Finansiële dienste

Algemeen
Finansiële dienste
Gesondheidsdienste
Maatskaplike dienste
Werkverskaffing en verblyf

Die twintig Ora noot.

Die twintig Ora noot.

Orania Spaar en Krediet Koöperatief

Op pad na die vestiging van Orania as ‘n bemagtigde gemeenskap wat ons vryheidstrewe uitdra, het daar op Woensdag, 11 Julie 2001 ‘n besondere mylpaal bygekom: die vestiging van ‘n eie finansiële instelling.

Lukas Taljaard, een van Orania se leidende entrepreneurs, het al vir ‘n paar jaar met die gedagte geloop dat daar maniere gevind moet word om Orania se geld binne sy grense te hou en die minimum te laat uitvloei. Binne sy eie bedryf het hy op klein skaal lenings begin uitgee, spaargeld ontvang en ‘n fondsie gestig waarin Oraniërs kon belê as ‘n appeltjie vir die dors.

Die inisiatief het gou groot byval gevind en op 11 Julie 2001 is Lukas se droom verwesenlik toe ‘n Orania Ondersteuningsfonds amptelik in die gemeenskapsaal in die lewe geroep is met ‘n eerste direksie van nege lede. Die eerste stap van die direksie was om by SACCOL (Savings and Credit Co-operative League of South Africa) aan te sluit en die naam ORANIA SPAAR EN KREDIET KOöPERATIEF BPK (OSK) te aanvaar. Dit verleen aan ons kredietunie wettige status met voordelige beskermingsmaatreëls en die magtiging om deposito’s te aanvaar en geld uit te leen. Hierdie skema is wêreldwyd uiters gewild en by uitstek geskik om kleiner gemeenskappe finansieel selfstandig te maak en die uitbreiding van eie ekonomieë te ondersteun.

Lukas Taljaard is as die eerste Uitvoerende Direkteur aangestel en die kredietunie was aanvanklik van sy perseel af bedryf. Die instelling gaan van krag tot krag en al die voordele gaan aan die inwoners van Orania. Die groei het meegebring dat reeds in Januarie 2005 geskuif is na ‘n eie gebou wat aangekoop is in Orania. Groot beleggings (met mededingende rentekoerse) bring mee dat ‘n hele paar behuisingslenings en lenings vir die ontwikkeling van boerderybedrywighede reeds toegestaan kon word. ‘n Groot deel van Orania se salarisverdieners se salarisse word direk by die instelling inbetaal, terwyl dit reeds vir die instelling moontlik is om aftrek- en debietorders te hanteer en elektroniese transaksies namens beleggers aan te gaan.

Die OSK word as ‘n koöperasie bedryf. ‘n Persoon met ‘n belang in Orania kan teen ‘n minimum beleggingsaandeel (soos deur die direksie bepaal) lid word en tydens vergaderings stem.

‘n Volgende opwindende stap wat by die OSK-inisiatief aangesluit het, was om ‘n eie betaalstelsel (ruilmiddel) vir Orania te ontwikkel.

‘n Beplanningskomitee onder voorsitterskap van Frans de Klerk het die aanvoorwerk gedoen en op 29 April 2004 het die ORA in bedryf gekom. Hierdie nuutste Orania-inisiatief op monetêre gebied lok steeds groot belangstelling, veral van ernstige muntversamelaars. Die grootste voordele in so ‘n stelsel lê daarin dat Oraniërs met ‘n eie tipe “geld” kan koop en verkoop en so geld binne die gemeenskap hou en dat dit bydra tot Orania se unieke ontwikkeling en tot groeiende selfstandigheid.

Orania is tans besig om allerlei metodes aan te wend om nog grond tot sy bestaande grense toe te voeg. ‘n Grondfonds is reeds deur die Orania Groeifonds gestig en OSK het ook met die aankoop van ‘n plaas tot die inisiatief toegetree. Die plaas word in 36 woonpersele opgedeel en is bedoel om as ‘n eko-vriendelike gebied ontwikkel te word. Voornemende eienaar/aandeelhouers kan op verbeeldingryke wyse wooneenhede opbou wat inpas by die omgewing. Dié randjieswêreld beskik reeds oor ‘n aantal bokke van die streek.

Belangstellendes kan gerus met die Uitvoerende Direkteur van OSK, Lukas Taljaard, by ondergenoemde telefoon skakel.

Kontakpersone: Lukas Taljaard, Uitvoerende Direkteur van OSK
Tel/faks: 053 207 0010 of selfoon 082 773 2524

Hanrie Maritz, Bestuurder van OSK
Tel/faks: 053 2070 010