Maandelikse Argief vir Junie, 2009

Nuusbrief 29 Junie 2009.

Orania Nuusbrief – 29 Junie 2009
Nommer 32

Monitor Orania se geïntegreerde ontwikkelingsplan

Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van die Orania Bewegings is genooi om in die aktualiteitsprogram, Monitor te gesels oor Orania se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) wat so pas voltooi is.  Die Stad- en Streekbeplanner, Louw van Biljon het ongeveer twee jaar lank aan dié gedetailleerde plan gewerk en dit sal op 8 Augustus tydens die jaarlikse Burgervergadering deur Louw bekend gestel word.  Op Orania word baie aandag gegee aan lokale en volhoubare ontwikkeling.  Daar sal ook gesels word oor die noodsaaklikheid van doeltreffende munisipale bestuur wat Orania nastreef.  Kom op die hoogte van die nuutste Oranianuus: luister Dinsdagoggend, 30 Junie om tien oor sewe na Monitor op RSG!

Frans de Klerk

Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Van hoek tot kant beplan!

Projek Elim Steen vir Steen se fonds staan nou reeds op ongeveer R350 000.  Meer as die helfte van die beoogde R500 000 is dus reeds vir dié projek ingesamel.  Die doel van hierdie projek is om tien nuwe woonstelle vir Afrikaner jongmanne by Elim te bou.  Vier dinees is in Bloemfontein, Orania, Potchefstroom en Pretoria gehou om die fondsinsameling ‘n hupstoot te gee.  Ondersteuners van Orania het hulle harte oopgemaak vir die projek en geesdriftig bygedra.  Die goeie nuus is dat die planne vir die nuwe woonstelle deur Orania se plaaslike argitek, Christiaan van Zyl, gefinaliseer is en by die Orania Dorpsraad ingedien is vir goedkeuring.  Bouwerk sal dus baie binnekort kan begin!

Model

Hierdie model wys hoe die beplande woonstelle by Elim sal lyk.

Wyse uil bly ewig student

‘n Gevlekte ooruil het besluit dat hy soveel as moontlik wil put uit die leeromgewing wat die Orania Volkskool bied en het gaan nesmaak in ‘n opening tussen die dak en die plafon van die skoolsaal.  Hoe wys die uil in sy keuse van Volkskool was, blyk uit die besluit van die skoolbestuur om die nes te beskerm toe die dakstruktuur onlangs herstel moes word.  Daar word gedurig sisgeluide uit die dakhoogte nes gehoor, wat daarop kan dui dat daar op die oomblik kleintjies is.  Hoewel die braakbolletjies en die uilmis ‘n morsigheid by die skool se ingang veroorsaak, is besluit dat die voordele wat die uil se teenwoordigheid bied, groter gewig dra.  ‘n Kolonie vlermuise het dieselfde hoek gekies om hulle skoolkennis uit te brei, waarskynlik omdat daar gereeld ‘n lig brand en baie insekte so aangetrek word.  Die goeie werk wat vlermuise doen is kosbaar en daarom is daar vir hulle ‘n vlermuishotel opgerig sodat hulle in styl hulle daaglikse werksaamhede kan uitvoer.

Onthou 8 Augustus

Alle belangstellendes word baie hartlik uitgenooi om die Burgervergadering van die Orania Beweging op 8 Augustus by te woon.  Hierdie byeenkoms bied aan ondersteuners van die Orania-idee die geleentheid om op die hoogte te kom van gebeure in Orania.  Die jaarverslag sal aan die vergadering voorgehou word en die verkiesing van die Burgerraad sal ook plaasvind.  Nominasievorms vir kandidate is by die Orania Beweging beskikbaar en moet die kantoor voor 1 Augustus bereik.  Ebert Terblanche, Orania se jong, inwonende ouditeur sal aan die vergadering verduidelik hoe die Orania Beweging Ontwikkelingsfonds as instrument vir kapitaalvorming gebruik kan word.  Zani Jooste, ‘n landskapargitek sal meer vertel oor haar betrokkenheid by Orania se estetiese ontwikkeling en Louw van Biljon, ‘n Stad- en Streekbeplanner sal die geïntegreerde ontwikkelingsplan wat hy so pas vir Orania voltooi het, verduidelik.  Dit is baie belangrik dat ondersteuners van Orania hierdie vergadering sal bywoon.  Die volledige program vir die Burgervergadering is beskikbaar op die webwerf www.orania.co.za

Maak skerp die potlode!

