Die missie van Sonja Kruse

Sonja teken Orania in haar boek aan!

Sonja teken Orania in haar boek aan!

Sonja Kruse is ‘n dapper dametjie wat wil wys hoe mooi Suid-Afrikaners se harte is.

Sy het een nag gedroom dat sy net R100 en ‘n rugsak by haar het en dat sy “ubuntu” by mense kry.  In haar droom was sy ook in ‘n boekwinkel  en die boeke het by die deur uitgevlieg.  Toe sy wakker word het sy besluit omdie droom nie by haar te laat verbygaan nie.

Sy het haar werk by ‘n Kwazulu-Natalse wildreservaat bedank en die pad gevat.   Sy sou mense wie sy teëkom vra vir kos, verblyf en vervoer.  Sy is nie teleurgestel nie en mense het haar met oorgawe versorg.  Sy het elke dag kos en slaapplek en sy kom waar sy wil wees deur die genadegawes van goeie Suid-Afrikaners.

Hoewel mense dikwels vir haar geld en ander geskenke gee, glo sy dat sy volgens haar droom nooit meer as R100 in haar rugsak mag hê nie.  Sy het al so min as R7 gehad!

Sommige van die geskenke wat sy ontvang het, het haar diep geraak.  Toe ‘n straatkind hoor dat sy nie ‘n woonplek of ‘n motor het nie, het hy gaan sit en vir haar ‘n prentjie van ‘n huis en ‘n kar geteken.  Met ‘n groot glimlag het hy verklaar dat sy nou ‘n huis en ‘n motor het wat sy kan saamdra.

Was sy ooit bang?  Sonja glimlag:  “Nee, want dit sou disrespekvol wees teenoor almal wat al reeds so goed was vir haar indien sy sou bang wees.”

Het sy enige hoogtepunte beleef?  “As ‘n mens met leë hande in ‘n situasie inkom, dan is elke situasie, dorp en mens ‘n hoogtepunt.  Jy leer dankbaarheid.”

Haar krag lê volgens Sonja daarin dat sy ‘n passie het vir mense en dat sy met enige iemand kan gesels.  Sy veroordeel niemand en aanvaar almal op eie meriete.

‘n Swart, vroulike ouditeur van Soweto het haar aangeraai om Orania te besoek.  Sy het Sonja ook beveel om met ‘n oop gemoed Orania toe te gaan, want daar sal sy baie leer…

Intussen maak Sonja ywerig aantekeninge, want sy is ook besig om ‘n boek te skryf oor die lang pad met net R100 in haar rugsak!

Die kommentaar is tans gesluit.