Mens hoef nie groot te wees om goed te wees nie! Dit het Fransie Helberg (11) en Roedolph Schumann (13) bewys toe hulle Volkskool Orania se “Wiel omruil”- kompetisie loshande gewen het, al was hulle van die jongste deelnemers. Leerlinge moes ‘n motorwiel afhaal en weer terugsit. Fransie en Roedolp hierdie takie in 3.8 minute afgehandel het, 18 sekondes voor hulle naaste teenstander.
Maandelikse Argief vir Augustus, 2009
Op 22 Augustus 2009 het drie opeenvolgende vergaderings van aandeelhouers van Vluytjeskraal Aandeleblok Beperk (VAB) plaasgevind nl. die algemene jaarvergadering, ‘n spesiale vergadering en ‘n algemene vergadering. Die direksie kon met selfvertroue rapporteer oor die afgelope jaar se werksaamhede en ook beplanning voorlê vir die toekoms.
Daar was waarneembare groei in die meeste fasette van Orania se gemeenskapslewe waar dienste gelewer word. Ook is daar samewerking met ander Orania instellings wat hulle beywer vir Afrikaner vryheid.
Hierdie vergadering se bywoning deur 87 aandeelhouers is betekenisvol meer as die van vorige jare. Daar is tekens van energie en ‘n bereidheid om deel te neem. Belangrike aspekte wat hanteer en oor besluit is, is die volgende:
Die geouditeerde finansiële state vir 2008/2009 toon gesonde en verantwoordelike bestuur. Die groeitendense van vorige jare is steeds teenwoordig met ‘n inkomste groei van 17,9%.
Daar was drie vakatures vir direkteure waarvan een deur Orania Bestuursdienste (OBD) aangewys is naamlik Harry Theron. Die ander verkose lede is Bertus Steenkamp en Frans de Klerk.
Ontwikkelaars van buite het nou toegetree tot Orania se eiendomsmark met multi miljoen Ora projekte waarvoor op die spesiale vergadering die groenlig gegee is. Marnati meenthuis ontwikkeling van Christo Opperman beoog 6 meenthuise waarvan 2 byna voltooi is. Estellae eiendomme van Willie Schoeman het toestemming ontvang vir die ontwikkeling van ‘n aftreeoord van 35 eenhede.
Die algemene vergadering is ingelig oor ‘n direksie besluit van 15 Julie 2009 wat waarskynlik die mees rigtinggewende besluit vir toekomstige ontwikkeling van Orania se gemeenskap is sekert sy stigting in 1991. Dit is die aanvaarding van Louw van Biljon van Spatium se Geïntegreerde Ontwikkelings Plan (GOP). Hierdie plan is die produk van ‘n intensiewe navorsingsprojek wat oor drie jaar gestrek het . Dit is deur VAB en OBD gesamentlik gefinansier.
Gebaseer op huidige groei tendense word bereken dat in 2030 Orania ‘n bevolking van 20 700 mense moet kan huisves. Om dit te bewerkstellig word ‘n digtheid van 26 wooneenhede per hektaar benodig. Ander aspekte wat nodig sal wees is waterbesparende en elektrisiteitsbesparende maatreëls, verpligte afval sortering, droë rioolstelsels by nuwe uitbreidings, eie elektrisiteit opwekking, eie navorsings-instansies, en grondaankope.
Die plan maak voorsiening vir 3 opeenvolgende fases, met beskerming van landbougrond en ‘n groen gebied as belangrike kenmerke. ‘n Persoon wat na die plan geluister het, het opgemerk dat Afrikaner vryheid nou vir hom die eerste keer sigbaar geword het. Die uitdaging aan VAB is om uitvoering van die plan binne die berekende tyd moontlik te maak deur doeltreffende dienslewering.
ORANIËRS IS HIER OM TE BLY.
Berig deur dr Manie Opperman.
Orania se klimaat is een van redelike uiterstes: koud met ryp in die winter, en warm en lae humiditeit in die somer. Om ‘n idee te kry van hoe dit op enige gegewe tydstip lyk, kan u gerus die SA Weerdiens se webwerf gebruik: ek gee die skakel vir de Aar se weer (ongeveer 140 km vanaf Orania). http://dev2.weathersa.co.za/Weather.asp?Dte=Today&Vw=Over&Zoom=Regn&Ref=15&Ad=0&Skin=Default&ProdType=1&Menu=1&VI=False&M=1&ProdType=5&fpgid=7day68538
http://www.yr.no/place/South_Africa/Northern_Cape/Orania/ is weer ‘n oorsese voorspelling vir Orania self.
Soos wat dit verantwoordelike burgers betaam, dink Orania en sy vriende byna daagliks oor ons energiekrisis, maar veral hoe om ‘n beter toekoms te stook! Omdat ons nie alle kennis in pag het nie, skakel ons graag met elke belangstellende kundige wat kan help. As u dus chemiese, biologiese of genetiese kundigheid het, en wil help dink oor biobrandstowwe, skakel gerus met Gert Botha by gpb929@yahoo.com of met John Strydom by 053 2070 057.
Die naweek van 8 Augustus 2009 het vir baie ondersteuners ‘n nuwe hup in hulle stap gegee! Die neerpen van ontwikkelingsvoorstelle deur mnr Louw van Biljon (‘n stadsbeplanner) tydens die jaarlikse burgervergadering, is die gevolg van drie jaar se werk. Hy is self aan die woord:
Wat is ‘n Geïntegreerde Ontwikkelingsplan?
