Jaarverslag 2016

29ste

Burgervergadering

van die Orania Beweging
17 Junie 2017
Orania

Jaarverslag van die Orania Beweging 2016

Uitnodiging
Dit is vir ons ‘n voorreg om elke lid van die Orania Beweging hiermee uit te nooi na ons jaarlikse Burgervergadering.

Vanjaar vind die Burgerraadsitting op Vrydag, 16 Junie plaas. Verkose Burgerraadslede woon hierdie sitting by en ander lede kan dit as waarnemers bywoon. Burgerraadslede word ook genooi na ‘n spesiale Burgerraaddinee op Vrydagaand, 16 Junie in die Orania Gemeenskapsaal. Die spreker by die Burgerraaddinee is prof Hermann Giliomee.

Die Burgervergadering vind vanjaar op Saterdag, 17 Junie in die Bo-Karoo Opleidingsentrum op die terrein van die Orania CVO-skool plaas. Vanjaar se sprekers is dr Wikus Buys en prof Johann Rossouw.

Tydens die Burgervergadering word ook verslag gedoen oor die afgelope jaar se hoogtepunte en ‘n finansiële verslag word gelewer.

Die Burgervergaderingnaweek word afgesluit met ‘n kerkdiens die Sondag in die Orania Gemeenskapsaal.

Indien u Orania graag tydens hierdie naweek wil besoek, kan u die Orania Beweging-kantoor vir ‘n lys van beskikbare verblyf skakel. U word aangeraai om vroegtydig te bespreek. Die kantoornommer is 053 207 0004, of u stuur ‘n e-pos aan ontvangs@orania.co.za.

Registrasie vir Burgervergadering:
Bywoning van die Burgervergadering is gratis. Dit is noodsaaklik dat u ons betyds laat weet of u die vergadering sal kan bywoon. Skakel ons kantoor by 053 207 0062 of stuur ‘n e-pos aan melissa@orania.co.za voor of op Maandag 12 Junie om bywoning te bevestig. Burgerraadslede moet asseblief ook hul bywoning van die Burgerraadsitting en Burgerraaddinee bevestig.


Program

Saterdag 17 Junie 2017
Bo-Karoo Opleidingsentrum, Orania

9:00    Registrasie en koffie
9:30    Opening – Mnr Francois Joubert
9:45    Inleiding deur die President van die Orania Beweging – Mnr Carel Boshoff (iv)
10:15    Goedkeuring van die notule van 30 April 2016
10:20    Verslag van werksaamhede en vooruitskouing vir kort- tot mediumtermyn – Mnr Jaco Kleynhans
10:45    Finansiële state – Mnr Jaco Kleynhans
11:00    Tee en verversings
11:30    Spreker: Dr Wikus Buys
12:00     Spreker: Prof Johann Rossouw
12:30    Bespreking
13:00    Afsluiting

Sondag 18 Junie 2017
Orania Gemeenskapsaal

9:30    Gesamentlike erediens aangebied deur die NG Kerk Orania.
    Kollekte ten bate van die Helpsaamfonds.
    Tee en koffie sal na afloop van die erediens bedien word.


Notule van die 28ste Burgervergadering van die Orania Beweging op 30 April 2016 om 9:00 in die Gemeenskapsaal te Orania

Opening en verwelkoming
Die voorsitter, mnr. Frans de Klerk, verwelkom die teenwoordige lede van die Orania Beweging en stel ds. Bertie de Lange van Bloemfontein aan die woord om die opening waar te neem.

Ds. De Lange lees uit Filippense 2:1-13. Sy preek gaan oor die verskil tussen etnisiteit en rassisme. In die Bybel is daar geen regverdiging vir rassisme en diskriminasie teenoor vreemdelinge te vinde nie, maar etnisiteit en trots op die eie word wel in ‘n positiewe lig beskou. Hy verwys na verskeie teksverse wat albei staaf. Die christelike liefde staan voorop en die hemelse burgerskap is van hoër orde as die aardse burgerskap. Die gelowige moet die balans herstel tussen die uiterste van humanistiese, onvolhoubare versoening en gedwonge nierassisme aan die een kant, en rassisme aan die ander kant.