Gerhardus Thompson is ‘n geesdriftige Orania-uitwoner.  Hy woon tans in Taiwan vanwaar hy die jaarlikse Afrikaanse Wetenskapfiksie- en  Fantasie-skryfkompetisie vir Oraniërs en ondersteuners van Orania loods.  Die verhale van die wenners in die eerste rondte van dié kompetisie is in ’n bundel opgeneem en is beskikbaar teen R50 plus posgeld by die Orania Beweging Boekwinkel.  Die volgende kompetisie is reeds geloods en die sluitdatum is 5 September 2009. Goeie pryse is op die spel!   Nuwe nuus is dat ‘n wetenskap-fiksiekunskompetisie ook nou geloods is. Dié kompetisie sluit reeds op 1 Julie 2009.

Meer inligting by Lida Strydom by
redakteur@orania.co.za of 053 2070057.

Stories

Die eerste bundel met Afrikaanse Wetenskapfiksie- en Fantasiekortverhale wat deur Gerhardus Thompson uitgegee is.

Buitebeleggers ontdek ‘n geleentheid in Orania

Christo Opperman, ‘n siviele ingenieur van Pretoria, het onlangs besluit dat Orania die aangewese plek is om nou in te belê.  Christo het ‘n mooi hoekerf in Orania-Wes uitgesoek en ses meenthuise is deur die plaaslike argitek daarop ontwerp.  Die eerste huis in die Marnatie-ontwikkeling is byna voltooi en die tweede is byna halfpad.  ‘n Afrikaner-bouspan wat goeie kwaliteit werk lewer, trotseer sowel Orania se snikhete somers en snerpende winters om dag na dag aan die huise te bou.  Die bouers lê tot tweeduisend stene per dag.  ‘n Bonus vir Orania is dat van Orania se jongmanne ook hier die geleentheid gebied word om in die boubedryf opgelei te word.  Vir meer inligting oor die meenthuise skakel Christo Opperman by 083 225 8199.

Leeslustiges soek nuwe boeke

Die Orania Biblioteek lewer ‘n baie waardevolle diens aan Oraniërs.  Die biblioteek se boekery is afkomstig van skenkers wat lojaal is aan Orania.  Ongelukkig is van die boeke in die versameling reeds baie verouder en word daar dringend gesoek na nuwe boeke, veral meer moderne letterkunde van bekende skrywers in beide Afrikaans en Engels.  Indien u dus onlangs ‘n nuwe boek aangeskaf of persent gekry het wat u klaar gelees en baie geniet het, maar wat nou net op ‘n rak gaan staan, oorweeg asseblief om dit aan Orania se biblioteek te skenk.  Dit sal hier met groot gretigheid gelees word.  Doen asseblief navraag by Mildred Conradie by mildredconradie@gmail.com

Lopende Besigheid te koop

Roelien de Klerk Juwele, is ‘n gevestigde en suksesvolle juweliers- en geskenkewinkel in Orania.  Hierdie besigheid word nou te koop aangebied. Belangstellendes kan vir Roelien de Klerk tussen 9:00 en 16:00 by 053 207 0282 of by 083 683 3070 skakel.

Die nuusbrief is saamgestel deur Lida Strydom vir die Orania Beweging.
Moet asseblief nie op hierdie e-pos antwoord nie. U is welkom om kommentaar te lewer of navrae te rig aan redakteur@orania.co.za.
Teken in of uit deur ‘n vonkpos te stuur aan magriet@orania.co.za.
Skakel die Orania Beweging by 053 207 0062 vir meer inligting oor Orania.
Om aan te sluit by die Orania Beweging skakel 053 207 0062 of skryf aan
oraniabeweging@orania.co.za.
Eie grond. Eie arbeid. Nuwe toekoms.

Powered by PHPlist2.10.5, © tincan ltd

Dit kan nie waar wees nie!

Hiermee word oud en jonk hartlik uitgenooi om deel te neem aan 2009 se Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasieskryfkompetisie.

1. Opdrag:  Skryf ‘n Afrikaanse wetenskapfiksie of ‘n fantasiekortverhaal van jou keuse.

1.1       Hou die lengte van jou verhaal tussen 1000 tot 5000 woorde (meer is beter as te min).

1.2       Let op suiwer Afrikaanse wiskundige, wetenskaplike, biologiese, rekenaar-, mediese, sterrekundige, geskiedkundige en tegniese terminologie.

