Geldstelsel en geldeenheid vir Orania
Die gemeenskap van Orania het die keuse gemaak om ‘n lokaliseringsbenadering ten opsigte van ontwikkeling te volg. Dit beteken kortweg dat, buiten vir die konvensionele norme, ontwikkelingsbesluite ook aan die volgende twee belangrike maatstawwe gemeet word. In die eerste plek moet elke ontwikkelingsbesluit en die uitvoering daarvan ekologiese volhoubaarheid bevorder en in die tweede plek moet dit die gemeenskap stap vir stap bemagtig in sy strewe na ekonomiese selfstandigheid.
EF Schumacher skryf in sy opsienbarende boek, Small is Beautiful: Economics as if People Mattered, dat die mees rasionele ekonomiese handeling is om plaaslike behoeftes met plaaslike hulpbronne te bevredig. ‘n Gemeenskap wat graag sukses wil behaal op hierdie grondslag, moet dus soveel moontlik beheer oor sy plaaslike hulpbronne en finansies hê. Om beheer oor finansies te kan hê, moet finansiële instrumente geskep word. Die twee belangrikste finansiële instrumente wat gemeenskapsbemagtiging bevorder is ‘n gemeenskapsbank en ‘n eie geldstelsel.
Orania het reeds sy eie gemeenskapsbank of kredietunie, Orania Spaar en Krediet Kooperatief Bpk (OSK), opgerig en het in 2004 sy eie geldstelsel geloods.
Van idee tot werklikheid
Die idee van ‘n eie geldstelsel vir Orania is die eerste keer ge-opper deur prof Johan van Zyl (‘n konsultant in ekonomiese ontwikkeling en ereprofessor aan die Universiteit van Pretoria) tydens ‘n konferensie in 2002 van die Orania Beweging oor plaaslike ekonomiese ontwikkeling in Orania.
Die saak is na die Orania Ontwikkelingsforum verwys, wat ‘n komitee tot stand gebring het om die moontlikheid en haalbaarheid van ‘n eie geldstelsel vir Orania te ondersoek. Die komitee het ‘n verslag opgestel en tot die slotsom gekom dat ‘n eie geldstelsel baie voordele kan inhou vir Orania in terme van groeiende selfstandigheid. Die komitee was van mening dat die gemeenskap oor die nodige kundigheid beskik om so ‘n stelsel in werking te kan stel en suksesvol te kan bedryf.
Na verskeie dorpsvergaderings waartydens inwoners ingelig is oor die vordering met navorsing en uiteindelike implementering van die stelsel, is daar besluit om die stelsel te loods. Die plaaslike argitek, mnr Christiaan van Zyl, het die opdrag gekry om die note te ontwerp. Die kunstige ontwerp en besondere simboliek van die note het groot lof ontvang. Uiteindelik is die stelsel amptelik in werking gestel op Donderdag 29 April 2004.




(Vir ‘n uiteensetting van die simboliek van die illustrasies op die Ora-note, sien onderaan)
Implementering en bedryf
‘n Eie geldeenheid kan vergelyk word met ‘n koepon of geskenkbewys wat te koop is by die meeste groot winkelsentrums in die land. Die houer van so ‘n bewys kan dit dan by enige winkel binne die sentrum gebruik.
Die Orania Sakekamer het die Ora-note oftewel koepons laat druk. Dit kan aangekoop word by die plaaslike kredietunie (OSK) en gebruik word vir aankope in Orania. Die note is in eenhede van Ora10, Ora20, Ora50 en Ora100 beskikbaar en word op die basis van R1 vir ‘n Ora verkoop. Terugruil vind op dieselfde basis plaas en geen kommissie is betaalbaar nie. Die Ora word dus 100% gewaarborg deur die RSA-rand en die saldo van die Ora-bankrekening moet altyd presies ooreenstem met die waarde van Ora’s in sirkulasie.
Voordele
Die bedryf van ‘n eie geldstelsel hou die volgende voordele vir ‘n gemeenskap in:
- Kontant in omloop (in beursies, geldlaaie, ens.) word vervang met koepons, terwyl die werklike geld in die bank lê en rente verdien.
- Meer koopkrag word binne die gemeenskap gehou aangesien die geldeenheid slegs binne die gemeenskap as betaalmiddel aanvaar word. Hierdie aspek word nog verder in Orania bevorder deurdat sakeondernemings sekere kortings toestaan wanneer Ora as betaalmiddel gebruik word.
- ‘n Eie betaalmiddel bevorder die lewering van plaaslike produkte en dienste deurdat dit volledig as betaalmiddel gebruik kan word vir produkte of dienste wat van min of geen ingevoerde komponente gebruik maak nie. Voorbeelde hiervan is tuindienste, musieklesse of groente- en vrugteverbouing.
