Grootste Sportdag ooit in Orania!

CVO sport Victrix Ludorums.

CVO sport Victrix Ludorums.

ʼn Sportdag met ʼn provinsiale kleur het die naweek van 6 Maart in Orania plaasgevind. Altesaam ses skole van die Noord-Kaap het op Orania saamgetrek om ʼn atletiekdag van hoë gehalte te hou.

Die sportdag, wat ʼn jaarlikse gebeurtenis is, is vir die eerste keer op Orania gehou. Die spanne wat deelgeneem het is Orania CVO, CVO Kalahari, Eendrag Jan Kemp, Volkskool Vryburg, Fraserburg en Bergvesting.  Sestig atletiekbeamptes was betrokke by die sportbyeenkoms wat seepglad verloop het.

Voorbereiding aan die baan het die CVO-skool reeds etlike duisende rande gekos. In die week voor die sportbyeenkoms moes ouers en onderwysers hard werk om die baan op  ʼn standaard te kry om te verseker dat alle items as amptelik aangeteken kon word. Na twee aande se goeie Karoo-reën, moes water twee opeenvolgende dae vanaf die baan uitgepomp word en met die spreekwoordelike “boereplan” op standaard gebring word.

Ten spyte van die natterige week was Vrydag en Saterdag wonderlike sonskyndae en kon atlete hul beste lewer. Orania CVO-skool se volhoubare sportafrigting en oefenprogram het vrugte afgewerp en sy atlete het uitgeblink. Altesaam 58 atlete van Orania CVO-skool het deelgeneem. Hierdie atlete het 57 goue medaljes, 22 silwer en 9 brons medaljes verower. Anders gestel, Orania CVO se atlete het in 35% van die items eerste gekom. Wat die prestasies nog meer prysenswaardig maak, was dat drie van die vier beste atlete op die byeenkoms  Orania CVO skoliere was. Die Junior Victrix Ludorum was Johanè Ferreira, met ʼn totale ABSA-punt van 743 vir hoogspring. Die Senior Victrix Ludorum was Sintiche Schmidt met ʼn totale ABSA punt van 732 vir gewigstoot. Quinton Senekal was ʼn uitblinker en ʼn opwindende atleet om te aanskou. Sy ABSA-punt was 706 vir gewigstoot en hy is aangewys as die Senior Victor Ludorum. Die Junior Victrix Ludorum was  Christo Gresse van Volkskool Vryburg met ‘n ABSA-punt van 741 vir hoogspring.

Orania CVO is trots daarop om deur sy sportaktiwiteite ʼn positiewe ekonomiese bydrae te lewer tot ontwikkeling in Orania. Die naweek se sport was ʼn sterk inspuiting vir die gastehuisbedryf in Orania. Die opgradering van die atletiekbaan en sy fasiliteite is ook ʼn groot pluspunt vir Orania se gemeenskap. Die skool ontvang geen staatsbefondsing nie, daarom word finansiële hulp van ondersteuners van buite Orania altyd waardeer.  Baie dankie aan al die Vriende van Orania CVO, wat help om hierdie geleenthede vir ons kinders te skep.  Geleenthede om kinders bloot te stel aan sport, kultuur en uitnemende onderwys is duur, maar op die langtermyn is dit een van die beste beleggings in ons jong kinders!

Navrae: Hannes du Preez

Primabat2@telkomsa.net

Skoolkantoor: 053 207 0177

Die kommentaar is tans gesluit.