Atlete skitter op Orania

Carin van Biljon mik na nuwe hoogtes.

Carin van Biljon mik na nuwe hoogtes.

Orania CVO-skool het onlangs ‘n baie suksesvolle huissport-atletiekbyeenkoms aangebied.  Die geleentheid het plaasgevind op Orania se nuwe atletiekbaan en rugbyveld.  Meer as 200 atlete het aan hierdie byeenkoms deelgeneem, en verskeie rekords het gespat.  Deelname is sterk aangemoedig en feitlik elke skoolkind was die een of ander tyd op die baan gewees.  ‘n Nuwe item by vanjaar se byeenkoms was die turbospies, ‘n oorgrote plastiek-”veerpyltjie”, wat kinders in staat gestel het om reeds op ‘n jong ouderdom te leer spiesgooi.

By vanjaar se byeenkoms het skoliere van Dankbaar CVO-skool in Bloemfontein ook deelgeneem.  Onderwysers en ouers wat die kinders vergesel het, het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die naweek in Orania uit te span.  Veral die netjiese Oewerpark en dorpswembad het groot aftrek gekry.

Die CVO-skool op Orania het die laaste paar jaar sterk gegroei.  Die skool bied Christelike Afrikaner-onderwys op ‘n hoë standaard aan.  Matriekleerlinge by die skool skryf die eindeksamen van die Onafhanklike Afrikaanse Eksamenraad, wat amptelik deur die regering erken word.  Die skool het ‘n 100% slaagsyfer in die matriekeksamen gehad sedert sy ontstaan.  Die slaagsyfer van matrikulante by die nagenoeg 50 CVO-skole landwyd, was verlede jaar 99%.

Op 6 Maart vind die Noord-Kaap CVO-atletiekbyeenkoms op Orania plaas.  Ongeveer 400  leerlinge van vier CVO-skole in die Noord-Kaap sal meeding om plek te kry in die Noord-Kaapatletiekspan, wat later vanjaar aan die nasionale BCVO-atletiekbyeenkoms sal deelneem.

Navrae kan gerig word aan die skoolhoof, mnr. Frans Pretorius, by (053) 207-0177.

Berig deur Roelien de Klerk

Die kommentaar is tans gesluit.