Maandelikse Argief vir Maart, 2010

Nou ook vir wyse gryses.

Bouwerk vorder fluks.

Bouwerk vorder fluks.

Halt-’n-Bietjie:  Versorgingsoord met ‘n volledige siekeboeg vir Orania!

Van Herberg Oranje na Halt-’n-Bietjie.  Die eienaars van Orania se bekendste gastehuis het besluit om nou op ‘n nuwe onderneming te fokus.

Renus en Alma Steyn was van Orania se heel eerste intrekkers.  Alma is ‘n gekwalifiseerde verpleegkundige wat al vir etlike jare ‘n privaatkliniek bedryf en Renus is op sy beurt in die boubedryf gevestig.

Die nuwe baba is ‘n luukse, bekostigbare aftree-oord, wat ook versorging en ‘n geregistreerde siekeboeg sal insluit.  Daar is ‘n keuse tussen verskillende wooneenhede.

‘n Verpleegkundige en tuisversorgers is beskikbaar om die inwoners van die verskillende wooneenhede te diens.  Heerlike, gebalanseerde middagetes is vir inwoners op die spyskaart en daar kan ook vir bykomstige etes voorsiening gemaak word.

Niemand word by Halt-’n-Bietjie aan hulle eie oorgelaat nie, want die woonstelle word twee keer per week gediens en daar sal ook bystand wees vir belangrike sake soos voetversorging, bedwasse, toilethulp of wat ook al die behoefte is.  Inwoners sal selfs vervoer word na winkels, die biblioteek, kerkdienste ensomeer.

Volgens die ideaal van Orania is die Halt-’n-Bietjie-oord groen!  Dit beteken dat die swart- en gryswater geskei sal word en dan deur middel van ‘n verteringstelsel hersirkuleer sal word om sierbome op die straatfront te besproei.

Die eerste wooneenhede is reeds verkoop en bouwerk vorder daagliks steen vir steen!  Ombouings aan die gastehuis, waar die siekeboeg sal wees, is ook reeds aangepak.

Inwoners van die mooi oord sal volwaardige inwoners van Orania wees en hulle sal verseker wees van die uitstekende diens waarvoor die Steyns lank reeds bekend is.

Vir navrae skakel asseblief vir Renus Steyn by 074 8909 488

Eerste tree sterre toe.

Die bestuur van die sterreklub van Orania.

Die bestuur van die sterreklub van Orania.

Ons het onlangs berig oor die uitdaging wat Gerhardus Thompson aan Orania gerig het.  Daar is nou werk van gemaak met ‘n vergadering waarop ‘n bestuur gekies is vir die nuutgestigte sterreklub.

‘n Grondwet word geskryf, uitstappies word beplan, en dan moet ‘n teleskoop aangeskaf word!

Skakel gerus vir Franz Conradie by 083 3013 802 as u wil bydra, help of gesels oor sterre!

Voortekkermonument soek hulp!

Ons het onderstaande van die Voortrekkermonument ontvang: doen asseblief die moeite om die vraelys in te vul!

Geagte Vriende

Die direksies van die Voortrekkermonument  en die Erfenisstigting is tans besig is met ‘n omvattende oudit rakende die toekoms van die Voortrekkermonument (VTM) en die Erfenisstigting (ES). Die ondersoek staan bekend as Projek Quo Vadis (2009) en die volgende sub-ondersoeke is reeds suksesvol afgehandel:

a.      ‘n Regsoudit om die hele aangeleentheid vanuit ‘n regsooogpunt, met inagneming van alle relevante wetgewing, te bekyk.

b.      ‘n Finansiële omsigtigheidsondersoek. (“due diligence”) van beide organisasies.

c.      ‘n Ondersoek na alternatiewe en aanvullende bronne van inkomste.

d.      ‘n Vakkundige ondersoek.

Die ondersoek is gedoen deur werkgroepe wat bestaan het uit verteenwoordigers van die vermelde direksies en ander eksterne kundiges, ten einde te verseker dat die uitsette daarvan as basis vir gesonde besluitneming sal kan dien. Alhoewel die uitsette reeds aan die ander werkgroepe ook beskikbaar gestel is, is dit nog nie verder versprei of andersins bespreek nie, aangesien daar eers gewag word totdat die volle ondersoek afgehandel is en die hele saak in konteks deur die direksies oorweeg kan word.

