Lees Ebert Terblanche, ‘n jong, professionele persoon van Orania se reaksie.
Sebastiaan Biehl, ‘n politieke analis, wat op Orania woon, het ook op die berig gereageer:
Geagte Redakteur
Ek reageer graag op die artikel “Zuma aan Afrikaner: daar is jou tuiste” in Beeld van 17 Februarie 2011.
Dit is baie positief dat president Zuma die Afrikaner se behoefte aan ‘n tuiste verstaan en ons reg om in Afrika as volk met ons eie wese en kultuur te leef bevestig. Dit is ‘n groot verbetering teenoor sy voorganger met sy rasgebaseerde sienings en verwysings na Afrikaners as “settlers of a special kind”.
Nogtans is Zuma se uitsprake nie heeltemal konsekwent nie. Hy erken ons reg op ‘n Nkandla, maar wil dit nie graag fisies sien nie maar eerder virtueel, terwyl hy self baie goed weet dat sy Nkandla net as fisiese plek kan bestaan en nie as virtuele Zulu-tuiste nie: Nkandla het grond waar beeste loop, huise met mense by die deure, dit ruik na iets en jy voel die son op jou vel, jy raak aan die mense en gesels met hulle in jou moedertaal Zulu. Ek het volle begrip dat pres. Zuma tuis voel as Zulu in ‘n outentieke Zulu-omgewing. En Nkandla kan ook nie as Zulu-eiland bestaan nie, dit is ingebed in ‘n uitgestrekte Zululand met talle soortgelyke dorpies rondom.
Dus behoort Zuma te begryp dat die “Nkandla van die Afrikaner” nie virtueel of denkbeeldig kan bestaan nie. Hy het Orania besoek en was beïndruk en het Orania se bestaansreg as kulturele tuiste vir die Afrikaner bevestig. Maar hoekom die vrees vir grondgebied? Die Zulu en die meeste ander swart volke is inherent grondgebonde. Dit verbind hulle aan die Afrikaners, en dit onderskei ons van wit “expats” in Suid-Afrika wat as globaliste lewe en vir wie Suid-Afrika net ‘n tydelike plek vir besigheid is.
Zuma erken self dat jou volkskap en gebondenheid aan jou grondgebied jou nie ontneem van jou groter “Suid-Afrikanerskap” nie. Daarom is dit onbillik van Zuma om die Afrikaners hulle fisiese tuisland te ontsê as hy die bestaan daarvan vir sy eie mense verdedig. Orania is reeds geskep en is hier om te bly. Daar sal ook nog ander Oranias wees, net soos wat daar ook nie net een Zulu-dorp in die land bestaan nie.
Orania, die Afrikaner se Nkandla, moet net soos Zuma se kulturele kragbron en tuisdorp, leefruimte gegun word om tot sy volle reg te kom. ‘n Afrikanertuiste kan nie bestaan uit ‘n voorstedelike veiligheidsbuurt met Afrikaanse straatname, maar die ander vreemde en geglobaliseerde Suid-Afrika daar buite nie. Dit moet nes Nkandla met sy Zulu-omgewing ingebed wees in ‘n Afrikaanse leefwêreld. Orania kan floreer in die Noord-Kaap, wat ‘n Afrikaanse wêreld is en grootliks onaangeraak van globalisering en verstedeliking is. Maar nes daar tientalle ander Nkandlas oor Zululand verstrooi is wat die een Nkandla veilig laat voel, so moet daar meer Afrikanervestigings in die streek wees. Al bestaan Zululand nie meer as aparte politieke eenheid nie, is Zululand ‘n feit en dit is goed so. As ek ‘n Zulu was, was ek nes Zuma trots daarop, al het ek in Kaapstad of Johannesburg gewoon. Net so moet Afrikaners in die stede of die buiteland trots wees op ‘n outentieke Afrikanertuiste en dit help uitbou. Zuma stel vir ons die voorbeeld dat etniese trots en ‘n gevoel van tuiskom na jou eie plek goed en aanvaarbaar is, ook in die nuwe Suid-Afrika. Afrikaners kan dus ophou om hulle te distansieer van alles wat te doen het met Afrikaneridentiteit en -grondgebied.