Vind vryheid…!
Wie weet waar vryheid woon? Wie weet waar Afrikaners werklik tuis is? Quintin Diederichs het moeite gedoen om die pad te soek tot by die bron. Die beste nuus is: hy is nou bereid om die pad tot by Afrikanervryheid te deel!
Na sy eerste besoek aan Orania sowat ‘n jaar gelede het Quintin, entrepreneur en eienaar van ‘n internasionale toerisme maatskappy, dadelik besef dat Orania ‘n juweel is en dat dit verdien om breër bekend gestel te word. Hy het begin deur samesprekings te hou met rolspelers in die toerisme-industrie in Orania, rondgeloop en kopgekrap.
Uiteindelik het Quintin sy blink plan afgerond tot ‘n werkbare idee. Sy maatskappy bied vanaf Maart 2010 Orania vryheidservaring-toere aan. Verskillende pakkette is beskikbaar en daar is ‘n toer vir elkeen wat wil proe hoe vryheid in Orania smaak.
Besondere moeite is gedoen om ‘n velerlei van aktiwiteite vir besoekers beskikbaar te stel. Daar is byvoorbeeld ‘n kuns-en kultuuruitstappie, hengel, perdry, ‘n bergfietsrit of ‘n spa-behandeling om uit te kies. Alle aktiwiteite word met tradisionele gasvryheid deur Oraniërs aangebied. Van die hoogtepunte op die toer is ‘n middagetepiekniek in ‘n pekanneutboord en ‘n vlotvaart op die Oranjerivier.
Die lekkerste lekker van die toere is dat besoekers werklik ontspan in die rustige atmosfeer van tuis wees tussen jou eie mense.
Vir die eerste tree op die vryheidspad na Orania besoek http://www.oraniatoere.co.za/