- ‘n Plaaslike geldeenheid is veiliger as kontant. ‘n Persoon wat dit onregmatig bekom, kan dit nie buite Orania gebruik nie.
- ‘n Plaaslike geldeenheid het ook ‘n versamelaarswaarde. Aankope daarvan deur buitestaanders is ‘n direkte investering in die gemeenskap.
- ‘n Eie geldeenheid bevorder ‘n gemeenskap se gevoel van eie identiteit en selfstandigheid. Dit bevorder ook ‘n gemeenskap se selfvertroue om meer dinge self aan te pak. Dinge wat hy gedink het nie binne sy vermoë is nie, soos om sy eie geld te kan hê.
Veiligheid en sekuriteit
Die belangrikste veiligheidskenmerk van die eie geldstelsel is die feit dat dit gemeenskapsgebaseer is. Binne gemeenskapsverband sal enige onreëlmatigheid baie vinnig bemerk word.
Verdere veiligheidskenmerke is egter ook in die Ora ingebou. Van hierdie kenmerke sluit in die gebruik van ‘n hoë kwaliteit papier en op elke noot ‘n unieke nommer, ‘n vervaldatum en twee handtekeninge van lede van die bestuur van die Orania Sakekamer.
Vorentoe
In hulle boek Beyond Reasonable Greed, skryf Clem Sunter en Wayne Visser dat die huidige vryemark kapitalistiese besigheidsmodel van die Westerse wêreld aan die einde van sy bruikbaarheid gekom het.
Dit sluit aan by die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram wat waarsku teen vyf nuwe vorme van groei:
- Werkloos – Groei wat nie nuwe werkgeleenthede skep nie.
- Stemloos – Groei wat nie demokrasie bevorder nie.
- Tradisieloos – Groei wat die kulturele verskeidenheid vernietig.
- Toekomsloos – Groei wat die natuurlike omgewing en hulpbronne vernietig.
- Gewetenloos – Groei wat die rykes onregmatig bevoordeel.
Tans is daar ‘n nuwe, breë wêreldwye beweging aan die ontwikkel wat ‘n gesonde balans tussen globalisering en lokalisering wil bewerkstellig. Orania is deel van hierdie nuwe beweging.
Die lokaliseringsbeweging staan egter nog in sy kinderskoene. Die gedagtes rondom lokalisering sal vir baie vreemd wees. Ook is daar baie agterdog. Met die implementering van nuwe stelsels sal daar beslis nog baie groeipyne wees.
In ‘n land waar baie gemeenskappe egter ontmagtig is en armoede hoogty vier, bied die idees rakende selfstandige plaaslike gemeenskapsontwikkeling nuwe moontlikhede. Orania het reeds die eerste treë in hierdie rigting gegee en is bereid om sy kundigheid met ander te deel.
Simboliek van die illustrasies op die note
Die tien Ora beeld ons geskiedenis uit.
Racheltjie de Beer is metafoor vir die vasberadenheid van ons voorsate. Die deursettingsvermoë van veral die vrou tydens die Groot Trek, die Vryheidsoorloë en van vandag, word gehuldig. Die Namakwalandse madeliefie (Dimorphotheca sinuata), ‘n inheemse blom van die streek, kleur Orania jaarliks in ‘n skouspel van skakerings van oranje.
Die twintig Ora beeld ons kunste uit.
Trompie is nie net ‘n literêre held nie; hy lewe en is steeds te sien op elke plaas en in elke agtertuin. Kettie-in-die-hand beeld hy die doelgerigtheid, wat ons vandag nodig het, uit.
Pierneef se kameeldoringbome (Acacia erioloba) is inheems aan die streek.
Die vyftig Ora beeld ons kultuur uit.
Ons geloof en gesinsverbondenheid maak ons sterk. Die afbeelding van ‘n dogtertjie wat lees, is een van vier loodglaspanele deur mev Elly Holm geskenk aan mev Betsie Verwoerd. Dit is te sien in haar huis op Orania, wat vandag die Verwoerd-gedenkversameling huisves. Die voorsate van die Nooitgedachters, hier afgebeeld, word vereer vir hul rol tydens die Vryheidsoorloë.
Die honderd Ora beeld Orania uit.
Die seuntjie wat sy moue oprol, simboliseer die gemeenskap van Orania se strewe om deur selfwerksaamheid ‘n pad na vryheid te baan. Die oorspronklike kunswerk, aan die Afrikanervryheidstigting geskenk deur mev. Elly Holm, is te sien in die Orania Beweging se kantoor. Die ratse steenbok en kanniedoodaalwyn tipeer ook Orania.