Sakekamer

Ontwikkelingsforum Sakekamer Bestuursdienste

100_5583

“Dit is duidelik dat Orania ‘n volgende fase van ontwikkling betree het”, meen Johan Olivier, vorige voorsitter van die Orania Sakekamer. “Oor die afgelope paar jaar is harde lesse geleer. Verskeie ondernemings het ondergegaan, ander is oorgeneem deur nuwe eienaars of het geherstruktureer. Die ondernemers wat tans aan die stuur van sake staan het goeie ervaring en die algemene besigheidsklimaat is positief.”

Orania het dit reggekry om in ‘n relatief kort tydperk ‘n suksesvolle plaaslike ekonomie tot stand te bring. En dit sonder staatsondersteuning en met beperkte hulpbronne. Waar die eerste tydperk beskryf kan word as ‘n vestigingsfase, is die fokus nou op groei.

Orania beskik oor ‘n verskeidenheid sake-ondernemings in die belangrike sektore van handel, nywerheid en dienste. In ‘n sekere sin kan ‘n mens sê dat die dorp oorontwikkel is gegewe sy inwonertal. Vir nuwe ondernemings is die verskeidenheid van dienste wat beskikbaar is egter ‘n groot bate.

Nuwe investering die afgelope paar jaar deur die Wynhuis, Roelien de Klerk juwele, Oranjerivier Spa,  Ora Supermark, Oewerpark en eiendoms ontwikkelaars, is ook ‘n aanduiding van vertroue en groei in kleinhandel. Ondernemings wat gerig is op ondersteuning aan die omliggende landboubedryf toon ook besondere potensiaal.

In Orania se nywerheidsgebied is verskeie landbouverwante ondernemings gevestig en die potensiaal vir verdere uitbreiding lyk gunstig. ‘n Opwindende nuwe neiging is die gebruik van regspersone waarmee werkers meer betrokke raak by ondernemings, en in die besonder die sg. Mondragon tipe kooperasies.  Kenweb is waarskynlik een van die oudste sake-ondernemings op Orania. Hierdie onderneming, wat spesialiseer in die ontwikkeling van rekenaargebaseerde onderwysmateriaal, verkoop sy produkte wêreldwyd en onderhou werksgeleenthede in Orania.

Met die toename in oornagplekke en die pragtige ontwikkeling langs die rivieroewer word toerisme ook ‘n belangrike groeibedryf.

Ook het die boubedryf begin momentum optel met die ontwikkeling van verskeie meenthuiskomplekse.

Weens Orania se uiters gunstige klimaat en voldoende besproeiingswater was landbou-ontwikkeling van die begin af ‘n sukses. Landbou op Orania word bedryf deur ongeveer 50 hoewe-eienaars. Die vernaamste sektore is pekanneutverbouing, melkproduksie en graan- en veevoerverbouing.

Kontakpersoon: Andre Coetsee, Voorsitter Orania Sakekamer
Tel. 082 4641 786