Maandelikse Argief vir Januarie, 2010

Hiér is anderkant die kla

- Beeld

Orania het baie om te wys. Kom kyk maar self en besluit self, skryf Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Beweging.

Laat in Desember het ’n bouspan in Orania hard gewerk om nog klaskamers vir ’n plaaslike skool gereed te kry.

Die nuwe klaskamers moes vir die nuwe skooljaar gereed wees omdat die skool nie meer genoeg plek het vir die toenemende aantal leerlinge in Orania nie.
“Teen die einde van die jaar gaan die koshuis ook vol wees,” sê die bekommerde voorsitter van die skoolbeheerliggaam.

“Gaan ons vanjaar genoeg geld insamel om ons koshuisgeriewe ook nog uit te brei?”

Nog ’n bouspan – by Orania se Oewerpark langs die Oranjerivier – kon in Kerstyd ontspan.

Hulle het reeds aan die begin van Desember die bou van ’n nuwe viersterhotel in Orania voltooi. Verskeie ondernemings in die gasvryheidsbedryf in Orania het hul beste vakansieseisoen tot dusver gehad. Die Orania Beweging se toergidse sal ook, soos die skool se bouspan, hul verlof in die stiller maande moet neem.

Al hoe meer toeriste het Orania die vakansietyd besoek. Sommige dae moes van die toergidse tot ses besigtigingstoere per dag inpas.

Afrikaners is ontnugter

Maar wat sê hierdie toenemende aantal besoekers? Laat ek sommer dadelik byvoeg: Hulle is nie snaakse mense nie, maar gewone Afrikaners. Die soort wat Saterdagoggende in Menlyn Park rondloop en die middag rugby gaan kyk op Loftus.

Baie van hulle het waarskynlik ’n swembad en ’n lekker strooidaklapa tuis (met apologie aan Pieter du Toit se rubriek).

Hulle sê hulle voel onveilig in Suid-Afrika. Hul lewensruimte word bedreig en die reg op ’n menswaardige bestaan word hulle ontneem. Hulle vind dit ongelooflik dat hul kinders in Orania vryelik kan beweeg en dat dit hier veilig is.

Mense vertel ons uit eerstehandse ervaring van moord, roof en ander gruwelmisdade, van munisipale dienslewering wat in duie stort, van regstellende aksie wat hul kinders ontneem van die reg op ’n regverdige toekoms en van Afrikaanse skole wat in die hof moet veg om hul voortbestaan.

Wyle Chris Louw het hierdie frustrasie wat toenemend onder baie Afrikaners heers, goed opgesom toe hy in Beeld geskryf het: “Kom ons wees eerlik en erken dit. Die toekoms is swart.”

Tim du Plessis onderskryf hierdie standpunt van Louw wanneer hy in sy jongste rubriek skryf: “ ’n Breër wordende stroom van ontnugtering en verwyt loop deur die wit en die Afrikaanse gemeenskap. En hy’s diep. Dis in die bo-klas, die middelklas en laer af.”

Anderkant die kla

Die groeiende gevoel van frustrasie en verbittering onder baie Afrikaners roep onmiddellik die vraag op wat Louw ook gevra het: “En as ons klaar gekla het?” Wat doen ons hieraan? Kan daar iets anderkant die “kla” wees?

Op hierdie vraag het daar die laaste tyd onder Afrikaners verskeie antwoorde na vore gekom.

Vir Antjie Krog, byvoorbeeld, is die antwoord eenvoudig: “Beg to be black.”

Vir die grondwetskrywers en politici wat by die oorgang in 1994 betrokke was, kan die probleem nie so groot wees nie. Ons het immers ’n modelgrondwet. Een van die beste ter wêreld. Op die een of ander manier sal redelikheid intree en ten spyte van die teendeel sal die Grondwet die werklikheid verander en nie andersom nie.

Dan is daar nog dié wat dink dat Afrikaners nie ’n reg het om oor hul eie toekoms besorg te wees nie, maar hulle “eerder aan die kant van die honger, arm en vertrapte massa (moet) skaar”, soos Du Toit skryf.

Baie ander sien bloot nie kans om ’n antwoord te ontwikkel nie en kies emigrasie.

