Na die tradisionele Geloftefees vieringe, is daar eers vir twee ure lank interessante geskiedenis gesels, en toe na ‘n lesing oor sterrekunde geluister wat deur prof Matie Hoffman van die Boyden sterrewag in Bloemfontein aangebied is. Selfs die kleiner kinders kon deur ‘n kragtige teleskoop kyk na die oorweldigende wonders van die sigbare heelal.
Maandelikse Argief vir Desember, 2009
Enige iets om die vakansie verby te kry! Een van die take tydens “Is jy die naam Boer werd?” was om die grootste moontlike aantal wasgoedpenne aan jou gesig vas te pen! “Warmgemaakte” peperkoek, chilli-melk en soortgelyke lekkernye moes afgesluk word, en gelukkig kon mens darem ook die Oranjerivier gebruik om af te koel!
‘n Amptelike vakansieprogram is een van die (vele) byvoordele wanneer mens Orania gedurende die somervakansie besoek.
Presies 90°. Waterpas. Daar word sekuur gemeet. Nog ‘n troffel klei en die steen word netjies geplaas. Die bouers ding onder die wakende oog van Neels Harmse mee om die beste hoek te bou.
Orania se ekonomie staan op ‘n paar verskillende pilare, tans is een van die lewendigstes die konstruksiebedryf. Dit is van groot belang dat die werk wat in die bousektor verrig word, van hoogstaande gehalte moet wees.
‘n Konstruksiemaatskappy het van Orania se versugting om bouers op te lei te hore gekom en aangebied om hulle geriwe vir ons manne beskikbaar te stel. Die drie bouers Wayne Joubert, Hennie Nicholson en Christo de la Querre is onlangs Johannesburg toe vir die aanvang van die opleiding. Omdat hulle reeds ervaring het, moes grootliks teorie en afronding van tegnieke bygewerk word.
Tydens die eerste week van Desember het Neels Harmse, opleidingsbeampte, Orania besoek om te help met praktiese afronding. Bouwerk begin natuurlik reeds by die aanmaak van die sementmengsel wat net reg moet wees, nie te nat of te droog nie. Daarna word die stene almal eers in die water gedompel, want ‘n mens bou nie met ‘n dors steen nie. Die waterpas is deurentyd byderhand en daar word gewys hoe om netjies te werk sodat daar nie duur sement op die grond beland nie.
Die vier aspirante sal binnekort ‘n vaktoets aflê wat internasionale erkenning geniet. Daarna moet ‘n gistingsproses begin, want van die vier word verwag om weer ander manne op te lei sodat Afrikaners weer as bouers bemagtig kan word. Dit is selfs moontlik dat amptelike opleiding hier aangepak kan word. Dit is belangrik dat ons alle werk self sal kan doen, sodat ons daardeur ons vryheid terugkry.
Tradisioneel is die boubedryf moeilik. Orania se arbeidsbeleid maak hierdie bedryf nog taaier. Met die vraag na behuising wat die afgelope twee jaar merkbaar gegroei het kan bouwerk wat nie heeltemal op standaard is nie, maklik bydra tot wrywing.
Oom Neels Harmse is egter hoogs tevrede met wat die manne reeds kan vermag. “Van hierdie manne sal ek verwag om my bou-evangelie te verkondig, dan sal ek weet dat dit sal voortleef.”
Daar is konsentrasie op die manne se gesigte as hulle die waterpas lees. ‘n Kop word goedkeurend geknik. Daar kan teruggestaan word om die bouwerk te beskou. Dis kwaliteit werk en dit is met Afrikanerhande gedoen. Dit is nog ‘n stap nader aan die ideaal wat Orania daagliks koester en ‘n bewys dat ons nie skrik vir wat na onoorkomelike probleme lyk nie!
Op 13 Desember 1999 het die NG Kerk Orania finaal toestemming ontvang om af te skei van die Hopetown NG Kerk. Die kerk-owerhede het die gemeente se vermoë om te oorleef sterk betwyfel, maar oor die afgelope 10 jaar het ‘n sterk gemeente ontstaan met ‘n eie kerkgebou en gesonde onderbou tov beide Woordverkondiging en infra-struktuur. Soli Deo Gloria!
Afrikaners is bekend vir hulle besliste menings, en ons geskiedenis is vol voorbeelde van gevalle waar burger-oorlog byna uitgebreek het.
NP van Wyk Louw het ‘n kragtige drama hieroor geskryf ( Kruger breek die pad oop) en Anje Boshoff het met ‘n groep amateurs hierdie stuk op die planke gebring as deel van die Orania Beweging se Desember Vakansieprogram.
Vir diegene wat dit nie kon sien nie, kan mens alleen maar sê dat die gehalte van die toneelspel en produksie in die algemeen werklik besonders was. Geluk aan alle betrokkenes!
Nuwe en potensiële inwoners wil gereeld weet of daar mediese, nood- en algemene dienste en goeie skole op Orania is. Een van hierdie aspekte word nou intensief aangespreek. ‘n Volledige oudit word tans gedoen oor waterverspreiding en optimum plasing van brandkrane, en intensiewe opleiding vir deeltydse brandweermanne is onlangs gedoen. ‘n Indrukwekkende demonstrasie is na die kursus aangebied, en gemoedsrus styg sommer ‘n kerf!




