Sal jy op Orania gaan bly?

Na aanleiding van die nuwe debat wat Beeld oor die volkstaat-idee ontketen het, het die Orania Beweging besluit om ‘n veldtog te begin waardeur mense kan vertel waarom hulle bereid sal wees om op Orania te gaan woon. Bestaande inwoners kan ook hul stories en foto’s van die lewe op Orania met lesers deel.

Meer as 6000, oftewel 56% van deelnemers aan ‘n peiling op Beeld.com het vroeër hierdie week gestem dat hulle bereid sal wees om in ‘n volkstaat te woon. Sowat 17% het aangedui dat hulle dit moontlik sal oorweeg. In reaksie daarop het die Beeld-joernalis, Pieter du Toit, ‘n oningeligte reaksie gelewer in sy artikel ‘Volkstaat hou g’n heil in’ wat Woensdag in Beeld gepubliseer is. In dié artikel lewer hy totaal oningeligte kommentaar en maak vals beweringe oor die lewe op Orania. Vandag het daar talle pro-Orania briewe in Beeld verskyn en het honderde mense positief teenoor Orania op Beeld se webblad gereageer.

Klik hier om du Toit se rubriek en kommentaar daarop te lees.

Du Toit het spesifiek Orania afgemaak as ‘n bestaansgemeenskap met ‘n bejaarde bevolking wat sukkel om jong bloed te lok. Hy het die hele volkstaat idee verwerp, afgemaak, sonder enige goeie argumente of selfs kennis van die terme selfbeskikking en volkstaat. Ons sê Orania is nie geïsoleerd nie, kommunikeer met almal, maar Orania bied ‘n eie staanplek in vir ons in die groter Suid-Afrika. Orania beweeg vooruit en stel jou in staat om jou eie toekoms te skep.

Om hierdie rede het ons besluit om ‘n groep op Facebook te stig waar mense kan gaan vertel waarom hulle op Orania sal gaan bly. Ons het ook ‘n e-posadres en sms-lyn beskikbaar gestel vir bydraes.

Laat weet ons wat jy dink. Sal jy in Orania gaan bly?

Orania-inwoners, stuur julle foto’s en stories van die lewe op Orania na veldtog@orania.co.za.

Wat vra ons van jou?

• Sluit vandag nog by ons facebook-groep, ‘Sal jy in Orania gaan bly?’ aan
• Laat weet soveel as moontlik mense van die groep.
• Stuur stories en foto’s na veldtog@orania.co.za.
• Stuur sms-boodskappe na 35933.