Oraniërs weet hoe om ‘n feestelike kuierskou te hou. Vanjaar is die tiende suksesvolle skou op 1 en 2 Mei aangebied. Die skou het van ‘n nederige (maar vrolike!) begin gegroei tot ‘n skou met vyftig stalletjies en eenduisend besoekers oor twee dae.
Die skoubedrywighede het egter reeds Donderdag met die Skoukonsert begin. Die weninskrywing in die eenbedryfafdeling deur Francois de Vos, Tant Betta maak ‘n kopswaai, was ‘n humoristiese uitbeelding van die idee van selfwerksaamheid. Verskeie wengedigte is voorgedra en die gewilde Koeksisterlied van Christiaan van Zyl is aangewys as die wenliedjie.
Vrydagaand het Mejuffrou Skou, Estella Boshoff, haar kroon tydens ‘n pragtige glansgeleentheid gekry. Orania se mooistes het saam met hulle maats die dansbaan geopen, waarna die skoudans gevolg het.
Prof. Carel Boshoff, stigter van Orania, was vanjaar die gasspreker tydens die openingseremonie. Hy het dit sterk beklemtoon dat Orania nie net beskore is vir sommige Afrikaners nie, maar die tuiste van alle Afrikaners behoort te wees.
Die Orania Bewarea doen jaarliks groot moeite met hulle stalletjie en was vanjaar weer die wenner van die beste stalletjie op die skou. Johan en Klein van Vuuren van Orania was saam met Ronelle Visagie, ‘n bekende in bewaringskringe en betrokke by EWT, verantwoordelik vir die wenstalletjie. ‘n Petisie om ‘n unieke Vaal Kameeldoringwoud in die Hopetowndistrik te red, wat nou geoormerk is vir uitwissing sodat landbouontwikkleing daar kan plaasvind, is fluks by die stalletjie onderteken.
Die skou is ook die geleentheid waar die Orania Dorpsraad ‘n bedrag van tienduisend ora aan Orania-ouers betaal wat die afgelope jaar ‘n nuwe baba ryker geword het. Die ora is Orania se plaaslike geldeenheid. Sewe ouerpare het vanjaar die skenking ontvang. Die ouers ontvang tweeduisend ora onmiddellik, terwyl agtduisend ora vir die baba belê word en vir skoolfonds beskikbaar gestel word sodra die kind skoolgaande ouderdom bereik.
Een van die aanskoulikste items wat tydens die skou aangebied word, is die perd-en-fietskompetisie. Perderuiters en fietsryers ding oor ‘n afstand van tien kilometer mee. Die kompetisie is nog net een keer deur ‘n fietsryer gewen. Vanjaar se wenner op sy Nooitgedachtponie was Gabriël van den Berg.
André Coetsee se gimnastiekleerlinge het oud en jonk laat snak na hulle asems met die asemrowende bollemakieies en ander toertjies wat hulle met grasie uitgevoer het. Dit het sommer maklik gelyk om so deur die lug te vlieg…
Op Saterdagmiddag het die verrigtinge na die Ovaalbaan, Orania se jaagbaan verskuif. Daar het die stof gewaai en modder gespat soos motorfietse, viertrekmotorfietse en motors die bane tot op die uiterste beproef het toe die jaers hulle bestuursvernuf ten toon gestel het.
Volgens die Oraniërs sowel as besoekers wat die skou bygewoon het, was dit ‘n heerlike kuiergeleentheid waar hard gewerk is, maar tog genoeg ruimte geskep is om langasem te gesels en die samehorigheid van ‘n unieke gemeenskap te geniet.
Lida Strydom