Burgervergadering inleiding

Augustus 23rd, 2010

Orania Beweging

Inleiding tot die Burgervergadering

7 Augustus 2010

Geagte lede van die Orania Beweging

Ek wil vanmôre ‘n kort en klaar uiteensetting gee van die sentrale uitdaging waarmee die Vryheidstigting/Orania Beweging nou reeds en in die nabye toekoms gekonfronteer gaan word.  Daarmee hoop ek om ook ‘n vrugbare agtergrond vir ons twee uitgelese gassprekers en ander besprekings van die dag te skep.  Dit hou verband met wat ‘n mens as ons visie of ‘groot plan’ kan beskryf.

In ons Beweging se kort geskiedenis het ons, oorhoofs gesien, die volgende uitdagings die hoof gebied:

  • By die oprigting van die Afrikanervryheidstigting in 1988 was die uitdaging om aan die gedagte van Afrikanerselfbeskikking in ‘n volkstaat ‘n realistiese en volhoubare gestalte te gee, in besonder met betrekking tot die demografiese werklikhede en politieke veranderinge wat besig was om hulle in Suid-Afrika te voltrek.  Dit het ons gedoen deur ‘n omvangryke gebied in die Noordwes-Kaap en selfs ‘n die Suidelike deel van die destydse Suidwes-Afrika aan te wys as gebied waarbinne ‘n volkstaat afgebaken, ontwikkel en bevolk moet word.  Nodeloos om te sê dat die gebrek aan populêre ontvangs geen vinnige verwesenliking van die destydse plan teweeg gebring het nie, maar dat die onderliggende realisme van dié aanspraak aan die volkstaatgedagte nuwe geloofwaardigheid gegee het.
  • By die versnelde pas van politieke verandering wat in die laat tagtiger- en vroeë negentigerjare wêreldwyd én in Suid-Afrika posgevat het, was die uitdaging om hervestiging en ontwikkeling met die oog op Afrikanerselfbeskikking prakties in werking te stel en seker te maak dat dit nie tot blote wensdenkery beperk bly nie.  Dit het ons gedoen deur die verlate konstruksiedorp Orania van die Departement van Waterwese te koop, te betrek en te begin ontwikkel.  Ook hiervan het ons al gesê dat dit nie so vinnig of omvangryk was as wat ons aanvanklik gehoop het nie, maar dat dit die gedagte konkreet beliggaam het, selfs toe baie Suid-Afrikaners nog nie geglo het dat die ANC ontban sou word nie.
  • By die herskepping van die Suid-Afrikaanse staat gedurende die negentigerjare was die uitdaging om die volkstaat as deel van ‘n nuwe grondwetlike bedeling aan te bied en in te sluit.  Dit het ons gedoen deur toonaangewend deel te neem aan die mobilisering van Afrikaners rondom politieke selfbehoud ten aanskoue van onafwendbare magsverlies, sowel as wandelgangbevordering van die gedagte by die grondwetlike onderhandelings wat plaasgevind het.  Hiervan was die vrug dat die volkstaatgedagte oor ‘n breë front onder Afrikaners inslag gevind het, hoewel met wyd uiteenlopende bedoelings, en dat grondwetlike onderhandelaars erkenning aan die volkstaatgedagte begin gee het.  Hoewel die Vryheidstigting se bydrae hiertoe nie te versmaai was nie, moet ons in aanmerking neem dat politieke rolspelers en partye op hierdie stadium die hoofrolspelers was en ons tot ‘n beperkte mate vir die sukses of gebrek daaraan verantwoordelik was.
  • By Afrikaners se bevestiging van die ‘nuwe Suid-Afrika’ soos uit hulle ondersteuning aan opposisie- eerder as alternatiewe politiek rondom die eeuwending sou blyk, was die uitdaging om selfbeskikkingspolitiek en Orania as uitdrukking daarvan op ‘n aanvaarbare wyse aan te bied en nie as ‘n agterhaalde denkbeeld van sy geloofwaardigheid te laat beroof nie.  Dit het ons gedoen deur op Orania as gevestigde en groeiende gemeenskap en op die meriete van plaaslike ontwikkeling en selfstandigheid te fokus en dit as ‘n model van selfstandigheid eerder as afhanklikheid van vreemde besluitnemers te vestig.  Hoewel Orania gedurende die tyd steeds aan negatiewe stereotipering onderwerp is, het dit afgeneem en is Orania toenemend as ‘n legitieme deel van die Suid-Afrikaanse verskeidenheid beskou.  Konsepte soos afskeiding en soewereiniteit is in die tyd teruggehou en heroorweeg en mettertyd met nuwe inhoud weer in die openbare domein geplaas.  Intussen is die groei en ontwikkeling van Orania en die Orania Beweging self bevorder en het ‘n nuwe geslag leierskap op verskeie fronte na vore begin tree.

