Vanaand is Boere-plesier in Orania! Met Franz Conradie se dood is besluit om ‘n laserskyf (CD) op te neem van Orania musikante en dit dan bekend te stel op ‘n regte Boere-jolyt. Vandag is die dag, en van Maandag af kan hierdie skyf, plaat of CD (as jy wil!) bestel word deur Reynier te kontak by 053 2070 010 vanaf 09:00 tot 16:00.
Maandelikse Argief vir Julie, 2011
Die Orania Beweging het besluit om ‘n ambassadeursprogram te begin. Ambassadeurs vir Orania gaan in soveel as moontlik lande aangewys word. ‘n Beleid hieroor is opgestel en daar is reeds ambassadeurs in vier lande goedgekeur. Intussen is ons opsoek na nog persone wat moontlik as ambassadeurs vir Orania kan optree. Ons beplan om die name van Orania-ambassadeurs gedurende September bekend te maak. Stuur ‘n e-pos aan jaco@orania.co.za vir meer inligting oor die vereistes en aansoekproses.
Daar is geen tyd waar ‘n mens so eerlik (en so wys) is as net voor jou naderende dood nie.
Een maand voor prof Carel Boshoff se dood het hy ‘n onderhoud toegestaan vir ‘n meer as drie uur lange gesprek oor ‘n reeks onderwerpe wat verband hou met sy lewensdroom. Dit is geredigeer tot ‘n twee uur lange opname wat nou markgereed is. U kan die skyf (DVD) bestel by ontvangs@orania.co.za of by 053 2070 057. Die koste is R120 plus R30 posgeld.
Orania se Dorpsraad ervaar groot druk om dienste te verskaf vir nuwe uitbreidings (weens die toename in aanvraag vir erwe), en moes dusver kontrakteurs gebruik vir baie siviele take. Hulle het nou besluit om sekere toerusting aan te skaf om gebruik te maak van kundigheid wat in-huis bestaan. Die nuutste toevoeging is ‘n laaigraaf/ slootgrawer kombinasie, en op die foto se agtergrond is die terrein waar nuwe semi-gedienste erwe uitgesit word vir ‘n uiters interessante konsep in selfversorging, naamlik Aardskepe. Dit is ‘n poging om beter isolasie te skep, eie dienste te gebruik, en afvalmateriaal te gebruik om sodoende druk op natuurlike hulpbronne te verlig.
Daar word dikwels gevra of ons die media hier moet ontvang, of selfs behulpsaam moet wees wanneer hulle ons kom “bekyk”. Nie alle programme is objektief nie, en sommige selfs pynlik eensydig. Daar is ‘n paar antwoorde op hierdie vraag.
Daar is ‘n gesegde dat selfs slegte publisiteit goeie publisiteit is, omdat dit die “handelsmerk” onwillekeurig vestig.
Ons moet onsself dikwels herinner dat ons nie met ‘n klein, selfsugtige poging besig is nie-ons doen dit teoreties vir alle Afrikaners, en daarom moet ons die boodskap letterlik oor die aardbol laat versprei-selfs deur die media indien nodig.
Dit is nodig om vyandige partye ook te bereik: al is dit net om hulle meer objektief na ons te laat kyk, en hulle bereik ons gewoonlik NET deur die media.
Om Carel iv Boshoff aan te haal: dit is ‘n voorreg om te luister na vrae wat partye buite Orania vra, anders leer ons net om ons eie vrae te antwoord, en dis darem TE maklik! Ons meet onsself dus gereeld aan standaarde buite onsself.
Sou daar nog goeie redes bestaan?
’n Getroue Orania-ondersteuner, Christie Ryker, maak reeds die afgelope dertig jaar ’n studie van Bybelse vasbegingsels en bied gereeld hieroor kursusse aan.
Christie het aangebied om dié kursus ook op 30 Julie in Orania aan te bied. Die toegangsprys van R70 sluit kursusmateriaal en drinkgoed in en sal van 09:00 tot 16:00 in die Ouditorium van die Orania Beweging plaasvind.
Meer inligting is beskikbaar by Lida Strydom by 053 2070062 of redakteur@orania.co.za
‘n Nuwe inisiatief om hitte (en vrolikheid!) te genereer begin hierdie Saterdag: gedurende die wintermaande word daar elke Saterdag 09:00-16:00 by die Oewer Restaurant, Aan-die-Oewer, plaaslike produkte, Afrikaanse musiek, ‘n kampvuur, warm kos, en goeie geselskap aangebied. Enige inwoner kan aansoek doen vir ‘n stalletjie (behalwe vir warm kos wat reeds deur die Oewer Restaurant verskaf word) en die goeie nuus is dat die stalletjies aanvanklik gratis sal wees. Skakel vir Quintin Diederichs by 076 943 2214, of daag net op met ‘n vrolike hart en geld in jou beurs!
Onthou ook die gewone Aandmark wat elke Vrydag om 17:00 by die Kuierstoep gehou word.