Die voorsitter gee ‘n oorsig oor die program van die naweek en wys daarop dat die Afrikaner Vryheidstigting in 1989 gestig is en die vryheidsideaal werklikheid laat word, het. Die sukses wat ons behaal het, kan aanleiding tot hoogmoed gee weens oordrewe selfvertroue. Die Orania Beweging moet egter getrou bly aan sy idee, wat die rede vir die sukses is. Die idee is vryheid vir die Afrikaner en daarby is ‘n praktiese en pragmatiese benadering gevolg. Daar is ‘n wisselwerking tussen die Orania Beweging en die Dorpsraad: die een skep opgewondenheid oor die idee, die ander een spreek die praktyk aan, die positiewe uitdaging van groei soos dienslewering om meer mense te kan vestig. Orania is gebou op ’n positiewe idee.

Inleiding deur die president van die Orania Beweging
Die voorsitter stel die president van die Orania Beweging, mnr. Carel Boshoff (iv) aan die woord.

Mnr. Boshoff sê dat die 25 jaar van Orania ‘n rede vir terugkyk en vooruitkyk is. Ons het redes om trots te wees, maar ook om beskeie te wees. Dit is soos ‘n marathon: ‘n aansienlike stuk lê al agter jou, maar nog meer lê voor. Om te weet waarheen jy op pad is, is dit belangrik om te weet waar jy vandaan kom, en daarom moet die bydraes van die baanbrekers ook altyd onthou word. Hy noem sy vader, prof. Carel Boshoff, se drie uitgangspunte:

  1. Ons plan is ons magsbasis. Die volkstaatplan was die pad uit die doodloopstraat en die magsbasis, nie die hoeveelheid mense tot ons beskikking nie. SABRA en die Afrikaner Vryheidstigting se fokus was op grond, nie op magsdeling en minderheidsregte nie, soos die destydse NP geglo het. Die plan is egter nie deur die destydse regering as oplossing aanvaar nie, en ons wat wel daarin geglo het, moes werk met dit wat ons het. Met beskeie magsmiddele bou ons dit weer van die grond af op, deur te bewoon, te bewerk en te beskerm en verbreed ons magsbasis met elke tree wat ons gaan en elke boom wat ons plant.
  2. Daar is niks so sterk soos ‘n idee waarvoor die tyd ryp geword het nie. Prof Boshoff het die uitspraak destyds gemaak met verwysing na die swart bevryding wat onstuitbaar was. Omdat hy begrip vir die ander kant gehad het (sonder om hulle te steun), het hy so ‘n sterk visie vir vryheid vir sy eie mense gehad. Die tyd sal ook kom vir ons idee om ryp te word, daarom moet ons die idee deurdra en die vlam brandend hou. Die tyd mag wel teen ons wees, maar die geskiedenis is vir ons. Ons skryf ons eie geskiedenis en is nie die voetnota van iemand anders se geskiedenis nie. Ons tyd het nog nie gekom nie, maar is besig om te kom.
  3. Elke geslag neem verantwoordelikheid vir sy eie tyd. Daarom is ons hier, nie as toeskouers nie, maar as deelnemers en vormgewers. Elkeen is op sy terrein besig, tot die tyd kom.

Goedkeuring van die notule van 2 Mei 2016

Die notule van die vorige Burgervergadering op 2 Mei 2016 word eenparig goedgekeur.

Verslag van werksaamhede
Die voorsitter stel die uitvoerende hoof van die Orania Beweging, mnr. Jaco Kleynhans, aan die woord.

Mnr. Kleynhans sê dat die uitwaartse fokus van die Orania Beweging verhoog moet word omdat talle mense Orania nog nie verstaan nie en dit ook nie deel van hulle beplanning maak nie, ten spyte van wydverspreide nood. Ons mense moet in die ideaal ingebind word deur middel van die volgende aksies:

  • Inligting en verkondiging van ons denke.
  • Die Pretoria kantoor vir skakeling met ons mense.
  • Internasionale skakeling.
  • Publikasies, soos boeke, tydskrifte en die Orania Blog.
  • Ledewerwing. Ons het verlede jaar die meeste lede ooit in een jaar gewerf.
  • Veldtogte soos die baie suksesvolle “Ek is Jan”-veldtog sodat Afrikaners hulle geskiedenis en identiteit kan verdedig en eienaarskap daarvan kan neem.
  • Filiale soos EPOG vir kultuur en erfenisbewaring, Helpsaamfonds vir maatskaplike sake en Orania Groeifonds vir kapitaalvorming.

