Die Ora

Die Ora is Orania se amtelike ruilmiddel. Die waarde van 1 Ora is gelykstaande aan een Rand. Die Ora is `n koeponstelsel wat gedurende 2004 in Orania in gebruik geneem is. Dié stelsel bevorder plaaslike besteding. Verskeie plaaslike ondernemings gee afslag wanneer daar met Ora’s betaal word om die gebruik daarvan aan te moedig. Ora-note word in denominasies van 10-, 20-, 50-100 en 200-Ora gedruk. Die bedryf van ‘n eie geldstelsel hou die volgende voordele vir ‘n gemeenskap in:
  • Kontant in omloop (in beursies, geldlaaie, ens.) word vervang met koepons, terwyl die werklike geld in die bank lê en rente verdien.
  •   Meer koopkrag word binne die gemeenskap gehou aangesien die geldeenheid slegs binne die gemeenskap as betaalmiddel aanvaar word. Hierdie aspek word nog verder in Orania bevorder deurdat sakeondernemings sekere kortings toestaan wanneer Ora as betaalmiddel gebruik word.
  • ‘n Eie betaalmiddel bevorder die lewering van plaaslike produkte en dienste deurdat dit volledig as betaalmiddel gebruik kan word vir produkte of dienste wat van min of geen ingevoerde komponente gebruik maak nie. Voorbeelde hiervan is tuindienste, musieklesse of groente- en vrugteverbouing.
  • ‘n Plaaslike geldeenheid is veiliger as kontant. ‘n Persoon wat dit onregmatig bekom, kan dit nie buite Orania gebruik nie.
  • ‘n Plaaslike geldeenheid het ook ‘n versamelaarswaarde. Aankope daarvan deur buitestaanders is ‘n direkte investering in die gemeenskap.
  • ‘n Eie geldeenheid bevorder ‘n gemeenskap se gevoel van eie identiteit en selfstandigheid. Dit bevorder ook ‘n gemeenskap se selfvertroue om meer dinge self aan te pak. Dinge wat hy gedink het nie binne sy vermoë is nie, soos om sy eie geld te kan hê.

Simboliek van die illustrasies op die note

Die tien Ora beeld ons geskiedenis uit.

Racheltjie de Beer is metafoor vir die vasberadenheid van ons voorsate. Die deursettingsvermoë van veral die vrou tydens die Groot Trek, die Vryheidsoorloë en van vandag, word gehuldig. Die Namakwalandse madeliefie (Dimorphotheca sinuata), ‘n inheemse blom van die streek, kleur Orania jaarliks in ‘n skouspel van skakerings van oranje.

Die twintig Ora beeld ons kunste uit.

oranoot202 Trompie is nie net ‘n literêre held nie; hy lewe en is steeds te sien op elke plaas en in elke agtertuin. Kettie-in-die-hand beeld hy die doelgerigtheid, wat ons vandag nodig het, uit. Pierneef se kameeldoringbome (Acacia erioloba) is inheems aan die streek.

Die vyftig Ora beeld ons kultuur uit.

oranoot501 Ons geloof en gesinsverbondenheid maak ons sterk. Die afbeelding van ‘n dogtertjie wat lees, is een van vier loodglaspanele deur mev Elly Holm geskenk aan mev Betsie Verwoerd. Dit is te sien in haar huis op Orania, wat vandag die Verwoerd-gedenkversameling huisves. Die voorsate van die Nooitgedachters, hier afgebeeld, word vereer vir hul rol tydens die Vryheidsoorloë.

Die honderd Ora beeld Orania uit.

oranoot1001 Die seuntjie wat sy moue oprol, simboliseer die gemeenskap van Orania se strewe om deur selfwerksaamheid ‘n pad na vryheid te baan. Die oorspronklike kunswerk, aan die Afrikanervryheidstigting geskenk deur mev. Elly Holm, is te sien in die Orania Beweging se kantoor. Die ratse steenbok en kanniedoodaalwyn tipeer ook Orania.