Die doel van die ondersoek is dan om te bepaal presies wat die opsies is wat vir die langertemyn (15-50 jr) vir die VTM en die Erfenisstigting oop is, gegewe bepaalde realitiete soos die veroudering van die infrastruktuur, onvoldoende staatssubsidiëring, herhalende kontantvloei-uitdagings, afnemende gemeenskapsbetrokkenheid by erfenisbewaring, die bedreiging van tasbare erfenisse en die toenemende behoefte vir VTM en Erfenisstigting-betrokkenheid elders in die land en internasionaal, ens.

Een van die opsies wat ondersoek word, is of dit enigsins sinvol, haalbaar en aanvaarbaar sou wees om aansoek te doen om die VTM en/of die Erfenisstigting as nasionaal verklaarde kulturele instellings te laat registreer. In die eenvoudigste moontlike terme is ‘n verklaarde kulturele instelling ‘n instansie wat in terme van die Wet op Kulturele Instellings en die Openbare Fondse Bestuurswet (“PFMA”) deur die Staat beheer en befonds word (soos bv die Oorlogsmuseum vir die Boererepublieke in Bloemfontein en die Voortrekker-/Msunduzi Museum in Pietermaritzburg). (Vir ‘n vollediger uiteensetting sien die Vraelys.)

Die vyfde werksgroep, nl die Emosionele Werkgroep, is tans besig met die uitstuur van vraelyste om die direksies van die VTM en die Erfenisstigting te kan adviseer oor die huidige klimaat sowel as mobiliseringsmoontlikhede wat onder ‘n diversiteit van Afrikaner- en Afrikaanssprekende belanghebbendes bestaan rakende die VTM en die Erfenisstigting. Met hierdie inligting sal belangrike strategiese opsies oorweeg kan word. Elke lid van hierdie subkomitee, asook die Bestuur van die VTM,  het onderneem om te help met die verspreiding van die vraelys.

Met die oog daarop, word graag dringend versoek dat u die ingeslote vraelys aanlyn op die webwerf  (URL) www.voortrekkermon.org.za/vraelys.php moet voltooi, van waar dit elektronies ingedien kan word. Die vraelys kan natuurlik ook afgelaai word en dan na voltooiïng, as aanhangsel, aan enige van die volgende adresse versend word:

a. Per hand voltooide vraelyste kan gepos word aan: Mev E Pretorius, Die Voortrekkermonument, Posbus 1514, Groenkloof, 0027;

b. Of gefaks word aan: Mev E Pretorius by 086 521 3831.

c. Per e-pos versend word aan mev E Pretorius by navorsing@voortrekkermon.org.za

Die bevindinge en aanbevelings van hierdie vyfde werkgroep kan op ‘n manier bepalend wees tov die toekomstige beheer en bestuur van die VTM en die Erfenisstigting. Dit word derhalwe vertrou dat soveel as moontlik ingevulde vraelyste terug ontvang sal word. Daarna sal die inligting gekontroleerd vasgelê en verwerk word teen nie later nie as 20 April 2010, met die oog op terugvoer by die onderskeie jaarvergaderings teen einde Julie 2010.

Die sameroeper van die Emosionele Werkgroep is Etienne Theart [thearte@iafrica.com] wat te enige tyd deur u gekontak kan word, indien nodig.

By voorbaat baie dankie vir u ondersteuning van hierdie projek! U is natuurlik welkom om hierdie vraelys te versend aan ander persone op u databasis maar hul voltooide vraelyste moet asb sonder enige redigering of konsolidering direk ingedien word, asb.

Vriendelike groete

Gert Opperman

Hoof Uitvoerende Beampte

Voortrekkermonument en Die Erfenisstigting

Tel : 012 326 6770

Faks: 086 615 9587

Sel: 083 300 4580

E-pos: hub@voortrekkermon.org.za

gerto12@telkomsa.net

www.voortrekkermon.org.za

Die taal van fiksie.

John Strydom ontvang sy medalje.

John Strydom ontvang sy medalje.

Wat het  KR x SW= Vryheid2 en Newe-effekte van navorsing met ‘n uitwoner te doen?

Gerhardus Thompson is waarskynlik een van Orania se aktiefste uitwoners, al woon hy en sy vrou Melinda in die verre Taiwan!

Een van Gerhardus se groot liefdes is wetenskapfiksie, maar een van die dinge wat aan hom krap is dat daar so min wetenskapfiksie in sy lieflingstaal, Afrikaans beskikbaar is.

Maar, ‘n boer maak mos gereeld ‘n plan en daarom het Gerhardus begin met ‘n jaarlikse Afrikaanse Wetenskapfiksieskryfkompetisie.

