Onderwys

Onderwysraad Skole Voorskools Onderwysopleiding

‘n Belangrike pilaar tot die vestiging van Afrikanervryheid bly die onderwys – die opvoedkundige ontwikkeling van kinders om eendag hulle volwaardige plek in hulle gemeenskap in te neem.

Daar is die afgelope dekade energiek gewerk aan ‘n haalbare onderwysstelsel vir Orania. Daar is baie geskuur en geskaaf en beraadslaag met as uitvloeisel dat daar tans drie hoofstroominstellings is, met ‘n beduidende aantal ouers wat tuis-onderwys verkies.

Die gemeenskap het op 21 November 1999 ‘n ORANIA KOÖRDINERENDE ONDERWYSRAAD gestig, met Francois de Vos as eerste voorsitter, om onderwyssake op Orania te koördineer en uit onderwysgeledere ouers van diens te wees deur die reël van aktuele onderwysseminare, sportbyeenkomste en kulturele saamtrekke. Die Raad is tans besig om sy grondwet so aan te pas dat groot skenkings en bemakings gehanteer kan word. Die ideaal is om ‘n sterk fonds op te bou wat skole help om onderwysers beter te besoldig, skoolgeld meer bekostigbaar te maak en onderwysgeriewe te skep waarby die hele gemeenskap baat.

Die Orania CVO-skool bedryf tradisionele onderwys en val onder die beginsels van die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys. Die skool skryf ook die BCVO se eksamens. Waar onderwysers nie beskikbaar is nie, maak die skool al meer gebruik van die geriewe van telematiese onderrig. Dit bring mee dat die beste onderwys in die land tot die kinders se beskikking is. Sport- en kulturele periodes sorg vir ‘n volledige opvoedkundige ontwikkeling.

Die Volkskool Orania is gevestig op die onderwysbeginsel waar die kind self ver-antwoordelikheid neem vir sy akademiese vordering en die werkslading waarvoor hy elke dag kans sien. So word die sterker kandidaat toegelaat om vrylik te vorder en meer vakke aan te bied, terwyl die stadiger kandidaat teen die pas werk waarteen hy gemaklik voel. ‘n Onderwyser is teenwoordig as begeleier, terwyl kundige lede van die gemeenskap en goeie navorsingsgeriewe ook ondersteunend is. Die rekenaar word ingespan om deur voortdurende kontroleringsvrae te toets of die kind op standaard is. Dit maak die leerlinge besonder rekenaarvaardig. Deur gebalanseerde sport- en kultuurbeoefening en die aanwend van beginsels van selfwerksaamheid en entrepreneurskap, ontwikkel die kind volledig. Kenweb en Volkskool se matrieks skryf die IEB-eksamens.

Kenweb is al oor die wêreld bekend vir sy pionierswerk op die gebied van afstandsonderrig. Ouers wat tuisonderwys verkies, vind die Kenwebstelsel met sy Christelik- en Afrikaansgerigte onderbou baie aanvaarbaar. Met sy uiters moderne en gesofistikeerde elektroniese infrastruktuur is Kenweb in staat om wêreldwyd onmiddellike onderwys van Graad 0 tot Graad 12 te verskaf. Matrieks van heinde en verre kom na Orania vir die jaarlikse praktiese matriekweek.

Kleuter-, bewaarskole, naskoolse studente, die Dorpsraad, OKeR, die Orania Beweging en Orania Bestuursdienste word tans ook op die Onderwysraad verteenwoordig.

Kontakpersoon: WC Botha, voorsitter Orania Koördinerende Onderwysraad
Tel. 053 207 0215