Daar word vanjaar al vir die negende jaar op Orania ‘n Wetenskap en Kunstefees aangebied. Hierdie uiters interessante program word aangebied deur kundiges van Orania en elders in die land, en die program en besonderhede is beskikbaar op www.oranet.co.za deur die skakel in die middel van die blad te volg.
Datum: 30 September tot 3 Oktober 2009.
Francois Joubert (082 4535 869) is die oorhoofse organiseerder.

Billy Six is ‘n onwaarskynlike naam vir ‘n Oos-Duitser, maar so het hy homself voorgestel. Hy beweer dat hy al 14 maande per voet vanaf Berlyn reis. Sy reis het hom deur verskeie Afrikalande geneem: van oorloggeteisterde gebiede, deur maagprobleme, koue en avontuur, en oral veilig totdat hy in Suid-Afrika beroof word (twee maal)!
Billy het ‘n paar dae in Orania deurgebring omdat hy ‘n artikel in die Duitse media gesien het, en omdat hy ook in politiek belang stel (en betrokke is).
Veilig reis, Billy!

Billy Six snuffel in die Boekwinkel.

Bloubul Kriel en Blouwillem Theron.
Vir geruime tyd reeds probeer Blouwillem Theron (Van BlouwilleMaandag faam) om die lastige Bloubul ondersteuner van Orania in sy artikels te verguis, maar so maklik kry jy nie ‘n Orania pionier onder nie!
Einde ten laaste het Blouwillem besluit om die saak aangesig tot aangesig finaal af te handel.
Theron, wat voltyds fondse werf vir die Kovsie Alumni fonds, moes naby Orania verby en het terstond vir Bloubul Kriel gebel om hom te waarsku dat hy hom wil spreek. Oom Kallie het vreesloos by die dorps-ingang posisie ingeneem met ‘n besemstok in die gereed-posisie, vas onder die indruk dat Blouwillem sy vrou sou voorstoot (Kriel had in sy geestesoog ‘n kwaai, forsgeboude tierboskat). Met die aankomslag blyk dit toe dat Blouwillem self voorloop, dat beide hy en sy vrou heel normale afmetings het, en dat niemand tande wys nie! Oom Kallie se hart is maar klein, en dit het presies 20 sekondes geneem vir die twee geswore vyande om dik vriende te raak. Pleks van provinsiale vyande, is hulle nou rugbyvriende!
‘n Lastige nadraai is dat oom Kallie nou die hele dorp vol loop met die boek wat Blouwillem spesiaal vir hom geteken het, en sy vrou kla van slaaploosheid (en die bure skinder fluks) weens oom Kallie se lagbuie wat die bed so laat skud!