Tans is alle aanduidings daar dat die hele Suid-Afrikaanse projek besig is om ‘n nuwe wending te neem en dat Afrikaners wat Orania voorheen nie as alternatief oorweeg het nie, besig is om ontnugter te raak en dit begin heroorweeg.  Hierby is dit kostelik hoe naby ‘linkse’ en ‘regse’ politieke opponente se onderliggende sienings aan mekaar gelê het.  Beide het op ‘n manier gedink dat die regime-verandering wat Suid-Afrika beleef het, die emosionele band met en aanspraak op hulle historiese vaderland nie sou afwater nie.  Vir sommige was dit ‘n kwessie van tyd en strategie om beheer te herwin, vir ander was dit ‘n kwessie van werkswyse om hulle kennis en ervaring sodanig in te span dat hulle nie ooglopend in beheer hoef te wees om sake na hulle sin te skik nie.  Op verskillende maniere het beide nog van ‘n diepgesetelde verbintenis aan Suid-Afrika uitgegaan.  Hierdie stelling moet in werklikheid nie in die verlede tyd gemaak word nie, want tot ‘n groot mate is dit steeds so, alhoewel dit my punt is dat dié verbintenis redelik algemeen ontwrig is.

Die twee gebeurtenisse wat hierdie ontwrigting simboliseer, wat as’t ware die ondenkbare verteenwoordig aan die hand waarvan Suid-Afrika vreemd en anders geword het, is die verkiesing van die korrupsieverdagte, tradisionalistiese en poligame mnr Jacob Zuma tot President en die moord op die AWB-leier, mnr Eugene Terreblanche, op sy plaas by Ventersdorp.  As mens daarop terugkyk, kan nie een van die twee gebeure as heeltemal onverwags beskou word nie, maar dalk is dit juis daarom dat dit so ‘n gevoel van vervreemding en ontreddering onder Afrikaners veroorsaak het.  Die houdingsverandering wat hiermee op ‘n dieper vlak ingetree het en wat deur massa-emigrasie en onttrekking voorafgegaan is, is ook nie deur pogings tot gesindheidsverandering wat die suksesvolle sokker wêreldbeker meegebring het, omgekeer nie.

Die punt is eenvoudig dit: dat die Afrikaner as ‘n nasionale kultuurgemeenskap kennelik nie meer oor die instrumente beskik om in die huidige Suid-Afrikaanse staatsbedeling te floreer nie en dat Afrikaners dit toenemend besef.  Intussen is Orania as ‘n simbool van alternatiewe, selfstandige denkwyses en praktyke gevestig, as ‘n konkrete werklikheid wat bewys dat iets anders steeds moontlik is.  As sodanig neem die erkenning en aanvaarding wat Orania geniet toe en dit vertaal in versnelde groei en ontwikkeling.  Die uitdaging waarvoor ons as die Afrikanervryheidstigting, as die beweging waarvan Orania die speerpunt is, nou te staan kom, is  om Afrikanervryheid in ‘n gebied wat deur Afrikaners bewoon en bewerk word, as ‘n nasionale strewe aan te bied; om oor ‘n breë front eienaarskap daarvan te bevorder omdat dit ‘n sleutelstrategie is waarsonder die ander pogings om die Afrikaner se toekoms te verseker, nie volhoubaar gaan wees nie.

Dit is ‘n enorme uitdaging, een waarop ons hele aanloop afgestem was en waarvan mens as’t ware uit die staanspoor gevra het: wanneer sal die tyd daarvoor ryp wees?  Met die oog op die bespreking wat moet volg, wil ek drie belangrike kwessies uitlig.  Dit doen ek met die versterking van Orania se ontwikkelingsvermoë en met die toetrede van nuwe en bekwame personeel tot die Orania Beweging as gegewe.

