Maandelikse Argief vir Desember, 2011

FAK pretloop

‘n Skemer pretloop wat gister deur die FAK aangebied is, is goed ondersteun deur inwoners en drawwers van omliggende dorpe. Daar was byna 50 deelnemers in 5 of 10 kilometer roetes, en ook aparte ouderdomsgroepe. Prysgeld van altesaam R2 000 is deur wenners en dmv gelukkige trekkings ontvang. Die laaste ent is in die skemer gemerk met kerse wat ‘n pragtige atmosfeer geskep het.

Die jaarlikse vierkamp en Nuwejaarsmyl het al tot ernstige kompetisies ontwikkel, en spanning loop hoog. Dit vind onderskeidelik Vrydag en Saterdag plaas.

Raakgesien

Onlangs in Graaff Reinet raakgesien….

Vroegdag

Foto: Esme Stoltz

Hierdie tyd van die jaar is vroeg opstaan voordelig, en vir meer as een rede. Hierdie toneel is dorpenaars beskore wat nie weg is op vakansie nie. Tuinmaak kan ook stres verlig!

Ons aan julle

Vergun my nog ‘n bietjie lokalisme . Mag ek hierdie plaaslike toneel gebruik as Kerstoneel? Dit is simbolies nie net van hierdie tyd van die jaar nie, maar ook van plaaslike inisiatief-dit is deur inwoners uit papier mache gemaak sonder opdrag of betaling.

Daarmee wil ek jou nooi: gaan sit vanmiddag buite en kyk hoe die son ondergaan. Dink aan andere wat dit nie kan sien of waardeer nie. Dink aan die feit dat Kerstyd, wat oor die aardbol aanvaar word as Jesus Christus se geboortedag (al is almal dit nie eens oor die presiese datum nie), en oor die feit dat waarskynlik geen enkele datum so wyd gevier word nie (al glo nie almal aan die boodskap van Vrede nie), en besluit dan om 2012 ‘n jaar van GEE te maak: om blydskap, liefde, hulp, mooi woorde en iets van jouself te gee. Want BAIE van ons eie is honger, swaarmoedig, verlore, liefdeloos en hooploos. Jou gee hoef jou niks te kos nie, maar vir ander kan dit die verskil tussen hoop en hooploos wees.

Bestuur versigtig; dink voor jy doen; beplan en maak hierdie Kersfees een van oopheid vir die groot poel goeie wense en liefde wat nog op aarde oor is: mag dit ‘n hoogtepunt wees vir jou en jou gesin of vriende, en mag Hy self beheer neem van ons lewens en ons volk se toekoms.

Rustig??

 

 

 

 

 

 

Sommige stedelinge is op vakansie. Ander jaag die laaste opdragte vir 2011 af, of is besig om te pak, en ander is tans half aan die slaap agter die stuurwiel.

Ons plaaslike boere is ook half aan die slaap agter die wiel-saaiboere werk hierdie tyd van die jaar letterlik 20 uit 24 ure vir 2 of meer weke aanmekaar. Hierbo jaag ‘n planter net twee draaie agter die trekker wat finaal bewerk. Die koring oes is ‘n dag of drie gelede afgehaal, die lande is gebrand (of bewerk vir minimum bewerking), en nou moet daar voor jaareinde geplant word. Nie omdat hulle op vakansie wil gaan nie, maar omdat die seisoen dikteer.

Orania het ook een of twee saaiboere (plus heelwat Omwoners wat saai), maar daar is ander besige werkers-kyk maar na die fotos hieronder. Daar word nog koorsagtig gewerk om sekere bouwerke af te handel voor Kersfees, want ons kort woonhuise!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die laaste foto is van ‘n vliegtuigloods in aanbou. Die girokopter wat tans vlugte onderneem tydens die vakansieprogram, vind nou ‘n permanente tuiste in Orania, en hierdie loods is die eerste wat op die beoogde vliegpark ontwikkeling gebou word. Daar word beplan om binne ‘n jaar of twee nog meer aan te bou.

Rustig??

Geloftefees 2011

 

 

 

 

 

 

 

Ons herhaal elke jaar die Gelofte tydens ‘n feesgeleentheid, en glo dat ons met ons optrede minstens probeer dank uitspreek vir ‘n dag waarop ons geskiedenis, glo ons, dramaties verander is. Ons bly maar mense, en bid dat ons optrede toenemend ons Skepper sal erken, en aan ons opdrag getrou sal wees.

 

 

 

 

 

Wisseling van gewasse

Pas die stoppels gebrand, maar oor 6 weke staan die plante groen!

Nog ‘n boek!

‘n Politieke toekomsroman wat deur ‘n Orania ondersteuner geskryf is, is onlangs bekend gestel. Sebastian Biehl se boek Beslissing in die Karoo kos net meer as R100 en kan verkry word by die Orania Boekwinkel. Skakel 053 2070 057 vir meer inligting.

Landskapkuns

Wyse manne

Die Orania Beweging bevorder die laaste twee jaar die idee van landskapkuns as deel van sy vakansieprogram. ‘n Groep kunstenaars het uit papierpulp hierdie Kerstoneel geskep wat nou soos bewoners van Orania langs die hoofstraat pryk.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dit het al ‘n paar dae se nat weer en winde weerstaan, en dalk bou ons een van die dae huise van papier!

 

 

 

 

 

 

Vlakte

Ek het ‘n rukkie op Orania se verre vlaktes gaan spandeer, en amper moedeloos terugkom. Tonele soos hierdie baler hierbo stem niemand optimisties nie. Die dag was uiters warm en droog. Die dwarrelwinde het stof opgelig en oor alles neergereen. Daar is nie teerpaaie, groot bome of tuine nie. Geen besproeide landerye nie. Basiese behuising skiet hier en daar in die oop veld op. ‘n Toegespande kamp met net mooi niks in kondig “Amper Daar” op die hek aan-nogal met kontakbesonderhede van die moedige eienaar.

Toe ek ‘n egpaar langs die pad sien bome plant in die bloedige son, het ek begin dink. ‘n Ent verder ry ek verby 2 perderuiters. Nog twee hoewes verder is iemand besig om palms te plant met die beperkte gepypte water op hulle hoewe. Net daarna is nog ‘n moedige reeds ver gevorder met ‘n goed beplande huis ver van enige munisipale dienste: hulle oprit klaar beplant met bome, en nog tientalle boompies verspreid aangeplant.

Met die terugry is ek verby ‘n boer wat besig was om te stroop: ten spyte van 2 lastige breke op die stroper wat oa ‘n rit na Bloemfontein en ‘n sak vol geld gekos het, is hy vol moed en dankbaar vir sy goeie oes. Die monitor staan op omtrent 9 plus ton per hektaar.

‘n Ent verder ry ek verby ‘n uitwoner se “erf”-’n kaal geskraapde vierkant met lyne gespan vir die fondasie. Weereens geen dienste in sig nie, want dis “Vlakte” en ver van kraglyne.

En toe onthou ek dat my erf 16 jaar gelede presies so gelyk het!

Dis die mense wat tel-nie die woestyn, die weer of die kritiek nie! Orania se een duisend moedige mense SAL ‘n dorp bou waarop almal trots kan wees, al neem dit NOG twintig jaar.