1.3  Bou sterk en oortuigende karakters. (karakterisering).

1.4  Werk aan funksionele en praktiese gedagtes en dialoë tussen jou karakters.

1.5  Skep ‘n oortuigende milieu waarin jou verhaal afspeel (verkieslik in en om Orania).

1.6  Beperk jou tot een storielyn. Daar is geen beperking op die gebied van intriges nie.

1.7  Maak gebruik van suiwer Afrikaanse idiomatiese taalgebruik.

1.8  Let op korrekte spelling en vermy die gebruik van uitheemse woorde bv. Engels, Duits ens.

1.9  Kyk na die gebruik van nuutskeppinge in jou verhaal. Afrikaans is ‘n lekker taal, gebruik dit.

1.10 Let ook op jou styl.

2.  Inhandiging: Sluitingsdatum vir jou kortverhaal is 5 September 2009 en die wenners sal aangekondig word in Maart 2010.

Stuur jou kortverhaal en inskrywing aan: seunenmalinda@yahoo.com

-  Heg asseblief jou kortverhaal aan jou vonkpos getitel: MY VERHAAL

-  Heg die inskrywingsvorm afsonderlik aan jou vonkpos getitel: INSKRYWING

3. Pryse: Twaalf van die beste kortverhale sal gebind word in ‘n bundel.

Eeste plek:        Ontvang ‘n silwer medalje, ‘n kontantprys van Ø1000 en ‘n kopie van die bundel.

Tweede plek:    Ontvang ‘n kontantprys van Ø500 en ‘n kopie van die bundel.

Derde plek:      Ontvang Ø250 en ‘n kopie van die bundel.

Ander: Nege ander deelnemers ontvang elk ‘n kontantprys van Ø100 elk.

Elke deelnemer sal per vonkpos in kennis gestel word van ontvangs en indien jy niks van ons hoor nie, skakel ons dan gerus by die volgende vonkposadres: seunatw@yahoo.com

Volledige besonderhede by: http://www.afrifiksie.com/

Let daarop dat daar nou ook ‘n fantasie KUNS kompetisie bykom.

Die bundel wat die wenverhale van die 2008 kompetisie bevat, is op Orania beskikbaar (tel: 053 2070 057).

Die bundel van 2008 se wenverhale.

Die bundel van 2008 se wenverhale.

Tjailatyd.

Die platteland is vir verskeie redes toenemend aantreklik vir afgetredenes: veiligheid, prys van eiendomme, goeie verbinding met groter sentra en nog meer.

Orania se bestaansrede is anders as meeste dorpe, maar het tog ook behoefte aan afgetredenes: kundigheid, ondervinding, verminderde druk tov inkomstestrome en dies meer: daarom het daar by ‘n belegger die gedagte ontstaan het om ‘n ontwikkeling spesifiek vir afgetredenes aan te pak.  Baie werk is reeds gedoen en meeste van die uitdagings tov infra-struktuur is reeds bespreek.  As alles voor die wind gaan, sal die ontwikkeling voor die algemene jaarvergadering in Augustus gelê word, waar besluit sal word of die beplanning mag voortgaan.  Dit sal dus nog lank wees voor daar finaliteit is, en nog langer voor die eerste stene gelê word, maar dis seker nie vergesog om te hoop dat daar in 2010 navrae hanteer sal kan word nie.  Interessant dat die resessie in Orania soveel minder momentum het as buite?

Kan mens LEER skryf?

Orania vier op 14 Augustus Taaldag, en by hierdie geleentheid bied dr Bets Bosman op 14 en 15 Augustus ‘n skryfskool op Orania aan.  Soortgelyke aanbiedinge is tydens vorige jare se vieringe baie entoesiasties bygewoon, en dit mag die moeite werd wees om selfs spesiaal te kom kuier vir die geleentheid.  Skakel vir Francois de Vos by 053 2070 064 vir meer inligting.

Verskoon my, dame….

Andrea Mammes is een van die RSA se ondernemers wat nie skrik vir nuwe uitdagings nie.

Sy en ‘n vennoot bied onder andere kursusse in kwaliteitsversekering aan, maar kom die 18de Augustus Orania toe om ‘n ander soort gehalte te verseker: sy kom bied ‘n kursus in kantoor-etiket aan vir die Orania Beweging se personeel, maar ander besighede kan ook onderhandel om van hulle personeel in te skryf teen R250 per lid.  Let daarop dat die prys en datum nog voorlopig is.  Skakel met Frans de Klerk by 053 2070 057.

Midwinter fees.

‘n Paar vriende op Orania (meesal boere) het die gewoonte om presies in die middel van die winter ‘n fees te hou wat die draai van die seisoen vier.  Die afgelope paar jaar het ‘n groei in die gaste beleef vanaf ongeveer 4 mense tot 10.  Dit beteken dat op, of so na moontlik aan 21 Junie ‘n aand gekies word waarop vriendskap en lekker kos die ereplek inneem.  Tradisioneel is sop, tuisgemaakte ham en boerkool die hoofgeregte.

