonderhede verduidelik.
Tussen 1995 en 2000 het Orania vrywillig geregistreer as ‘n sogenaamde “tussentydse raad” (dit is die rade wat in hierdie tydperk munisipale pligte verrig het sodat die nuwe stemgeregtigdes tydens ‘n oorgangsperiode kon leer hoe munisipaliteite werk). In 2000 sou die rade ten volle demokraties verkies word en die oorgangs-reëling sou dus verval.
In hierdie vensterperiode het Orania hard probeer om die regering te oortuig om volle munisipale status aan ons toe te ken, maar omdat daar geen reaksie verkry is ten spyte van die gebruik van alle beskikbare kanale nie, het ons besluit om die regering enkele dae voor die 2000 verkiesing hof toe te neem. Daar het al die partye ‘n skikking bereik wat deur die hof bekragtig is en wat die Verteenwoordigende Oorgangsraad (VOR) se lewe verleng het ten einde te onderhandel en te litigeer. Daarop het ‘n proses gevolg wat verskeie voorstelle op skrif geplaas het, maar daar het in die elf jaar wat gevolg het geen reaksie van die regering gekom nie.
Die Orania-gemeenskap kies steeds met elke landswye munisipale verkiesing sy eie verteenwoordigers van die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) wat die voortsetting is van hierdie raad wie se lewe deur die hof verleng is. Omdat dit volg op ‘n skikking (wat as ‘n kontrak beskou kan word) hou ons dit in stand sodat ons nie die skikking laat verval nie, en daarom is ons ook versigtig om deel te neem aan veral die munisipale gedeelte van die nasionale verkiesing.
Die skikking het egter bepaal dat ons steeds onder Thembelihle (Hopetown) se munisipale gebied val (en wel as deel van wyk 2), maar daar bestaan (weens die skikking) ‘n wedersydse ooreenkoms dat hulle nie hier dienste lewer en nie van ons heffings ontvang nie. Die stemme wat in die landswye verkiesing by die stembus op Orania uitgebring is, is nie alleen van Orania stemgeregtigdes nie, maar ook van omliggende (nie-Orania) stemmers. Die feit dat aansienlik meer inwoners in die “eie” verkiesing gestem het as in die landswye verkiesing, dui daarop dat Oraniërs die hof-uitspraak huldig en in stand hou.

Nie so bedoel nie!
‘n Verbygaande vervoerkontrakteur het vanoggend ongemaklik gaan staan toe sy vragmotor se enjin (en dus remme) ingegee het teen ‘n opdraende langs Orania. Die sleepwa het agteruit van die pad geloop en gaan heelwat moeite verg om weer op die pad te kry! Niemand is beseer nie.

Helder maan

Mistig
Die winter het plaaslik ook sy mooi kant: daar is gereeld ‘n misbank in die laagliggende gebiede teen die rivier, sodat ‘n kronkelende mis-slang soggens ‘n mooi atmosfeer skep. Ook die maan lyk helderder en nader!

Laaste snysel
Orania is uitmuntend geskik vir lusernverbouing, maar hierdie seisoen was TE goed: die oormatige reën het baie van die snysels op die land laat verrot. Sommige boere het net een of twee snysels (van ‘n potensiële 6 0f 7) kon baal. Maar ons kla nie…

Kom hier neut
Die meeste boere op Orania oes meganies neute, maar die neute wat vroeg val is in die pad van die masjiene se bande, en gaan dus verlore. Annatjie kry dit nie oor haar hart om so te mors nie, en het ‘n toestel wat verkoop word as ‘n “poop scoop” (vir honde glipsies) aangepas om as neut-opteller te dien: hierdie spesifieke model kan ‘n plastieksak gebruik as buidel, en sodoende hoef sy glad nie te buk nie!

Die stemme word uitgehaal

Opgetel...

En aangekondig!
Die lede van die Orania Verteenwoordigende Raad soos verkies (v.l.n.r)
Hanri Maritz
Frans de Klerk
Jaco Kleynhans (verkiesingsbeampte)
Martin Kemp
John Strydom
Willie Nel
Renus Steyn
Carel Boshoff iv
Die stempersentasie was nagenoeg 70%.
Albert van Zyl (foto onder) is verkies as die uitwoner-verteenwoordiger.


Hoe maak mens?
Heelwat uitwoners sukkel met die stemprosedure (vir uitwoners).
U moes reeds vooraf geregistreer het as uitwoner, waarna u per e-pos ‘n kode sou ontvang waarmee u op Ballotbin sou kon stem. As u die kode nie kan vind nie, is dit ongelukkig nou te laat om ‘n nuwe uit te reik. As u enige ander probleem ondervind, kan u die kiesbeampte (Jaco Kleynhans) skakel by 083 324 5631 of Jaco@orania.co.za
Dankie vir u flinke ondersteuning!

Vooraf
Orania hou verkiesing en dis ‘n vrolike geleenthied! Hier is ‘n paar fotos, maar ons probeer vandag nog die finale uitslag deurgee.

Verkiesing in 'n 20 jaar oue dorp

Kinderspret terwyl ma en pa stem

'n Potjie skaak terwyl jy kandidate oorweeg

En braai is onontbeerlik

'n Australiese student en televisie was ook hier

En nou moet jy besluit.....

'n Dik stroom mielies
Ons plant nie veel mielies in Orania nie (ons plase is te klein daarvoor) maar daar staan ‘n mooi oes op Cobus Nel se lande!

Hoe lyk dit vir jou?

Glimlag!
Cobus moes tussen die werk deur nog vir nasionale TV ook glimlag.

Politokrasie bekend gestel
Die Orania Beweging probeer om minstens twee boeke per jaar bekend te stel, en daar is hierdie naweek ‘n pragstuk ontdek! Prof Koos Malan van die departement Regte by Tukkies het ‘n boek geskryf wat die geskiedenis (en een moontlike toekoms) van regeerkunde behandel. Prof Malan se uitstekende kommunikasie het die aand baie interessant gemaak (‘n bespreking oor die boek deur Sebastiaan Biehl en Carel Boshoff iv het ook bygedra). Die boek Politokrasie kan by die Orania Beweging bestel word (053 2070 057).