Daar is egter ’n groeiende groep Afrikanerdenkers wat besef dat daar by die oorgang in 1994 fundamentele foute begaan is en dat ons ’n nuwe beeld oor Suid-Afrika sal moet ontwikkel.

Nie ’n terugkeer na die ou bedeling nie, maar ’n alternatief vir die huidige sentralistiese een wat besig is om ’n al hoe meer ongenaakbare vorm aan te neem. Breyten Breytenbach formuleer dit só: “Dit beteken dat gesprekke, aangevuur deur ’n morele en praktiese verbeeldingsvermoë, rondom die noodsaak van ’n opnuut geformuleerde Suid-Afrika – gegrond in ’n bestel van funksionerende federale deelstate, met dieselfde regte en moontlikhede vir almal – op alle vlakke aan die orde van die dag moet kom.”

In reaksie hierop skryf Lawrence Schlemmer: “Die voorstel (van Breytenbach) kom breedweg ooreen met die beste deskundige voorstelle vir die hantering van kulturele diversiteit.”

Koos Malan onderskryf ook die uitgangspunt wanneer hy sê: “Ek bepleit lank reeds dat die sentralistiese, grondwetlike orde waaraan ons uitgelewer is deur ’n federale bedeling reggestel word.”

Veilig en Afrikaans

In dié politieke denkruimte kry Orania sy beslag. Of die regering bereid sal wees om die federale karakter van die Grondwet uit te bou, bly ’n ope vraag. Verskeie gesaghebbende politieke kommentators het al opgemerk dat Suid-Afrika ’n opvolgskikking nodig het. In Orania word daar egter ’n de facto federale werklikheid geskep wat uiteindelik beliggaam sal moet word in de jure-erkenning. Hierdie werklikheid word onder andere beliggaam deur ’n nuwe volhoubare ekonomie op die grondslag van selfstandigheid te vestig, skole te bou, goeie en betroubare munisipale dienste te lewer en ’n algemeen veilige en skoon omgewing te skep waarin ’n gesonde gemeenskapslewe kan gedy.

Reeds by die ontstaan van Orania het die leierskorps geweet dat die dorp nie in isolasie kan voortbestaan nie. Daarom is daar ’n gesonde wisselwerking tussen die Orania-gemeenskap, sy omgewing en die res van Suid-Afrika.

Of dit nou is met die honderde toeriste en joernaliste wat Orania jaarliks besoek, skakeling deur sakemanne wat hulle produkte elders verkoop, gesprekke met leiers in die ANC (soos pres. Jacob Zuma en mnr. Julius Malema) of gereelde deelname aan die openbare diskoerse in Suid-Afrika.

Hermann Giliomee haal Jane Jacobs, die invloedryke Amerikaanse antropoloog, aan in ’n referaat voor die kongres van Solidariteit se Helpende Hand op 22 Oktober verlede jaar in Pretoria. In haar boek Systems of Survival sê Jacobs dat gemeenskappe wat daarin slaag om op lang termyn te oorleef, vir hulself twee dryfvere ontwikkel. Aan die een kant ’n beskermdryfveer wat daarop gerig is om die gemeenskap lewend te hou en sy waar- des en kultuurerfenis te laat oorleef. Aan die ander kant is daar ’n handelsdryfveer wat ’n gesonde ekonomiese welstand vir die gemeenskap verseker.

Hierdie twee dryfvere is dan ook Orania se dryfvere en dit verseker dat die dorp elke jaar reële groei aanteken.

Daar is baie wanopvattings oor Orania. Hierdie wanopvattings word versterk deur rassiste met hul eie agendas en politieke kansvatters wat met stellings soos “ons eis ’n derde van die land” die geloofwaardigheid van die Orania-gedagte ondermyn.

Hierdie kwaadwillige en soms kru politieke retoriek word baie keer deur gretige joernaliste onregverdig op Orania se brood gesmeer. Sedert sy ontstaan het die dorp hom konsekwent hiervan gedistansieer en sal steeds nie toelaat dat opportuniste sy billike en regverdige strewes ondermyn nie.