‘n GOP is ‘n beplanningsinstrument wat deur elke munisipaliteit in SA opgestel moet word. Dit stel die ontwikkelingstrategie en -beleid van ‘n dorp vas; dit dui die rigting van groei aan, die aard van ontwikkeling en dit spreek sosiale, ekonomiese en ekologiese kwelvrae aan. Dit funksioneer op oorhoofse skaal; dit ken nie regte aan grond toe nie. Laasgenoemde is die domein van ‘n dorpsbeplanningskema (of, die nuwe term: grondgebruikbestuurskema).
Die proses
Tydens die GOP-proses word die gemeenskap ontleed: die plaaslike ekonomie, maatskaplike situasie, institusionele, natuurlike en beboude omgewings. Terselfdertyd word die gemeenskap geraadpleeg aangaande hul persepsies van die dorp, hul behoeftes van en probleme met die dorp, toekomsvisie en verwagtings. Vir Orania is ‘n metode van vraelysonderhoude met fokusgroepe gebruik. Sowat 13 belangegroepe (skoolkinders, bejaardes, sakemense, uitwoners, amptenare, ensovoorts) is ondervra met ‘n totale steekproefgrootte van 138 mense (sowat 20% van Oraniërs).
Die inligting is gesintetiseer en daaruit is ‘n visie en ontwikkelingsdoelwitte geformuleer. Probleme en geleenthede is uitgewys, asook die potensiaal van die dorp. ‘n Ontwikkelingstrategie is opgestel en verfyn sodat dit in beleid omskep kan word. Die beleidsvoorstelle het tot die identifisering van projekte gelei: in totaal is 152 beleidspunte voorgestel, met 150 projekte wat daaruit geïdentifiseer is.
- Ekonomiese visie
Orania sal selfversorgend wees ten opsigte van voedsel, water en energie. Orania sal ‘n netto uitvoerder wees van spesialiteitsprodukte, -dienste en -tegnologie. Orania sal ‘n breëbasis- ekonomie hê, waaronder landbou, opleiding, navorsing en ontwikkeling, spesialisvervaardiging, dienslewering (finansies, professioneel, gesondheid, tegnies), energie, die kunste en inligtingstegnologie. Orania sal die sentrum van ‘n gesonde streekekonomie wees, met satellietbedrywe in buurdorpe (binne, sowel as buite Orania se regsgebied).
- Ekologiese visie
Orania sal ‘n netto-uitvoerder van ‘eko-energie’ wees. Orania sal organiese landbou bedryf. Orania se natuurlike omgewing (insluitend die dorpsmeent) sal herstel wees na dié van ‘n ongeskonde Nama-Karoo. Stedelike Oraniërs sal binne stapafstand van die natuur wees en die dorp sal deurkruis wees met ekologiese korridors waarlangs wild ook sal kan beweeg. Orania se sterrehemel sal so duidelik wees as vóór die koms van nedersettings, omdat ligbesoedeling voorkom word. Orania se uitskotwater sal skoner wees as dit wat inkom. Orania sal afvalvry wees. Orania se koolstofvoetspoor sal kleiner wees as die Afrika-gemiddelde.
- Sosiaal-maatskaplike visie
Orania sal ‘n Afrikaanse, selfwerksame, aardse, hoogsopgeleide, vriendelike, veilige, gesonde gemeenskap wees. Orania sal ‘n diverse Afrikanergemeenskap hê: alle beroepsgroepe en ‘n gebalanseerde geslags- en ouderdomsverdeling. Orania sal ‘n hoë vlak van sosiale kapitaal handhaaf (groepsinteraksie en hoë vlakke van lidmaatskap aan organisasies). Daar sal geen armoede in Orania wees nie. Orania sal ‘n bevolking van ten minste 30 000 hê.
- Stedelike habitatsvisie
Die Orania stadstaat se stedelike omgewing sal ‘n hoë digtheid met lae dienstekoste hê. Orania sal die volle spektrum van woningstipes hê om aan alle behoeftes te voldoen. Orania sal ‘n duidelik leesbare stadsomgewing hê met ‘n hoë simboliese waarde. Vervoermodusse sal hoofsaaklik voetgangers en fietsers wees, met openbare vervoer waar doenlik en nodig. Alle geboue sal met sonwaterverwarmers, reënwateropvangs-, sonenergieopwekkings-, gryswaterfiltrerings- en ekoriooltoestelle, toegerus wees. Gesuiwerde water sal slegs vir drink-, kook- en wasdoeleindes gebruik hoef te word. Tuinmaak sal inheems wees. Alle geboue sal passief en klimaatsensitief wees. Alle stormwater sal ekologies bestuur word. Gemengde grondgebruike sal oorheers, wat beteken dat die meeste mense vanaf hul huise sal werk en binne stapafstand van noodsaaklike dienste sal wees.
Sover die aanhaling. Hierdie beplannings is natuurlik net ‘n raamwerk, en daarna moet die Dorpsraad ‘n proses van goedkeuring en implimentering van goedgekeurde doelwitte volg.
Mev Zani Jooste (‘n landskaps-argitek) se inleidende paragraaf laat mens dadelik regop sit:
“‘n Britse antropoloog, Max Gluckman, het jare gelede opgelet dat skinder die wese van ‘n gemeenskap vorm. Skinder is volgens hom só belangrik vir die vorming van ‘n samehorigheidsgevoel tussen groepe dat hy voorgestel het dat beplanners doelbewus opspraak moet verwek, soos hy dan ook gesê het: “Miskien is dit hulle plig om redes vir skinder te voorsien.”"
Ebert Terblanche het gepraat oor kapitaalvorming, en sy slot is hier aanhalingswaardig: “Wat die lede van hierdie vergadering egter altyd moet eis, is goeie rekenskap.”
Die volledige voorleggings is beskikbaar by die kantoor van die Orania Beweging (053 2070 057: Lida Strydom)


