Maandelikse Argief vir Februarie, 2010

Wenners van Voorgrond-fotokompetisie.

Fotograwe het hoopvol ingeskryf vir Voorgrond se fotokompetisie want die pryse was uitlokkend lekker.

Ons grafiese ontwerper, Koos Gagiano, het die beoordeling waargeneem. Met sy kunstenaarsoog het hy fyn waarnemings gemaak en met goeie oordeel die groot keuse gemaak. Koos het beklemtoon hoe moeilik dit was om te kies omdat daar ‘n hele paar gunstelinge was.

In die derde plek was Tammy Strümpher van Skotland. Sy wen ‘n geskenkbewys ter waarde van Ф150 van die Orania Beweging. Koos het baie van dié foto gehou en skryf: “Ek hou baie van dié een want dit skep ‘n gevoel van rus na ‘n lang dag se harde werk. Die komposisie is ook baie goed.”

Kruiwa

In die derdeplek

Coraine Oosthuizen van Orania wen die tweede prys met haar foto van haar kinders wat fluks in die tuin werk. Haar prys is oornagverblyf in die Oewerpark met aandete en ‘n stoomsessie in die Orania Rivier Spa vir twee persone.

Oor dié foto skryf Koos: “Hierdie een beeld vir my familiewaardes en bande uit. Dinge wat ek dink families vandag nie meer het nie. ‘n Familie wat saam werk en saam ontspan.”

Die naaswenner.

Die naaswenner.

Die wenfoto verskyn op Voorgrond se voorblad en is ingestuur deur Hester en Christiaan van Zyl van Orania. Hester se byskrif was: “Hendrik Holder laai strooibale af”. Die Van Zyls wen Oornagverblyf vir twee in die Orania Oewerhotel, ontbyt en aandete ingesluit, asook ‘n halfuur behandeling by die Orania Rivier Spa vir twee persone.

Die wenfoto!

Die wenfoto!

In sy kommentaar skryf beoordelaar Koos Gagiano oor die wenfoto: “Hierdie een simboliseer vir my Orania se Klein Reus. Selfwerksaamheid. Hardwerkend.”

Hartlike dank aan ons borge: Orania Oewerhotel, Oewer Restaurant, Oewerpark, Orania Rivier Spa en Orania Beweging.

Dit kom van ver af!

Gaste wat Orania onlangs besoek het, het ‘n roerende storie oor die Anglo-Boereoorlog vertel.  Tydens die afbrand van Boerewonings kon een van die Engelse offisiere dit nie oor sy hart kry om twee pragtige houtsneewerke te verbrand nie.  Hy het die twee stukke teruggehou en saamgeneem huis toe.

Baie jare daarna het sy gewete hom aangekla en het hy dit by die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen ingegee.  ‘n Amptenaar het dit in sy privaatversameling gehou tot hy oud geword het en toe die kunswerke en die storie aan sy dogter oorgedra.  Sy is nou ook reeds bejaard en haar groot wens is om die kunswerke terug te besorg aan die oorspronklike familie.

‘n Dowwe stel voorletters kan regs onder op die baadjie onderskei word.

Enige iemand wat kan help met inligting om hierdie besondere verhaal ‘n mooi einde te gee, kan vir John Strydom skakel by 082 975 8132.

Die houtsneewerke is deur ’n Engelse offisier gered tydens die Anglo-Boereoorlog toe ’n plaasopstal afgebrand is.

Die houtsneewerke is deur ’n Engelse offisier gered tydens die Anglo-Boereoorlog toe ’n plaasopstal afgebrand is.

Herdenking van 2 Februarie 1990.

Die twintigjarige herdenking van oudpresident FW de Klerk se toespraak in die Suid-Afrikaanse Parlement op 2 Februarie 1990 het die afgelope tyd heelwat aandag geniet.  Opvallend is dat woorde soos “wonderwerk” en “reënboognasie” hierdie keer veel minder gehoor is en dat die ontmagtiging van Afrikaners met veel meer voorbehoud beoordeel word.  Mnr De Klerk tree self ook op soos iemand wat deur die ontvangs van sy nalatenskap gekwel word en hy is dikwels op die verdediging, selfs wanneer hy nie aangeval word nie byvoorbeeld tydens die FW de Klerk Stigting se onlangse beraad oor Afrikaans in hoër onderwys.

Die Afrikaner Vryheidstigting was teen Februarie 1990 reeds besig om oor die aankoop van Orania te onderhandel en het die knoop sowat twee maande later finaal deurgehak.  Ons het dus die gebeure vanuit ‘n besondere perspektief beoordeel en ‘n bydrae tot die gevolglike ontwikkeling probeer maak.  Terugskouend is ons oordeel oor die wending wat ons geskiedenis op daardie dag geneem het, soos volg:

Mnr De Klerk het op 2 Februarie 1990 eenvoudig die onafwendbare gedoen; dit was net so min dapper as verraderlik, dit was onvermydelik.  Hy het dit egter sonder veel onderskeiding gedoen, want ná die aanvanklike euforie blyk dit ‘n gebrekkige skikking en ‘n ontoereikende grondwet te wees wat onder sy leiding aanvaar is.

