Maandelikse Argief vir Oktober, 2009

Erkenning vir prof. Carel Boshoff

Daar word dikwels gesê dat leiers die vermoë het om oor die bult te sien.

Sestig jaar gelde is die kerngedagte van wat tans op Orania gebeur reeds voorsien en bedink deur oa prof Carel Boshoff en dr Chris Jooste, en min mense het hulle destyds daarvoor geloof.  Meer onlangs is daar egter toenemend instansies en individue (ook van die media) wat begin erken dat Orania minstens deel van die oplossing is.

Prof Boshoff het egter meer gedoen: hy was aktief betrokke by verskillende aspekte van kultuurbewaring en -bevordering onder die Afrikaners, en daarvoor vereer die FAK hom op 30 Okt met een van twee uitsonderlike Erepennings vir Kultuurdiens (die ander gaan aan mnr Pieter van der Westhuizen van Stellenbosch).

Ons hartlike gelukwense aan ‘n waardige inwoner van ons opwindende dorp!

Arbeidskonferensie verslag

Arbeidskonferensie in Orania

Orania is nie maar net nog ‘n dorp in die Noord-Kaap nie.  Die dorp is veral bekend vir sy arbeidsbeleid waarvolgens slegs Afrikaners in diens geneem word. Die gebruik van eie arbeid, of selfwerksaamheid soos wat dit in Orania bekend staan, het die afgelope agtien jaar deur verskeie ontwikkelingsfases gevorder.

Op 17 Oktober het die Orania Beweging ‘n konferensie gehou waar arbeidsvraagstukke bespreek is.   Sowel werkgewers as werknemers uit Orania het die konferensie bygewoon en gaste van tot sover as Bloemfontein en Pretoria het by die konferensie geregistreer.

Vir Oraniërs loop die pad na vryheid vir Afrikaners hand aan hand met selfwerksaamheid.  Hiervolgens word geoordeel dat politiek en arbeid nie geskei kan word nie.  Dit is die arbeiders in ‘n land wat met hulle stemreg bepaal wie die regering is wat aan bewind kom.  Waar van vreemde arbeid gebruik gemaak word, sal die uitkoms dus anders wees as waar eie arbeid gebruik word.  Om ‘n volk die vermoë te gee om oor homself te regeer, is dit dus noodsaaklik dat daardie volk ook sy eie arbeid sal verrig.  In die proses kan die volk dan ook nie daarvan beskuldig word dat hy ander volke die “vuilwerk” laat doen nie.

Die eerste sessie van die konferensie met die tema: Die werklikheid van eie arbeid: lesse, waarnemings en uitdagings het spesifiek gekyk na die uitdagings wat eie arbeid stel en ook gekyk na bepaalde oplossings wat reeds suksesvol geïmplementeer is.  Mnr. Renus Steyn, ‘n gastehuiseienaar en boukontrakteur het die inleiding behartig. Volgens Steyn het die vestiging van eie arbeid op sowel indiwidue as onderneming ‘n dramatiese effek gehad.  Sommige werknemers was aanvanklik ver verwyder van die ideaal van Orania.

Steyn het dit beklemtoon dat die proses om eie arbeid te vestig “hoë eise aan ons psigiese, emosionele en ek wil dit beklemtoon, intellektuele  vermoëns stel.”    Hy het ook aangehaal uit ‘n toespraak van prof Carel Boshoff wat in  Maart 1990 tydens ‘n vergadering op Remhoogte, Stellenbosch gesê het: “Die swart arbeidsmag in Suid-Afrika het die vryheidsmag vir swartmense geword.”   Volgens Steyn het min mense, selfs min Afrikaners, toe hierdie stelling verstaan.  Hy het verder gesê: “Ons eie proses tot vrywording sal  deur ‘n  mag van goed  opgeleide en gemotiveerde werknemers bepaal  word.”

