Die Ora

Agtergrond

Die gedagte van ’n eie geldstelsel vir Orania is die eerste keer genoem deur prof. Johan van Zyl, ’n konsultant in ekonomiese ontwikkeling, tydens ’n konferensie van die Orania Beweging in 2002 op Orania. Prof. Van Zyl het dit beklemtoon dat ’n gemeenskap wat homself wil bemagtig, soveel moontlik instrumente moet skep waardeur hy sy selfstandigheid kan bevorder. ’n Eie geldeenheid is ’n goeie voorbeeld van so ’n instrument. Die gedagte het verder momentum gekry met ’n besoek van die omgewingskundige, dr. Colin Hudson van Barbados, wat baie prakties die voordele van ’n eie geldstelsel vir ’n gemeenskap uitgestippel het. Hierdie idees is opgevolg met ’n verdere konferensie van die Orania Beweging, ook in 2002, wat spesifiek gehandel het oor ’n eie geldstelsel vir Orania. Tydens hierdie geleentheid het die ekonoom, dr. Norman Reynolds, as gespreksleier opgetree.
Die konferensie het die saak na die Orania Ontwikkelingsforum verwys vir verdere ondersoek. In opdrag van die Orania Ontwikkelingsforum het ’n komitee tot stand gekom wat die moontlikheid en haalbaarheid van ’n eie geldstelsel vir Orania ondersoek het. Die komitee het ’n verslag opgestel en tot die slotsom gekom dat ’n eie geldstelsel baie voordele vir Orania kon inhou op sy pad na groeiende selfstandigheid. Die komitee was van mening dat die dorp oor die nodige kundigheid beskik om so ’n stelsel in werking te kan stel en suksesvol te bedryf.

Na verskeie dorpsvergaderings waar inwoners ingelig is rakende die vordering met navorsing en uiteindelike implementering van die stelsel, is die Ora op 29 April 2004 geloods. Drie maande voor die vervaldatum van die A-reeks het die bestuur van die Sakekamer besluit om die sukses van die Ora-projek oor die eerste twee jaar so goed as moontlik te evalueer. Die volgende positiewe gevolge van die eie geldstelsel het duidelik na vore gekom:

  1. Met die A-reeks is Φ240 000 en met die B-reeks Φ412 000 in sirkulasie geplaas. ’n Gelyke bedrag in Rand is dus by Orania Spaar en Krediet Koöperatief belê vir ontwikkeling in Orania.
  2. Verskeie ondernemings gee korting wanneer met Ora betaal word. Geen bankkoste word gehef op tjeks wat in Ora uitbetaal word nie.
  3. Die behoefte aan kontant (en die gepaardgaande risiko) in Orania het verminder.
  4. Baie ondersteuners, besoekers en versamelaars het Ora’s aangekoop wat nie weer na Orania gaan terugkom nie. Dit verteenwoordig ’n direkte belegging in Orania.
  5. Orania se identiteit en gees van selfstandigheid is hierdeur versterk. Die Ora het, soos bv. Orania se eie vlag, een van die belangrikste simbole geword wat Orania se uniekheid en selfstandigheid bevestig.
  6. Verskeie navorsers en ekonome het Orania besoek om ondersoek in te stel na Orania se ekonomiese model van selfstandigheid, waarvan die eie geldstelsel ’n belangrike onderdeel is.

Die Ora B-reeks is op Donderdag 13 April 2006 met die viering van Orania se vyftiende verjaardag amptelik geloods. Die Ora C-reeks is op Saterdag 12 April 2008 amptelik bekendgestel en in sirkulasie geplaas met die ingebruikneming van Orania se eie radiostasie, Radio Orania. Die Ora D-reeks is op 6 April 2011 tydens Orania se 20-jarige feesvieringe bekendgestel. Die Ora E-reeks is op 3 April 2014 tydens die Orania Karnaval bekendgestel. Die Φ200 is nou deel van die reeks.  Die F-reeks is op 6 April 2017 vrygestel. Daar is nou
Φ3 850 000 beskikbaar gestel vir gebruik in Orania.

 

Die simboliek en betekenis van elke noot

Die Tien Ora beeld ons geskiedenis uit. Racheltjie de Beer is ’n metafoor vir die vasberadenheid van ons voorsate. Die deursettingsvermoë van veral die vrou tydens die Groot Trek, die Vryheidsoorloë en van vandag word gehuldig. Die Namakwalandse madeliefie (Gazania krebziana), ’n inheemse blom van die streek, kleur Orania jaarliks in ’n skouspel van skakerings van oranje.

 

Die Twintig Ora beeld ons kunste uit. Trompie is nie net ’n literêre held nie; hy lewe en is steeds te sien op elke plaas en in elke agtertuin. Kettie in die hand beeld hy die doelgerigtheid uit wat ons vandag nodig het. Pierneef se kameeldoringbome (Acacia giraffae) is inheems aan die Karoo.

 

Die Vyftig Ora beeld ‘n nuwe era van opleiding van ons volk uit. Die kind wat lees, verbreed sy/haar horisonne en geleenthede. Net so bou Orania se eie skole en tersiêre opleiding ‘n toekomsvisie vir ons kinders. Die voorsate van die Nooitgedacters, hier afgebeeld, word vereer vir hul rol tydens die Vryheidsoorloë.

 

Die Honderd Ora beeld Orania uit. Die jong seun wat sy moue oprol, simboliseer die gemeenskap van Orania se strewe om deur selfwerksaamheid ’n pad na vryheid te baan. Die oorspronklike kunswerk, geskenk deur mev. Elly Holm aan AVSTIG, is te sien in die Orania Beweging se kantoor. Die ratse steenbok en kanniedoodaalwyn tipeer Orania.

 

Die Tweehonderd Ora beeld ons lewe in Orania uit. Soos die koeksister is die Orania-gemeenskap lekker heg aanmekaargevleg. Die koeksisterbeeld, opgerig deur Kaalvoet, is onthul op 4 September 2003 deur mev Anna Boshoff. Die 2m-hoë beeld vereer die rol van die Afrikanervrou. Die graatjiemeerkatfamilie (Suricata suricatta) is ‘n simbool vir Orania se mense wat as gemeenskap saamwerk en na mekaar omsien.

 
Teken in op ons e-nuusbrief
Kry al die Orania nuus eerste!
Ons respekteer jou privaatheid.