
Op een van vandag se vergaderings het die lede ‘n rukkie stilgestaan by van 2009 se hoogtepunte. ‘n Paar is genoem deur verskillende persone:
Die skole se prestasies (mooi groei, en verskeie nasionale deelnames en medaljes).
Verskeie gastehuise en geriewe open hulle deure.
Die baie suksesvolle Steen-vir-Steen projek.
Die besoeke aan pres Zuma en deur Julius Malema (bring nou nog media belangstelling!)
Die arbeidskonferensie.
Groot vordering op die gebied van volhoubaarheid (alle nuwe woonhuise moet bv. sonwaterverwarmers kry).
Die Sakekamer se ekonomiese kongres.
Die langverwagte GOP wat vrygestel is.
Die argief kry momentum.
Hierdie webwerf kry nuwe lewe!
Met Sy hulp en julle entoesiasme kan 2010 net beter! Dankie!
Drie verteenwoordigers van die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, Godsdienstige en taalgemeenskappe(!) het op 23 November 2009 op Orania besoek afgelê.
Hulle is begerig om ‘n werksverhouding met hierdie gemeenskap te vestig, hulle kultuur te verstaan, en te verneem of Orania enige klagtes het oor skending van bogenoemde regte.
Daar word met waardering kennis geneem van die toenemende erkenning wat Orania kry.

Carel iv Boshoff, Julia Mabale, Adv. Madimetja Tisana, prof Carel Boshoff
Om die noodlot te vertrou om Orania te groei sal te stadig gaan!
‘n Besige naweek was die besigheidsgemeenskap van Orania se lot toe vanaf Vrydag 13 November tot Saterdag 14 November 2009 twee werswinkels en ‘n konferensie aangebied is! Plaaslike ondernemers, beleggers en kundiges van die Universiteit van die Vrystaat het saamgespan om Orania te ontleed op grond van gepubliseerde besigheids inligting vanaf 2001 tot 2009, en dit te vergelyk met verskillende groepe dorpe (Karoo, rivierdorpe en RSA dorpe). Dit is interessant dat Orania tov die bou- en konstruksiebedryf uitstaan teenoor ander dorpe: ‘n positiewe aanwyser?
Die naweek is afgesluit met ‘n dinee waar Phillip en Ella Kotze opgetree het, en gaste beskryf die geleentheid as “uitstekend” en “hoogstaande”.

Lede van die Orania Beweging is die “burgers” waaruit die “burgerraad” gekies word. Hierdie raad vergader een of twee maal per jaar en word beskou as ‘n soort “skaduregering”. Die raad het weer oor die naweek van 7 November 2009 vergader, en as een punt nou duidelik was, dan is dit dat daar lewe is!
Feitlik elke punt op die sakelys het getuig van vordering: een van die belangrikste aanduiders was verskeie besprekings oor die noodsaaklikheid van nuwe en sterker strukture. Enersyds is daar alreeds soveel strukture dat verwarring nou voorkom (‘n teken van groei!), en andersyds is daar ‘n behoefte aan nuwe strukture om die nuwe (groter) uitdagings te bestuur. Daar was ook oproepe om te verootmoedig, opnuut te kyk na Bo, en werklik te glo aan ons saak (met algemene steun ontvang). Ekonomiese ontwikkelingsplanne, werkswinkels vir groei en stygende ledetal en besoekerssyfers het almal bygedra tot ‘n gees van algemene optimisme.
Die naweek van 6 en 7 November is ‘n bedrywige een op Orania!
Behalwe vir ‘n Burgerraadsvergadering, maandelikse veiling, aandmark en vergadering van die VF+ jeug, is daar ook nog ‘n klavier-uitvoering deur die meester Benjamin Fourie op Saterdagaand om 7:00 nm in die Gemeenskapsaal (Ora 30). Vrydagaand word die jaarlikse HF Verwoerd gedenklesing ook hier aangebied. Inligting by 053 2070 057.