Die twintigjarige herdenking van oudpresident FW de Klerk se toespraak in die Suid-Afrikaanse Parlement op 2 Februarie 1990 het die afgelope tyd heelwat aandag geniet. Opvallend is dat woorde soos “wonderwerk” en “reënboognasie” hierdie keer veel minder gehoor is en dat die ontmagtiging van Afrikaners met veel meer voorbehoud beoordeel word. Mnr De Klerk tree self ook op soos iemand wat deur die ontvangs van sy nalatenskap gekwel word en hy is dikwels op die verdediging, selfs wanneer hy nie aangeval word nie byvoorbeeld tydens die FW de Klerk Stigting se onlangse beraad oor Afrikaans in hoër onderwys.
Die Afrikaner Vryheidstigting was teen Februarie 1990 reeds besig om oor die aankoop van Orania te onderhandel en het die knoop sowat twee maande later finaal deurgehak. Ons het dus die gebeure vanuit ‘n besondere perspektief beoordeel en ‘n bydrae tot die gevolglike ontwikkeling probeer maak. Terugskouend is ons oordeel oor die wending wat ons geskiedenis op daardie dag geneem het, soos volg:
Mnr De Klerk het op 2 Februarie 1990 eenvoudig die onafwendbare gedoen; dit was net so min dapper as verraderlik, dit was onvermydelik. Hy het dit egter sonder veel onderskeiding gedoen, want ná die aanvanklike euforie blyk dit ‘n gebrekkige skikking en ‘n ontoereikende grondwet te wees wat onder sy leiding aanvaar is.
Ongebreidelde meerderheidsoorheersing het nie net etniese minderhede en inheemse tale soos Afrikaans benadeel nie, maar ook tot nuwe vorme van rassisme en diskriminasie gelei. Om dit voor die ANC se deur te lê soos mnr De Klerk tans doen, is om die ontoepaslikheid van ‘n liberale demokrasie in ‘n land soos Suid-Afrika te misken en om praktiese, demografiese probleme met teoretiese oplossings tegemoet te gaan.
Die werklikheid wat intussen vorm aangeneem het, plaas projekte soos Orania waar mense vir hulle eie lot verantwoordelikheid neem, opnuut in die kollig. Dit is veelseggend dat Orania, klein soos dit nog is, meer volhoubaar as mnr De Klerk se eie party geblyk te wees het.
Orania dra dus ‘n groot verantwoordelikheid: om die Afrikaner se erfenis vir die toekoms in beskerming te neem sonder om na die verlede te probeer terugkeer. Dit doen ons, ongeag wat dit van ons vra, want ons is nie vir onderhorigheid gebore nie.
Kommentaar deur Carel (iv) Boshoff, President van die Orania Beweging.