Die Orania Ontwikkelingsforum (Forum) is gebore uit ‘n sterk behoefte by inwoners van Orania en ondersteuners daarbuite, om ontwikkeling op alle terreine vinniger te bevorder. Dit bestaan uit verteenwoordigers van die Orania Beweging, Orania Bestuursdienste, die Orania Sakekamer en Vluytjeskraal Aandeleblok (Dorpsraad).
Almal wat belangstel om te help, word deur die Forum ingespan. ‘n Konferensie van belangstellendes wat op 24 Mei 2002 te Witput gehou is, het opdrag gegee dat ‘n uitvoerbare 5-jaarplan vir Orania se ontwikkeling opgestel moet word. Om die opdrag uit te voer, en in navolging van die 24 Mei-konferensie, het die Forum die verdubbeling van Orania se permanente inwonertal tot 1000 plus, binne 5 jaar, as hoofdoelwit gestel. Ter ondersteuning van die hoofdoelwit is ‘n beleidsraamwerk vir ontwikkeling opgestel en die volgende twee subdoelwitte geformuleer:
- Om deur inligting, skakeling en publisiteit Orania te herposisioneer om deurlopend deel te bly van die Afrikaner se polities-kulturele gesprek.
- Om deur sigbare ondernemings, ontwikkeling op bepaalde gebiede te bevorder. Inligting, skakeling en publisiteit is vir aaneenlopende en volgehoue uitvoering aan die Orania Beweging opgedra. Vir die praktiese uitvoering van die tweede subdoelwit, is vyf terreine vir beplanning gekies, naamlik:
- Landbounywerhede
- Nie-landbou handel, nywerhede en dienste
- Toerisme
- Onderwys
- Afgetredenes / pensioenarisse
Om die beplanning prakties en uitvoerbaar te hou, het die Forum sover moontlik mense betrek wat daagliks aktief op die onderskeie terreine besig is of wat goeie kennis daarvan het. Op hierdie wyse is ‘n groot aantal inwoners van Orania direk by die beplanning betrek. Op sommige van die terreine is die beplanning voorlopig afgehandel en die res behoort vroeg in die jaar afgehandel te wees. Dit is verblydend dat sommige planne alreeds in die praktyk toegepas word. Sedert 2003 wou die Forum fokus op sake soos behuising (ook vir werkers wat deur werkgewers op Orania benodig word), maatskaplike sorg (bejaardesorg ingesluit), ‘n eie geldstelsel en beplanningshulp aan individuele besighede wat daarvan gebruik wil maak. Soos met alles wat regtig die moeite werd is, sou die bereiking van ons bevolkingsdoelwit ook moed en geloof vereis. Die inwoners van Orania, hulle gesinne en families, asook Orania se groot aantal vriende dwarsoor die land, is die mense op wie ons steun om Orania en sy vryheidsideaal so sterk te propageer, dat ons weldra met ‘n groot toestroming van permanente inwoners te doen sal hĂȘ!
Kontakpersoon: Martin Kemp, uitvoerende beampte van die Orania Ontwikkelingsforum
Tel.: 082 466 4738