Met sy onlangse besoek aan Orania kon Gerhardus die pryse oorhandig.  Die eerste plek het gegaan aan John Strydom se verhaal Newe-effekte van navorsing. KR x SW= Vryheid2 deur Lida Strydom het die tweede plek verwerf en Martin van der Watt se verhaal Ouma du Toit se storie het die derde plek geneem.

Die prysgeld van Ф1000 is natuurlik glad nie te versmaai nie, maar die pragtige silwer medalje wat die wenner ontvang is iets om jaloers voor te werk!

Die verhale word nou verwerk en sal eersdaags in ‘n bundel gepubliseer word.

Skrywers moet intussen vinnig hulle woorde neerpen, want die volgende kompetisie is reeds weer aan die gang.  Meer inligting is beskikbaar by www.afrifiksie.com

Vier VVV’s besoek Orania!

imgp1515

‘n Mens het skielik verskeie motors teen ‘n stewige snelheid sien verbyjaag na Orania se plaaslike aanloopbaan.  Die rede?  ‘n Paar manne het Orania uit die lug besoek en geen Oraniër wou dit mis nie.

Die vier besoekers het ‘n toer met hulle “gyrocopters” onderneem en Orania was een van die laaste stoppunte voordat hulle huiswaarts vertrek het.  Hulle het op Lady Grey begin, toe na die Ooskus en kuslangs tot by Groenriviermond.  Van daar af het hulle binneland toe gedraai en Orania besoek.

Die vliegtuigies kan sowat 400-500 km per dag aflê en dra ongeveer 50 liter brandstof aan boord.  Aangesien hulle ongeveer 20 liter brandstof per uur verbrand, beteken dit sowat 2,5 ure vliegtyd voordat daar weer hervul moet word.  Gewone ontloodte brandstof word gebruik.

Om te hervul was een van die redes waarom die groep op Orania aangedoen het, want hulle het vooraf gereël dat hier vir hulle brandstof beskikbaar sal wees.  Die ander rede was dat hulle ook goeie vriende op Orania het en ‘n vinnige kuier en middagete in die Oewer Restaurant ingepas het.

Besoekers begin om al hoe meer van Orania se aanloopbaan gebruik te maak.  Dit is belangrik dat daar vooraf met die Dorpsraad gereël word, sodat verseker kan word dat die baan in ‘n goeie toestand is.

Die koördinate is:

Suid: 29° 48,619 min  Lengte: 1200m Breedte: 30m

Oos:24° 23,755 min   Lengte: 1000m Breedte: 36m

Hoogte bo seespieël: 3870vt.

Rigting: 02×20

Gesprek oor Europese toer.

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, het Maandag 8 Maart 2010 ‘n gesprek gehad met Freek Robinson op RSG.  Die gesprek is beskikbaar by die volgende skakel:

Gaan na: http://www.rsg.co.za/programme_klank_soek.asp?id=75
Soek na “Praat Saam 8 Maart 2010 ” en kliek op “Luister” of  “Laai af”.

Grootste Sportdag ooit in Orania!

CVO sport Victrix Ludorums.

CVO sport Victrix Ludorums.

ʼn Sportdag met ʼn provinsiale kleur het die naweek van 6 Maart in Orania plaasgevind. Altesaam ses skole van die Noord-Kaap het op Orania saamgetrek om ʼn atletiekdag van hoë gehalte te hou.

Die sportdag, wat ʼn jaarlikse gebeurtenis is, is vir die eerste keer op Orania gehou. Die spanne wat deelgeneem het is Orania CVO, CVO Kalahari, Eendrag Jan Kemp, Volkskool Vryburg, Fraserburg en Bergvesting.  Sestig atletiekbeamptes was betrokke by die sportbyeenkoms wat seepglad verloop het.

Voorbereiding aan die baan het die CVO-skool reeds etlike duisende rande gekos. In die week voor die sportbyeenkoms moes ouers en onderwysers hard werk om die baan op  ʼn standaard te kry om te verseker dat alle items as amptelik aangeteken kon word. Na twee aande se goeie Karoo-reën, moes water twee opeenvolgende dae vanaf die baan uitgepomp word en met die spreekwoordelike “boereplan” op standaard gebring word.

