Dorpsraad
Vir baie voornemende inwoners in Orania is dit belangrik om te weet hoe die dorp se geldsake staan. In tye waar baie munisipaliteite bankrotskap in die gesig staar, wil elkeen seker maak dat Orania se dorpsfinansies op ‘n gesonde finansiële grondslag bestuur word.
Ook die feit dat Orania as ‘n aandeleblokmaatskappy bedryf word, skep ‘n behoefte aan sekerheid. Die direksie van Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk (Orania Dorpsraad) het ‘n paar belangrike riglyne neergelê waarvolgens Orania reeds vir die afgelope agtien jaar suksesvol bestuur word. Van hierdie riglyne sluit die volgende in:
Alle funksies word verrig in terme van die Wet op die Beheer van Aandeleblokke; streng finansiële bestuur op ‘n algehele skuldvrye basis en jaarlikse verkiesing van ‘n direksie (deur die aandeelhouers) wat oor die kundigheid en vermoë beskik om die dorp effektief te kan bestuur. Met hierdie konserwatiewe bestuurs-benadering is die grondslag vir groei en vertroue gelê. Die duidelikste bewys hiervan lê in die feit dat eiendomspryse in Orania konstant styg in teenstelling met baie ander plattelandse dorpe waar die teenoorgestelde plaasvind.
Orania Dorpsraad kan ‘n verskeidenheid munisipale dienste in Orania voorsien. Van hierdie dienste sluit die voorsiening van elektrisiteit, water, vullisverwydering, riolering en die onderhoud van paaie, openbare tuine en sypaadjies in. Die Dorpsraad neem, soos in Orania gewoonte is, ook verantwoordelikheid vir die omgewing deur vullis in vyf klasse te sorteer en glas, plastiek, papier en blikkies te versend aan verwerkers.
Ook wat gemeenskapsontwikkeling betref, speel die Dorpsraad ‘n belangrike rol. Hier word veral aandag gegee aan dinge soos sport en ontspanning, wet en orde, toerisme, nooddienste, veiligheid, biblioteekdienste en maatskaplike sorg. Orania Dorpsraad het ook ‘n sleutelrol gespeel in die totstandkoming van Orania se Verteenwoordigende Raad. Die Raad het tot stand gekom nadat Orania ‘n dispuut met die regering verklaar het rakende sy munisipale status. Hierdie Raad is demokraties verkies op 5 Desember 2000 toe Orania se inwoners en ondersteuners ‘n eie verkiesing op Orania gehou het. Hierdie verkiesing is voorafgegaan deur ‘n hofbevel van die Hooggeregshof in Kimberley wat bepaal het dat die status quo ten opsigte van Orania se munisipale status gehandhaaf word hangende die uitslag van verdere onderhandelinge. ‘n Ministeriële komitee, waarvan Orania ook ‘n lid is, het reeds etlike jare gelede sy verslag aan die betrokke minister oorhandig vir voorlegging aan die kabinet. Finale beslissing word nog afgewag.
Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk se direksie, wat algemeen bekend staan as die Dorpsraad, kon reeds vir verskeie nuwe ondernemings in Orania die nodige dienste en infrastruktuur voorsien om hulle vestiging moontlik te maak. Die maatskappy is gereed en beskik oor die vermoë om die uitdagings vir toekomstige ontwikkeling gemaklik te kan hanteer.
Kontakpersoon: Kobus van der Merwe, Dorpsbestuurder
Tel.: 053 207 0063/4