Wat bestuur en administrasie betref, funksioneer die kantoor en sy personeel goed. Daar was twee nuwe aanstellings, mnr. Pieter Krige by Gousblom en Helpsaamfonds en mnr. Joost Strydom wat help met die kommunikasie.

In 2015 is meer as 900 nuwe lede ingeskryf.  Bestaande lede het vrywillig hulle ledegeld verhoog en meer beleggers kon vir die Groeifonds gewerf word. Ook in 2016 is daar volgehoue groei. Die Grondveldtog lewer goeie resultate op. Die uitdaging bly om lede aan die beweging gebonde te hou. Skakeling met studente en ander jongmense en die bekendstelling van die Orania-ideaal aan hulle moet ook uitgebrei word. Toere het ook toegeneem en amper 3000 besoekers is verlede jaar op toere deur die dorp geneem en is aan die Orania-ideaal blootgestel. Verlede jaar is ’n webwinkel ook bekendgestel.

Nuusdekking oor Orania het versag, soos by voorbeeld in die onlangse voorbladartikel in die “Wegry”-tydskrif. Wat publikasies betref, is die nuwe tydskrif REDE met die eerste uitgawe oor denkende leierskap bekendgestel. ‘n Nuwe webblad word tans ontwerp en die kommunikasie via die sosiale media brei ook gedurig uit. Die Pretoria-kantoor vervul ’n belangrike skakelfunksie ten opsigte van persone en instellings, die reël van inligtings-vergaderings, werf van beleggers en reël van saketoere om meer ondernemers aan Orania bekend te stel.
Wat die filiale betref, het die Helpsaamfonds in 2015 die tweede fase van die Soetdoring Woonstelprojek voltooi en daar is ’n groot bydrae gemaak tot onderwys en maatskaplike dienste. Die Groeifondsbeleggings help om ontwikkelingskapitaal te vorm. EPOG is herstruktureer en mnr. Willem van As is as voltydse beampte aangestel. Die Kultuur-historiese Museum het ‘n voltydse kurator in die persoon van mnr. Francois de Vos gekry. Daar lê groot werk voor vir erfenisbewaring. ‘n Groot kultuursentrum word beplan.

Wat internasionale skakeling betref, was daar verlede jaar ’n skakeltoer na Suid-Tirool met 20 Afrikaners uit 8 verskillende organisasies. ‘n Suid-Tiroolse afvaardiging, insluitende die oudpremier dr. Luis Durnwalder, het Orania ook verlede jaar besoek, asook ‘n Oostenrykse parlementslid, mnr. Werner Neubauer, wat tans besig is om ’n Orania-ondersteunersgroep op die been te bring. Voorleggings is gedoen vir die befondsing van projekte. Vir Europa word ‘n oorkoepelende liggaam van ondersteuners van Orania beplan. Vir Oktober vanjaar word ‘n skakeltoer na Europa beplan en ook die aanwys van nog ambassadeurs.

Finansiële state (volledige state is aangeheg)
Mnr. Kleynhans stel kortliks die finansiële state bekend. Daar was ‘n styging in inkomste maar ook in uitgawes.  Die jaar 2015 is egter met ’n klein behoue inkomste afgesluit. Ook die bates se waardes het gestyg.

Bespreking
Dr. Manie Opperman verwys na Orania se landelike grond en die instellings wat dit behartig, soos Vluytjeskraal-Noord en Kambrolandskap as Orania se “buite-egtelike kinders” omdat die verhoudinge tussen hulle en die aandeleblok nie altyd duidelik is nie. Hulle moet ingeskakel word by Orania en volledig deel word daarvan. Dit is belangrik vir die uitbou van ’n groter Orania.