Daar word hard gewerk en baie besin op Orania, en geleenthede soos hierdie is waardevol om mekaar te bemoedig en vriendskappe te verstewig.  Ook word toenemend gepoog om die geregte van plaaslike produkte te berei.  Oor vark en sop hoef ek niks te sê nie, maar wie ken boerkool?  Hierdie waardevolle groente groei pragtig op Orania!

Nog ‘n hupstoot asseblief!

Ons het al heelwat berig oor die Steen-vir-steen projek ten bate van ons jongmanne (vir wie ons menswaardige behuising wil opknap), en ons is diep dankbaar dat ons reeds R350 000 van die beoogde R500 000 kon insamel.  Dit beteken dat ons voor die einde van 2009 nog net R150 000 moet insamel.

Die bouplanne vir hierdie projek is reeds ingedien en sal binnekort deur die Dorpsraad bespreek word.

Aangesien eie arbeid een van die belangrikste hoekstene van Orania is (saam met slim demografie), wil ons u graag weer herinner aan hierdie projek.  Besonderhede by 053 2070 057.

Ons voorlopige gedagte is dat ons vir 2010 een of ander opvoedkundige projek wil loods.  Is eie kolleges en ‘n universiteit buite bereik?  Ek glo nie!

Dolle vermaak.

Die meeste kunsfeeste in Suid-Afrika vind een maal per jaar plaas.  Dit veroorsaak ‘n geweldige druk program vir ‘n week of twee, en min besetting van byvoorbeeld gastehuise vir die balans van die jaar.

Sou dit moontlik wees om ‘n feitlik-jaarlange program aan te bied sodat daar gereeld kursusse, skoue of vermaak aangebied word en dus konstante aktiwiteit in Orania plaasvind: meesal dan kultuur- of geskiedenisverwant, of op een of ander manier verteenwoordigend van ons uitkyk en aard?

Ons hoor graag van lesers en ondersteuners: ons sal sekerlik nie alles kan implimenteer (in elk geval nie DADELIK nie!), maar ons beskou julle as ‘n uitgebreide dinkskrum.  Waar julle bereid is om aktief deel te neem sal ons dit ook graag wou hoor.  Skakel my by 053 2070 057 of inligting@orania.co.za

Karkaskenades.

Kaskarkaskenades!  Hierdie tongknoper kan dalk net ‘n baie lekker woord in Orania se woordeboek word!

Die Orania Akademie, waaronder Volkskool Orania tuishoort, het ‘n prettige plan bedink om die eksamenkoors baie vinnig af te bring, en terselfdertyd ‘n geldjie in te samel vir die Helpsaamfonds.  Die kompetisie se begronding sou “uitdagings” wees:  gelyksoortige bedrywe of instansies kon mekaar uitdaag in ‘n reeks tweestryde, en die “strawwe” kon prettig wees!  Koorlog, Radio Orania se jeugprogram, het byvoorbeeld vir Vrolikheid, die boeremusiekprogram uitgedaag, en toe laasgenoemde onverwags wen, moes Koorlog onderneem om Vrolikheid se kenwysie vir hulle eie jeugprogram te gebruik met die volgende uitsending.

Die algemene gevoel was dat hierdie item op die jaarprogram herhaling waardig is, en dit kan dalk bydra tot die ideaal om byna elke naweek (en later elke week) iets in Orania aan te bied vir toeriste.

"Vrolikheid" se kaskar.

"Vrolikheid" se kaskar.

Let op na die buffer van die kaskar hierbo. Ja, dis inderdaad ‘n konsertina!  “Vrolikheid” is tans een van die gewildste programme op Radio Orania.

Wat doen julle naweke?

Besoekers wil dikwels weet: “Wat doen julle alles op Orania?” of “Hoe maak julle ‘n lewe?”

Die vraag oor ekonomiese aktiwiteite is ingewikkeld en verg lang verduidelikings, maar dit raak al makliker om ons vermaak te verduidelik.  Daar is nou reeds vaste afsprake vir beide Vrydagaande en Saterdagaande vir diegene wat verveeld is.  Vrydae vind ons aandmark plaas waar slegs Orania produkte verkoop word, en slegs met ons eie Ora geld-eenheid betaal mag word.
Saterdagaande is daar ook vertonings van ou Afrikaanse, of selfs kunsfilms deur die Orania Filmvereniging.  Van die vorige films is o.a. “Seven brides for seven brothers”, “GI Blues”, “Fratse in die vloot” van Al Debbo, “My Fair Lady”, “Daar kom tant Alie” en nog vele meer.  Die vertonings word goed ondersteun en selfs besoekers word van tyd tot tyd vermaak.