Staan daar nie geskrywe dat ’n boom geken sal word aan die vrugte wat hy dra nie? As ’n boom vrugte dra van ontwikkeling, veiligheid, gesonde bestuur, vooruitgang, ’n veilige Afrikaanse omgewing, werkgeleenthede vir baie arm Afrikanergesinne wat elders uitgestoot is en glimlaggende kinders wat die strate vol speel en in die swembad baljaar, is dié boom dan doodgebore?

Kom kyk maar self en besluit self. Orania het baie om te wys.

Fokus op Orania.

Neem deel aan Voorgrond se fotokompetisie en wen vet pryse!  Verken Orania deur ‘n kameralens en stuur vir ons jou mooiste foto’s.

Foto’s in die volgende kategorieë sal oorweeg word:

  • Vakansiefoto’s
  • Arbeidsfoto’s
  • Kunsfoto’s, byvoorbeeld foto’s wat relevante idees soos Vryheid uitbeeld

Reëls:

Jy kan soveel foto’s instuur as wat jy wil.

Foto’s moet in VOLGROOTTE ge-epos word na: redakteur@orania.co.za

Die resolusie van die foto’s moet nie minder as 6 megapixels of 300 dpi wees nie, maar nie groter as 2 Megagrepe nie.

Die foto’s moet in Orania geneem wees.

Die Orania Beweging behou hom die reg voor om ingeskrewe foto’s vir publikasie te gebruik.

Die Orania Oewerhotel behou hom die reg voor om wenfoto’s vir die druk van poskaarte te gebruik.

Die sluitdatum is 31 Januarie 2010.

Indien foto’s nie aan die vereiste standaard voldoen nie, sal die pryse nie toegeken word nie.

Stuur die foto saam met jou naam, adres, e-posadres en selfoonnommer.  Stuur ook ‘n kort beskrywing van die foto, sowel as die datum waarop die foto geneem is.

Die wenners sal op10 Februarie 2010 op hierdie webwerf bekend gemaak word.

Pryse:

Eerste Prys:  Oornagverblyf in die Orania Oewerhotel, ontbyt en aandete ingesluit, asook ‘n halfuur behandeling by die Orania Rivier Spa vir twee persone.

Tweede Prys:  Oornagverblyf in ‘n houthuis in die Oewerpark met aandete en ‘n stoomsessie by die Spa vir twee persone.

Derde prys: ‘n Geskenkbewys ter waarde van R150 van die Orania Beweging.

Orania Vryheidstoere.

Vind vryheid…!

Wie weet waar vryheid woon?  Wie weet waar Afrikaners werklik tuis is?  Quintin Diederichs het moeite gedoen om die pad te soek tot by die bron.  Die beste nuus is: hy is nou bereid om die pad tot by Afrikanervryheid te deel!

Na sy eerste besoek aan Orania sowat ‘n jaar gelede het Quintin, entrepreneur en eienaar van ‘n internasionale toerisme maatskappy, dadelik besef dat Orania ‘n juweel is en dat dit verdien om breër bekend gestel te word.  Hy het  begin deur samesprekings te hou met rolspelers in die toerisme-industrie in Orania, rondgeloop en kopgekrap.

Uiteindelik het Quintin sy blink plan afgerond tot ‘n werkbare idee.  Sy maatskappy bied vanaf Maart 2010 Orania vryheidservaring-toere aan.  Verskillende pakkette is beskikbaar en daar is ‘n toer vir elkeen wat wil proe hoe vryheid in Orania smaak.

Besondere moeite is gedoen om ‘n velerlei van aktiwiteite vir besoekers beskikbaar te stel.  Daar is byvoorbeeld ‘n kuns-en kultuuruitstappie, hengel, perdry, ‘n bergfietsrit of ‘n spa-behandeling om uit te kies.  Alle aktiwiteite word met tradisionele gasvryheid deur Oraniërs aangebied.  Van die hoogtepunte op die toer is ‘n middagetepiekniek in ‘n pekanneutboord en ‘n vlotvaart op die Oranjerivier.

Die lekkerste lekker van die toere is dat besoekers werklik ontspan in die rustige atmosfeer van tuis wees tussen jou eie mense.

Vir die eerste tree op die vryheidspad na Orania besoek http://www.oraniatoere.co.za/

Quintin Diederichs in Parys.

Quintin Diederichs in Parys.