Dit reën geld!

Orania se pekanboere raak elke jaar meer bedrewe en toegerus vir hulle taak.

Johan Ferreira, een van die eerste boere wat hier met pekans begin boer het, het hierdie jaar verskeie nuwe stukke toerusting aangeskaf om die oesproses makliker te maak.  Eerste daarvan is ‘n meganiese besem waarmee neute “opgetel” kan word terwyl dit ook blare en takkies wat saam opgetel word, kan wegblaas.  Dan gebruik hy ook innoverende “vere” waarmee enkel neute opgetel kan word sonder om te buk.  So ‘n toestel kan ongeveer een kilogram neute versamel voordat dit geledig hoef te word.

Johan gebruik reeds geruime tyd ‘n skudmasjien wat agter ‘n trekker gekoppel word om ryp neute uit bome uit te skud om op ‘n skadunet op die grond te val.  Daar word dit dan “afgerol” in ‘n windry sodat die optelmasjien dit kan optel.  Dit is nogal prettig om ‘n pekanboom te sien vibreer tot al sy neute (en oorblywende blare) aan die eienaar afgegee is!

Dit lyk of 2009 se pekanprys nie so goed soos 2008 s’n sal wees nie: die wêreldwye ekonomiese afkoeling raak blykbaar ook mense se eetgewoontes.  Vir my persoonlik bly pekans die beste gesondheidsproduk in sy kategorie: 4 neute daagliks (ELKE dag) is ‘n waardevolle belegging in langtermyn gesondheid.

Ryp neute word van bome afgeskud.

Ryp neute word van bome afgeskud.

Die kommentaar is tans gesluit.