Ten spyte van die natterige week was Vrydag en Saterdag wonderlike sonskyndae en kon atlete hul beste lewer. Orania CVO-skool se volhoubare sportafrigting en oefenprogram het vrugte afgewerp en sy atlete het uitgeblink. Altesaam 58 atlete van Orania CVO-skool het deelgeneem. Hierdie atlete het 57 goue medaljes, 22 silwer en 9 brons medaljes verower. Anders gestel, Orania CVO se atlete het in 35% van die items eerste gekom. Wat die prestasies nog meer prysenswaardig maak, was dat drie van die vier beste atlete op die byeenkoms  Orania CVO skoliere was. Die Junior Victrix Ludorum was Johanè Ferreira, met ʼn totale ABSA-punt van 743 vir hoogspring. Die Senior Victrix Ludorum was Sintiche Schmidt met ʼn totale ABSA punt van 732 vir gewigstoot. Quinton Senekal was ʼn uitblinker en ʼn opwindende atleet om te aanskou. Sy ABSA-punt was 706 vir gewigstoot en hy is aangewys as die Senior Victor Ludorum. Die Junior Victrix Ludorum was  Christo Gresse van Volkskool Vryburg met ‘n ABSA-punt van 741 vir hoogspring.

Orania CVO is trots daarop om deur sy sportaktiwiteite ʼn positiewe ekonomiese bydrae te lewer tot ontwikkeling in Orania. Die naweek se sport was ʼn sterk inspuiting vir die gastehuisbedryf in Orania. Die opgradering van die atletiekbaan en sy fasiliteite is ook ʼn groot pluspunt vir Orania se gemeenskap. Die skool ontvang geen staatsbefondsing nie, daarom word finansiële hulp van ondersteuners van buite Orania altyd waardeer.  Baie dankie aan al die Vriende van Orania CVO, wat help om hierdie geleenthede vir ons kinders te skep.  Geleenthede om kinders bloot te stel aan sport, kultuur en uitnemende onderwys is duur, maar op die langtermyn is dit een van die beste beleggings in ons jong kinders!

Navrae: Hannes du Preez

Primabat2@telkomsa.net

Skoolkantoor: 053 207 0177

Die missie van Sonja Kruse

Sonja teken Orania in haar boek aan!

Sonja teken Orania in haar boek aan!

Sonja Kruse is ‘n dapper dametjie wat wil wys hoe mooi Suid-Afrikaners se harte is.

Sy het een nag gedroom dat sy net R100 en ‘n rugsak by haar het en dat sy “ubuntu” by mense kry.  In haar droom was sy ook in ‘n boekwinkel  en die boeke het by die deur uitgevlieg.  Toe sy wakker word het sy besluit omdie droom nie by haar te laat verbygaan nie.

Sy het haar werk by ‘n Kwazulu-Natalse wildreservaat bedank en die pad gevat.   Sy sou mense wie sy teëkom vra vir kos, verblyf en vervoer.  Sy is nie teleurgestel nie en mense het haar met oorgawe versorg.  Sy het elke dag kos en slaapplek en sy kom waar sy wil wees deur die genadegawes van goeie Suid-Afrikaners.

Hoewel mense dikwels vir haar geld en ander geskenke gee, glo sy dat sy volgens haar droom nooit meer as R100 in haar rugsak mag hê nie.  Sy het al so min as R7 gehad!

Sommige van die geskenke wat sy ontvang het, het haar diep geraak.  Toe ‘n straatkind hoor dat sy nie ‘n woonplek of ‘n motor het nie, het hy gaan sit en vir haar ‘n prentjie van ‘n huis en ‘n kar geteken.  Met ‘n groot glimlag het hy verklaar dat sy nou ‘n huis en ‘n motor het wat sy kan saamdra.

Was sy ooit bang?  Sonja glimlag:  “Nee, want dit sou disrespekvol wees teenoor almal wat al reeds so goed was vir haar indien sy sou bang wees.”

Het sy enige hoogtepunte beleef?  “As ‘n mens met leë hande in ‘n situasie inkom, dan is elke situasie, dorp en mens ‘n hoogtepunt.  Jy leer dankbaarheid.”

Haar krag lê volgens Sonja daarin dat sy ‘n passie het vir mense en dat sy met enige iemand kan gesels.  Sy veroordeel niemand en aanvaar almal op eie meriete.

‘n Swart, vroulike ouditeur van Soweto het haar aangeraai om Orania te besoek.  Sy het Sonja ook beveel om met ‘n oop gemoed Orania toe te gaan, want daar sal sy baie leer…

Intussen maak Sonja ywerig aantekeninge, want sy is ook besig om ‘n boek te skryf oor die lang pad met net R100 in haar rugsak!

Europese skakeltoer.