Mnr. André Coetsee is die mede-eienaar van die gewilde Oewerpark in Orania, hy is ook ‘n sakeman met ‘n bouonderneming wat onder andere tans saam met sy span, bou aan ‘n luukse vierster-hotel op Orania.  Tydens sy referaat het Coetsee die invloed van sy agtergrond in die Suid-Afrikaanse Lugmag verduidelik.  Hy het die stelling gemaak dat een van die grootste probleme onder die gemiddelde Afrikaner die vrees is om foute te maak.  “Ons was almal deel van ‘n opvoedingsisteem waar jy onmiddellik gestraf is sodra jy ‘n fout begaan het.  Hierdie sisteem moedig ‘n kind geensins aan om uit foute te leer nie.  As volwassenes het ons nou hierdie ingeboude vrees en baie mense sal veel eerder niks doen, as om die risiko te loop om iets verkeerd te doen nie.  ‘n Fout beteken mislukking in jouself en juis daarom sal ‘n persoon eerder ‘n leuen vertel of ‘n verskoning daarvoor probeer uitdink, as wat hy die fout erken.  Wanneer spanlede medeverantwoordelikheid neem vir foute wat moontlik mag insluip, word dit nie as ‘n persoonlike neerlaag ervaar wanneer so ‘n fout uitgewys word nie, maar word dit ‘n geleentheid om te leer en te verbeter.  Op hierdie manier word verseker dat die eindproduk die beste moontlike vakmanskap reflekteer.”

Die Elim Arbeidsentrum speel ‘n belangrike rol in die huisvesting en beskikbaarstelling van arbeiders op Orania.  Mnr. Willie du Plessis is die bestuurder van Elim en het die behoefte van mentorskap vir nuwe aankomelinge wat arbeid in Orania kom verrig, uitgespreek.

Mnr. Willie Nel, nog ‘n sakeman van Orania wat onder meer betrokke is by die verspreiding van hondekos in die Noord-Kaap en Vrystaat, het gewys op die pligte en verwagtinge van sowel werknemers as werkgewers.  Hy het ook daarop gewys dat werknemers oor die algemeen baie aandag op die geestelike-, sosiale-, maatskaplike, -ekonomiese en -politiese terrein verg, voordat hulle spontaan deel kan word van Orania se arbeidsmag en gemeenskap. Nel het dit egter ook duidelik gestel dat leeglêrs nie op Orania aard nie.

Dr. John Strydom, ‘n inwoner wat glo aan voorkomende gesondheid, het in ‘n kreatiewe Powerpoint-aanbieding getoon hoe arbeid met verskillende metodes bespaar kan word.  Hy het skyfies gewys van sy geïntegreerde boerdery waar hy met permakultuurbeginsels talle werksbesparingsbeginsels toepas.  “Doen eers genoeg kopwerk voordat jy fisies begin werk.  So sal jy baie maniere vind om jou werk makliker en meer doeltreffend te maak.”

Mnr. Christo Opperman, ‘n ingenieur van Pretoria wat onlangs ook in die boubedryf op Orania betrokke geraak het, het ‘n vergelykende studie tussen Orania en ‘n Oos-Kaapse dorp gedoen.  Hy het die groot omset van arbeiders in Orania aan die hand van Maslow se teorie verklaar.  Hy het daarop gewys dat emosies teenoor logika te staan kom tydens besluitnemingsprosesse.  Wanneer die twee sisteme in botsing is, wen die ondervindingsisteem altyd. Dus, die emosie en die persepsie van die individu sal altyd wen teenoor ‘n logiese argument.  Die individu sal nooit oortuig word deur ‘n logiese argument indien sy emosie nie voorsiening maak vir die aanvaarding van die argument nie.  Werknemers en die Orania-gemeenskap sal dus moet moeite doen om arbeiders ook emosioneel geborge te laat voel.

In sy opsomming van die konferensie het mnr. Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging dit beklemtoon dat arbeidsontwikkeling nie van gemeenskapsontwikkeling geskei kan word nie.  Hierdie twee aksies moet hand aan hand loop om Orania se arbeidsmag ook te laat mee werk aan die doel van Orania: vryheid vir die Afrikaner.

Orania skoliere oes medaljes.

Klein botteltjies, groot gif.  Charlene Buitendag (12) en Lize Coetsee (12), leerlinge van Volkskool Orania, het hierdie gesegde waar bewys toe hulle die afgelope naweek ‘n spesiale prys losgeslaan het tydens die Nasionale Jong Wetenskaklikes Ekspo in Pretoria.   Hulle binnebandsonstofie-projek het die “Farady”-toekenning ontvang vir ‘n uitstaande en innoverende projek.  Altesaam 553 projekte van leerlinge vanoor die hele land wat op provinsiale vlak gekwalifiseer het vir deelname, is vir hierdie Ekspo ingeskryf.   Die standaard was baie hoog en leerlinge van graad 4 tot 12 het deelgeneem.  Vir twee laerskooldogters om teen hierdie sterk kompetisie so ‘n nasionale toekenning te ontvang, is geen geringe prestasie nie.  Waarmee dié twee natuurlik die mees ingenome is, is die R1000.00 wat hulle as prysgeld ontvang het!