Ongebreidelde meerderheidsoorheersing het nie net etniese minderhede en inheemse tale soos Afrikaans benadeel nie, maar ook tot nuwe vorme van rassisme en diskriminasie gelei.  Om dit voor die ANC se deur te lê soos mnr De Klerk tans doen, is om die ontoepaslikheid van ‘n liberale demokrasie in ‘n land soos Suid-Afrika te misken en om praktiese, demografiese probleme met teoretiese oplossings tegemoet te gaan.

Die werklikheid wat intussen vorm aangeneem het, plaas projekte soos Orania waar mense vir hulle eie lot verantwoordelikheid neem, opnuut in die kollig.  Dit is veelseggend dat Orania, klein soos dit nog is, meer volhoubaar as mnr De Klerk se eie party geblyk te wees het.

Orania dra dus ‘n groot verantwoordelikheid: om die Afrikaner se erfenis vir die toekoms in beskerming te neem sonder om na die verlede te probeer terugkeer.  Dit doen ons, ongeag wat dit van ons vra, want ons is nie vir onderhorigheid gebore nie.

Kommentaar deur Carel (iv) Boshoff, President van die Orania Beweging.

‘n Skooltassie of ‘n perd en ‘n koets?

Om ‘n nuwe tas vol skryfgoed oop te maak, is ‘n groot lekkerte!

Om ‘n nuwe tas vol skryfgoed oop te maak, is ‘n groot lekkerte!

Skooltassies is vir graad eentjies ‘n belangrike saak.  Dit plaas hulle onmiddellik in ‘n nuwe klas!

Orania se skoolbeginnertjies was uitbundig opgewonde toe hulle ook van Helpende Hand van die vakbond Solidariteit se skooltassies vol skryfbehoeftes kon ontvang.

Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van Orania Beweging, het die tassies by Volkskool Orania oorhandig en John Strydom, Bedryfsbestuurder, het die oorhandiging by Orania CVO-skool waargeneem.

Daar was natuurlik polsende opgewondenheid by die kleinspan, want daar was ook verskillende kleure tassies om van te kies.  Met die uitdeelslag het John aan ‘n pragtige blondekop dogtertjie gevra:  “Wil jy ook ‘n persentjie hê?”  Toe kom die ernstige antwoord:  “Ja, asseblief, Oom, ek wil ‘n perd en ‘n koets hê.”

“Jammer,” sê John.   ”Ek het nie ‘n perd en ‘n koets nie, maar sal ‘n tassie ook werk?”  “Ja,dankie, Oom, dan sal ek maar ‘n tassie vat!”

Rekenaar simulasie kursus.

‘n Kursus oor simulasie van multi-fisika probleme word op Vrydag 19 Februarie en Saterdag 20 Februarie 2010 op Orania aangebied.  ‘n Registrasiefooi is betaalbaar, en verdere besonderhede is beskikbaar by Francois Joubert by 082 453 5869.

Atlete skitter op Orania

Carin van Biljon mik na nuwe hoogtes.

Carin van Biljon mik na nuwe hoogtes.

Orania CVO-skool het onlangs ‘n baie suksesvolle huissport-atletiekbyeenkoms aangebied.  Die geleentheid het plaasgevind op Orania se nuwe atletiekbaan en rugbyveld.  Meer as 200 atlete het aan hierdie byeenkoms deelgeneem, en verskeie rekords het gespat.  Deelname is sterk aangemoedig en feitlik elke skoolkind was die een of ander tyd op die baan gewees.  ‘n Nuwe item by vanjaar se byeenkoms was die turbospies, ‘n oorgrote plastiek-”veerpyltjie”, wat kinders in staat gestel het om reeds op ‘n jong ouderdom te leer spiesgooi.

By vanjaar se byeenkoms het skoliere van Dankbaar CVO-skool in Bloemfontein ook deelgeneem.  Onderwysers en ouers wat die kinders vergesel het, het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die naweek in Orania uit te span.  Veral die netjiese Oewerpark en dorpswembad het groot aftrek gekry.

Die CVO-skool op Orania het die laaste paar jaar sterk gegroei.  Die skool bied Christelike Afrikaner-onderwys op ‘n hoë standaard aan.  Matriekleerlinge by die skool skryf die eindeksamen van die Onafhanklike Afrikaanse Eksamenraad, wat amptelik deur die regering erken word.  Die skool het ‘n 100% slaagsyfer in die matriekeksamen gehad sedert sy ontstaan.  Die slaagsyfer van matrikulante by die nagenoeg 50 CVO-skole landwyd, was verlede jaar 99%.

Op 6 Maart vind die Noord-Kaap CVO-atletiekbyeenkoms op Orania plaas.  Ongeveer 400  leerlinge van vier CVO-skole in die Noord-Kaap sal meeding om plek te kry in die Noord-Kaapatletiekspan, wat later vanjaar aan die nasionale BCVO-atletiekbyeenkoms sal deelneem.

Navrae kan gerig word aan die skoolhoof, mnr. Frans Pretorius, by (053) 207-0177.

Berig deur Roelien de Klerk