Dit is vir die Orania Beweging van groot belang om sy buitelandse ondersteuningsbasis deurlopend uit te brei. Dit is om hierdie rede dat die Buitelandse Vriende van Orania reeds etlike jare gelede tot stand gekom het om dit vir  buitelanders moontlik te maak om by die Orania Beweging aan te sluit.

Vanjaar word skakeling met vriende in Europa nog ‘n stappie verder geneem wanneer Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging, verskeie lande in Europa vanaf 16 Maart tot 3 April besoek. Tydens hierdie besoek gaan daar gesprek gevoer word met politieke partye, kulturele verenigings, meningsvormers en lede van die Orania  Beweging in die buiteland.

Vier openbare byeenkomste sal ook tydens die besoek gehou word om belangstellendes die geleentheid te bied om eerstehands meer inligting rakende Orania te bekom. Hierdie byeenkomste sal onderskeidelik plaasvind in België (Vlaandere), Nederland, Engeland en Duitsland. ‘n Besoek aan Suid-Tirool in die noorde van Italië is ook deel van die beplanning. Hierdie Duitssprekende gemeenskap is reeds vir dekades gewikkel in ‘n stryd vir die  behoud van hulle kultuur en inskakeling by Oostenryk. Verteenwoordigers van die Orania Beweging sal ontvang word deur lede van die Suid-Tiroolse Volksparty, wat ook die regerende party in hierdie streek van Italië is.
“Afrikaners moet hulle bande versterk met hulle stamlande en ander Afrikaners wat tans in die buiteland woonagtig is,” het Frans gesê. “Ons het die ondersteuning van baie meer vriende nodig indien ons van Orania ‘n groot sukses wil maak”.

Die Europese skakeltoer in 2010 is in opvolging van ‘n vorige skakeltoer wat verteenwoordigers van die Orania Beweging in 2006 aan Europa gebring het. Frans de Klerk sal op die toer vergesel word deur adv. Rian Genis.

13:00 Saterdag 20 Maart 2010
Jaarvergadering van die Vrienden van Zuid-Afrika,
Antwerpen, Vlaandere.
Frans de Klerk tree as geleentheidspreker op.
Skakelpersoon: Jan van Aerschot
Tel:+32 (0)24 660 975
jan.vanaerschot@base.be
Toegang: Gratis. Ete @ €27 per persoon.

19:30 Vrydag 26 Maart 2010
Byeenkoms van die Buitelandse Vriende van Orania,
Veenendaal, Nederland
Skakelpersoon: Atella Botha (mev.)
+31 (0)62 9277 798
oranianederland@gmail.com
Toegang: Gratis. Ligte verversings
Orania Beweging Europese skakeltoer 2010 – Openbare byeenkomste.

14:00 Saterdag 27 Maart 2010
Byeenkoms van die Buitelandse Vriende van Orania,
London, Engeland
Skakelpersoon: Gawie Snyman
+44 (0)79 2148 3425
snymansboer@yahoo.co.uk
Toegang: Gratis. Ligte verversings.

20:00 Maandag 29 Maart 2010
Byeenkoms van die Buitelandse Vriende van Orania
in Frankfurt, Duitsland
Skakelpersoon: Aaron Kahland
+49 (0)17 2816 6457
aaronkahland@googlemail.com
Toegang: Gratis. Ligte verversings

Besprekings vir die bywoning van enige van genoemde byeenkomste moet by die betrokke skakelpersone gedoen word. Algemene navrae kan gerig word aan die Orania Beweging by oraniabeweging@orania.co.za of by telno:          +27 (0) 53 207 0062

Die Sterrekykers van Orania.

Gerhardus Thompson, ‘n uitwoner van Orania wat tans in Taiwan woon, het  ‘n reuse uitdaging gerig:  Indien ‘n sterrekyk-klub vir Orania gestig word, sal hy help om ‘n teleskoop vir Orania aan te koop.

Gerhardus het reeds R3 000 vir die teleskoop by Orania Spaar en Krediet koöperatief, Orania se kredietunie, inbetaal en hy is bereid om op ‘n Ora vir Ora-basis verder by te dra tot die fonds.

Die oop Karoo-hemel en die skoon lug van Orania maak dit ‘n sterrekyk paradys.

‘n Stigtingsvergadering vir ‘n sterrekyk-klub vind plaas op Dinsdag, 9 Maart om 18:00 in die Ouditorium van die Orania Beweging.  Belangstellendes is baie welkom.

Vir navrae skakel Franz Conradie by 083 3013 802.