Die binnebandsonstofie wat Charlene en Lize ingeskryf het, is van herwinde materiaal gebou.  Tydens die aanbieding van hulle projek aan die beoordelaars het Charlene en Lize  verduidelik dat met hulle stofie kos gaargemaak kan word sonder dat die gebruiker enige kostes hoef aan te gaan.  So ‘n stofie kan dus ‘n bydrae tot armoedeverligting  lewer.  Die gebruik van sonenergie is ook ‘n pluspunt omdat dit ‘n skoon kragbron is wat nie besoedeling veroorsaak nie.  In ‘n tyd waar aardverwarming ‘n gonswoord is en almal aan die dink het, is dit nodig om alternatiewe te vind vir besoedelende steenkoolkragopwekking.

In hulle pryswennersverslag het die beoordelaars spesiale melding gemaak van die hoogstaande navorsing en uitstekende aanbieding van die projek.  Die twee deelnemers is aangemoedig om ‘n loopbaan in ingenieurswese en tegnologie te oorweeg.  En as die twee jong deelnemertjies se entoesiasme ‘n maatstaf is, is dit nie onmoontlik nie!

Lize en Charlene spog met hulle medaljes.

Lize en Charlene spog met hulle medaljes.

Maar dis nie hier waar Volkskoolleerlinge se prestasie eindig nie!  Tydens die Nasionale Afrikaanse Ekspo by die Universiteit van Pretoria in September is twee silwer medaljes aan Danie Els en Corianca Oosthuizen toegeken vir hulle skeppende skryfwerk.  Danie het ‘n goue medalje met net een punt misgeloop!  Dit is die tweede opeenvolgende jaar dat Volkskoolleerlinge op hierdie vlak presteer en bewys het dat hulle landswyd kan kompeteer  -  en presteer!

Nog is het einde niet!  Tydens die Orania Wetenskap Ekspo het Volkskoolleerlinge skoonskip gemaak en al die medaljes wat toegeken is, verower.  Dawid Jacobs het met sy  navorsing oor breinfunksies ‘n silwermedalje verower, en Roedolph Schumann en Joanelle Everson het weggestap met brons medaljes.

goud-41

Lize, Charlene en Dawid.

Mamma maak my slim.

Nege jaar gelde het Francois en Annatjie Joubert ‘n droom gehad: ‘n jaarlikse fees waar kinders speel-speel kan leer, volwassenes lag-lag kan speel, en kuiergaste leer-leer kan lag!  Daarby moes dit skoliere voorberei vir, en inlig oor moontlike loopbane.

Vanjaar het die negende Orania Wetenskap en Kunstefees plaasgevind met 145 inskrywings vir 21 kursusse.  Van die mees junior kinders (musiek, drama) tot die diepste filosofie (Vryheid, Volhoubaarheid en Kanker) is bespreek, en ‘n loopbaan uitstalling het inligtingsmateriaal van verskeie tersiêre sentra aan leerlinge beskikbaar gemaak.  ‘n Ekspo van plaaslike produkte, asook van projekte deur leerlinge (waar die wenners kwalifiseer vir noemenswaardige borgskappe) het bygedra tot ‘n visuele fees.  Hierdie fees vind elke jaar vroeg in Oktober plaas, en die tiende verjaardag beloof groot pret in 2010.

Francois Joubert kan by 082 4535 869 gelukgewens word!

'n Woning word beplan

'n Woning word beplan

Radio operateurskursus.

Radio operateurskursus.

Arbeidskonferensie – 17 Oktober 2009

Die werklikheid van eie arbeid: lesse, waarnemings en moontlike oplossings vir Orania

Orania onderskei homself reeds vir agtien jaar van ander gemeenskappe in Suid Afrika deur die gebruik van eie arbeid. Hierdie beleid hou vele voordele vir Afrikaners in. Die geskiedenis het ons geleer dat eie arbeid die voorwaarde vir vryheid is. Terwyl Afrikaners in Suid Afrika nog afhanklik is van ander volkere om arbeid te verrig, sal hulle nooit ware vryheid kan beleef nie. Eie arbeid is die wese van Orania se bestaan en dit is ook die rede daarvoor dat Oraniërs reeds daagliks in vryheid leef.

Laai die volledige dokument af