Geskiedenis

Van spookdorp tot droomdorp.

Dis die verhaal van Orania.

Maar waar het alles begin?

Met die bou van die Vanderkloofbesproeiingskanale het die Departement Waterwese besluit om ‘n dorp naby die kanale te vestig om verblyf aan hulle werkers te verskaf. So het die dorpie Orania in 1963 tot stand gekom, halfpad tussen Hopetown en Petrusville op die wal van die Oranjerivier. Aanvanklik is na die dorp verwys as Vluytjeskraal, verwysend na die plaas waarop die dorp ontstaan het. Die plaaslike ingenieur, Norman Landsdell, het egter ‘n kompetisie uitgeskryf om ‘n naam vir die dorp te kies. “Orania” was die wennaam.

Voordat die bouwerk aan die nuwe dorpie kon begin, moes die terrein eers skoongemaak en bome verwyder word. Van niks af is begin bou aan ‘n spogdorp. Alhoewel dit opslaanhuise was, was die erwe groot en die sypaadjies breed. ‘n Meerdoelige gemeenskapsaal, reuse swembad, tennisbane en ‘n muurbalbaan het volop ontspanning moontlik gemaak. Met ‘n eie poskantoor, gastehuis, kliniek, winkel, kerk en eie skool het Orania mettertyd een van die bes toegeruste dorpe in die omgewing geword.

Maar na amper twintig jaar was die bouwerk aan die kanale klaar en is die Waterwesewerkers na ander projekte oorgeplaas. Die eens lewendige dorpie het stadigaan begin leegloop. Onkruid het die eens lowerryke tuine begin oorneem. Vandale het toegeslaan. Ruite is stukkend gegooi, kombuiskaste is uitgebreek, alles wat moontlik weggedra kon word, is verwyder. Later was die huise net vervalle doppe, toegegroei deur kniehoogte gras en onkruid. Van die opslaanhuise is per tender verkoop sodat daar plek-plek net fondamente oorgebly het.

In 1990 het die staat oorgegaan tot die verkoop van die dorp in sy geheel. Lede van die Afrikanervryheidstigting (AVSTIG), wat die advertensie vir tenders vir die aankoop van Orania in die Landbouweekblad gesien het, het besluit om te tender. Aandeelhouers is gewerf en kort daarna is die dorp Orania deur die nuutgestigte Orania Bestuursdienste (OBD) aangekoop vir R1,5 miljoen. ‘n Nuwe era het begin!

Op 11 April 1991 is Orania amptelik in gebruik gestel. Huise is teen R31,000 tot R41,000 te koop aangebied. In Augustus 1991 is ‘n aangrensende plaas, Vluytjeskraal 272 van ongeveer 2,300 hektaar vir ‘n verdere R480,000 aangekoop, wat landbougeleenthede gebied het. Die Dorpsraad het tot stand gekom wat die bestuur van die dorp van OBD oorgeneem het. Die eerste burgemeester was André van den Berg, die “vader” van KENWEB.

Vandag, meer as twee dekades later, staan Orania in blom. Die huise en tuine is weer netjies gemaak, nywerhede en ander ondernemings bedien die gemeenskap volledig, terwyl kinders nou in twee skole tot matriek kan skoolgaan. ‘n Lewende gemeenskap . . .

Heelwat het ook op landboufront gebeur: verskeie plase is aangekoop en is ontwikkel of word tans verder ontwikkel. Geskiedenis word feitlik weekliks gemaak!

So het die ongerestoureerde huise in Kleingeluk gelyk:

En so lyk sommige nou . . .

Tienie

Huise (1)