Maandelikse Argief vir Junie, 2011

Waar is jou verbeelding? Begin skryf!

Wat sien jy?

Ons is opgewonde oor Afrikaans as taal, en veral ook oor persone wat moeite doen daarmee. Ons verneem dat Afrifiksie se sluitdatum aangeskuif word om meer mense die geleentheid te gee om in te skryf: die interessante is dat die bundel verhale gedruk word en in Orania beskikbaar gemaak word!

Gaan kyk gerus na www.Afrifiksie.com, en dan na “Skryfkompetisie” aan die linkerkant. Skryf in, wen dalk ‘n prys, en sien jou naam in druk! Komaan!!

Geleenthede gesoek vanaf Oudtshoorn en George

Help!

Ons is op soek na iemand wat 8 dose vanaf Oudtshoorn na Orania kan vervoer: dit is ‘n skenking aan Orania, en ons is bereid om ‘n bydrae tot brandstof te maak. Daar is ook ‘n boks of twee wat vanaf George na Orania moet kom. Skakel asseblief vir John by 053 2070 057.

Eerste nuwe Kerk

Maranatha in aanbou

Die eerste paar dae nadat nuwe saad geplant is, is “dooie” tyd: mens hou die grond afwagtend dop, maar sien niks nie! Na ‘n week of twee bars ‘n saailing uit die grond uit, en weet mens dat dat daar lewe is.

Orania se “dooie tyd” (waarin veel gebeur het, maar min sigbaar was) gaan nou haas verby. Die eerste nuwe Kerkgebou is pas begin, en die Maranatha gemeente en hulle bouers werk soms tot saans laat. Hulle het tot dusver in ‘n ou skool klaskamer dienste gehou, maar met tipiese Afrikaner ywer is ‘n “regte” Kerkgebou beplan, en met ondersteuning wat al beskryf is as “wonderwerke”, het die gemeente die taak aangepak.

Van die ander gemeentes hou dienste in geboue waarvan net een oorspronklik ‘n Kerk was, naamlik die ou NG Kerk uit Waterwese se dae.

Pioniers in spaarkunde

Ons het hom!!

Orania is reeds 10 jaar besig met alternatiewe maniere om finansies te orden. Die wet gee ruimte vir gemeenskapsgebaseerde instellings, en Orania was besonder trots om vanoggend ‘n sertifikaat van verteenwoordigers van die Reserwebank te ontvang as die eerste Kooperatiewe Bank wat in die RSA geregistreer is. Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie ‘n gemeenskaps-instelling is, en dat daar nie aan die algemene publiek dienste gelewer word nie. Die gebruik van die Ora en ander kooperatiewe pogings om die kultuur van Oraniërs te bevorder, is tydens die oorhandiging deur amptenare van die SARB uitgewys as ‘n goeie voorbeeld vir die res van die sub-kontinent. Juis die feit dat enige klein gemeenskap ‘n kredietunie kan stig, maak dit moontlik om toegang te kry tot finansiële dienste. Orania het ook voorheen onderneem om kundigheid op enige gebied te deel met ander gemeenskappe wat kan baat.

Mooi gesig

Hierdie fotos verteenwoordig ‘n tendens in Orania, en ek bedoel nie sypaadjie-besoedeling nie! Daar is gedurig bouwerk aan die gang, en ons berig binnekort oor opwindende verdere bounuus!

Daars raad vir die winter

Bevrore sonverwarmer

Werk jou warm

Toe ek vanoggend vroeg by een van die bouterreine aankom, was verskeie manne al uit hulle baadjies uit! Hande-arbeid het baie voordele, en hier by ons is die winter amper die beste seisoen daarvoor. Dis moord om in die somerson buite te werk!

Mis oor die rivier

Van die bouterrein af kan mens die Oranjerivier se verloop volg deur na die stygende misbanke te kyk wat in die winter daar voorkom.

Beter kragnetwerk

Uitbreidings

Uitbreiding is een ding, maar ordelike, beplande uitbreiding is ons voorkeur. Saam met ‘n plaaslike ingenieur en konsultante van buite is nie net uitbreiding nie, maar veral optimalisering van ons kragnetwerk reeds lankal bespreek. Die proses is nou aan die gang en veranderings aan substasies wat skakeling verbeter is reeds afgehandel. Daar word nou gekyk na die netwerk self, asook die vergroting van vermoë. Soos dit ‘n “groen” dorp betaam, word sterk gefokus op BESPARING, oa met die nou reeds bekende sonwaterverwarmers.

Oraniër wen gesogte kunskompetisie

Marlie se wenbeeld

Marlie Mörsner, inwoner van Orania, het sopas die nuus ontvang dat sy die wenner is van die Loop Art Foundry New Sculptor-Kompetisie.

Marlie se interessante beeld put veral uit die mitologie met die vlieënde perd as die fokuspunt. Vir die beeld het sy groen speelklei gebruik wat redelik hittesensitief is. Terwyl sy aan die beeld gewerk het, moes sy die beeld gereeld in die yskas laat “rus” sodat dit nie smelt nie.

Met die fotosessie het Marlie die beeld laat val. Om die skade te herstel het sy weer vir meer as ’n uur geduldig daaraan gewerk. Die lugreëling in die kantoor moes vir die sessie baie koud gestel word!

Marlie wen daarmee ’n beeldhoubeurs ter waarde van R15 000. Die beoordelaars het haar veral gekomplimenteer met die fyn detail wat sy gebruik het en met die kreatiewe uitdrukking en verwikkeldheid van die beeld. Min beeldhouers doen deesdae so baie moeite.

Die beoordelaars is ook oortuig daarvan dat Marlie die vermoë het om ’n suksesvolle beeldhouer te wees.

Ons is baie trots op Marlie en sien uit na baie meer van haar kuns in Orania.

Lida Strydom

 

Belsentrum gesig

Susan Pelzer

‘n Nuwe gesig by die Orania Beweging se belsentrum is Susan Pelzer. Susan en haar man Hennie is ook betrokke by ‘n Eko gastehuis op Orania, en boer met pekans. Susan is ook ‘n sangeres van formaat.

Innovasiesentrum

Die loodskomitee

‘n Plaaslike ingenieur (Francois Joubert), en ‘n ondersteuner (Christo Hattingh, ‘n metallurgiese ingenieur en uitwoner) het vandag ‘n mini simposium gereël om die gedagte van ‘n innovasiesentrum op Orania te toets. Die gedagte is goed ontvang en ‘n loodskomitee is aangewys om die proses volledig te ondersoek. Kundigheid, netwerkvermoë en praktiese ondervinding word goed verteenwoordig in die komitee. Voorlopig is die doel om idees van buite te ontvang en teen ‘n billike fooi te evalueer vir vervaardiging en bemarking, of as ‘n idee wat Orania kan bevoordeel.

Enige voorstelle kan deurgegee word aan christo@simulasie.co.za