  • Eerstens die vraag: hoe dra ons ‘n gedagte wat reeds bekend is en waarvan tallose mense wat dit behoort te ondersteun, hulleself tot dusver op ‘n afstand gehou het, opnuut in die gesprek oor ons toekoms in?  Hoe kry ons die perde om nou te spring waar hulle nog elke keer vasgesteek het?  Hoe vertaal ons ons appèl tot die breë Afrikanergemeenskap vanaf ‘aanvaar ons’ na ‘ondersteun ons’?
  • Tweedens moet ons die studieveld wat in die eerste plek tot SABRA se volkstaatgedagte en tot die Vryheidstigting se gebiedskeuse aanleiding gegee het, opnuut ontgin.  Demografie is ‘n studie van die verspreiding van bevolking oor tyd en namate Afrikaners hulleself al meer as ‘n magtelose minderheid in Suid-Afrika ervaar, moet die gedagte dat Suid-Afrika nie die enigste institusionele raamwerk hoef te wees nie, opnuut aangebied word.  Nuwe verantwoording van Afrikaners se getalle, verspreiding en verwagtings, asook van die gebied waarop ons ons pogings afstem, moet weer onderneem word.
  • Derdens moet ons met ‘n eenvoudige saak tot grepe kom.  Orania as nedersetting kon in die verlede en kan in die toekoms tot ‘n baie hoë mate uitsluitlik deur Afrikaners bevolk word.  Dit moet as sodanig uitgebou word en groei en dit moet as ‘n vastrapplek dien.  Daarom dat ons Orania nie as bloot ‘n dorp of klein stad in die vooruitsig stel nie, maar as ‘n selfstandige stad, as ‘n stadstaat.  Daar is egter genoeg rede om te sê dat dit nie genoeg is nie en daar is baie mense wat aanvoer dat ‘n groter gebied ontwikkel moet word.  Die vraag wat in dié geval beantwoord moet word en wat deur die lokale fokus van die afgelope jare op die agtergrond geskuif is, is óf en wát ons vir ‘n groter gebied (tot aan die Weskus was ons vroeë aanduidings) se gegewe nie-Afrikanerbevolking in die vooruitsig stel.  Dat ons nie die herinstelling van apartheid beplan nie, kan as gegewe aanvaar word, maar is ‘n wit-bruin alliansie in die toekoms, soos die alliansie tussen Afrikaners en Engelse in die verlede, lewensvatbaar?  Die punt is dat ons daarsonder van ‘n wesenlik groter gebied sal moet afsien, maar dat ons daarmee baie deeglik sal moet besin oor hoe om nie ‘n voetnota van ons eie inisiatief te word nie.

Vriende, met hierdie opmerkings hoop ek om die vergadering vandag en die bespreking wat mag volg, voldoende in te gelei het.

Ek dank u

Carel Boshoff (iv)

President van die Orania Beweging

Orania

The Ora as facilitator of SLED

Julie 20th, 2009

The Ora as facilitator of sustainable local economic development in Orania

By Ronald Mears

Read the rest of this entry »

In Diepte Maart 2009

Maart 10th, 2009

Klik op die onderstaande skakel vir die artikel:

orania-in-diepte-mrt-091

33ste HF Verwoerd-gedenklesing in die vorm van ’n gedig

November 28th, 2008
Orania 7 November 2008

INLEIDING

OEWERS VAN DIE ORANJE

Hendrik bou damme
deur water geboei
dat landbou en handel
kan opbloei en groei
hy bemeester en vorm
die Oranjerivier
om water op lang=
termyn te bestuur

Read the rest of this entry »

In die lente van sy lewe

November 14th, 2008

Prof. Louis du Plessis
33ste HF Verwoerd-gedenklesing
in die vorm van ’n gedig.
Orania 7 November 2008

Read the rest of this entry »

Orania en ‘n stad wat nog kom

Augustus 9th, 2008

Dr. Dirk Hermann

‘n Repliek tydens die konferensie oor nuwe idees vir nuwe tye
9 Augustus 2008

Ek het my dogtertjies se skopfietsies ingepak vir ons besoek aan Orania. Toe ons hier stop het hulle uitgespring en hulle het hulle fietsies gegryp en in die straat ingevaar. Ek wou eers keer, maar my dogtertjie het my herinner dat hulle mag want: “Pappa, ons het bordjies gesien wat sê kindertjies mag in die straat speel.” Wat ‘n abnormale samelewing hier in Orania waar my kinders uitbundig in die straat kan afjaag. Read the rest of this entry »

Strategiese oorwegings by ekonomiese ontwikkeling

Augustus 9th, 2008

Hannes du Preez

Read the rest of this entry »

Beleggings sonder monetêre opbrengs

Augustus 9th, 2008

Frans de Klerk

Om te belê in dit wat nie ʼn monetêre opbrengs lewer nie

Daar is vandag seker min twyfel dat die Afrikaner voor enorme uitdagings te staan gekom het. Sedert 1994 is die Afrikaner van alle politieke mag gestroop, word sy voorbestaan bedreig deur grootskaalse emigrasie en ʼn groeiende misdaad aanslag en sy sosiale- en gemeenskapstrukture het in baie opsigte in duie gestort. Dit het onder andere gelei het tot groeiende armoede onder ʼn groot deel van sy bevolking.
Read the rest of this entry »

Daarheen is ons op pad

Augustus 9th, 2008

Carel Boshoff IV

Nuwe antwoorde vir nuwe tye
Saterdag 9 Augustus 2008 om 9:00 in die Gemeenskapsaal van Orania
Read the rest of this entry »