Mnr. Jaco Mulder noem dat daar ‘n leemte is wat die betrokkenheid van uitwoners betref en betreur die feit dat uitwoners nie meer by die bestuur van die Orania Beweging betrokke kan wees nie en dat ondersteunerstrukture weggeval het. Sterk uitwoners onttrek, of trek na Orania. Daar moet weer projekte wees om skakeling met uitwoners te verhoog om die leemte te vul.

Mnr. Martin Kemp beaam wat dr. Opperman gesê het en verwys na die Hartland Stigting wat grond rondom Orania wil aankoop en wat ondersteun moet word. Orania se grond is te min en daar moet nog grond bygekoop word sodat Orania nie vasgedruk word nie.

Mev. Amanda de Lange sê dat arm Afrikaners al hoe meer word en vra wat die plan is as hulle op groot skaal Orania toe kom.

Dr. Wynand Boshoff sê dat daar ‘n verskil is tussen die Orania Beweging met ’n hoofletter naamlik die organisasie, en die Orania beweging met klein ’n letter, naamlik die ideaal. Almal wat iets vir Orania doen, is deel van die beweging en Orania is veel groter as net die aandeleblok. Alles hoef nie in een organisasie saamgevat te word nie.

Mnr. Carel Boshoff lewer repliek en sê dat daar samebondeling moet wees en dat die Orania Beweging sy vermoë gebruik om die gedagte uit te dra wat wyer strek as slegs Vluytjeskraal Aandeleblokmaatskappy. Die fokus moet egter wees op konsentrasie want dit bied voordele bo die wye verspreiding. Vluytjeskraal-Noord is deel van Orania en die samewerking moet verfyn en verder gevoer word. Die skakeling met uitwoners moet verhoog word. Die vermoë om meer inwoners te vestig moet verhoog word, maar bly ’n uitdaging in die praktyk. Daar is die Orania nedersetting, dan die Orania Beweging en dan die Orania gedagte. Die Orania gedagte van “vryheid in ons tyd” word gedoen deur die Orania Beweging en vind sy neerslag in die Orania nedersetting. Daar is konsensus en vertroue oor ‘n groeiende, sterk Orania.
Mnr. Jaco Kleynhans sê in sy repliek dat belangegroepe as wesenlike punt wat aandag moet kry geïdentifiseer is en dat daar binnekort ‘n aankondiging gedoen sal word oor strukture van ondersteuners wat deur die Pretoria-kantoor gefasiliteer sal word. Wat die vestiging van arm Afrikaners betref, is dit belangrik dat die bose kringloop van armoede verbreek moet word. Daarby speel onderwys ‘n groot rol. Die Orania Maatskaplike Raad is tans onder groot druk. Meer maatskaplike behuising is ook nodig en nog ‘n maatskaplike werker. Wat die verskillende instellings betref, moet daar aan beter samewerking gewerk word. ‘n Veelheid instellings, leiers en inisiatiewe is goed en dit is kenmerkend van die Afrikaner en kan voordelig wees.

Die vergadering breek vir tee en verversings om 11:30 en hervat weer om 12:00.

Spreker dr. Dirk Hermann
Die voorsitter stel vir dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, aan die woord.
Dr. Hermann bedank die gemeenskap van Orania vir hulle bydrae om ‘n verskil te maak en om hoop te gee vir die Afrikaner. Hy vertel van ‘n besoek aan ‘n klein Suid-Tiroolse dorp tydens verlede jaar se skakeltoer en van hulle energieprojek en hoe dit gaan oor die reg van ‘n klein gemeenskap om self besluite te neem. Vir die meeste Afrikaners is dit abnormaal, soos ook die onbeskaamde uitleef van jou kultuur en identiteit en die selfwerksaamheid. Orania is eintlik baie normaal maar word as abnormaal beskou. Ons mense is moedeloos en beangs.

Dr. Hermann se hooftema is “van Helpmekaar na Help mekaar”. Hy vertel die geskiedenis van die Helpmekaarbeweging wat honderd jaar gelede, in 1914, gestig is om die mense te help wat aan die rebellie deelgeneem het en teen wie groot eise en boetes ingestel is. In Bethlehem in die Oos-Vrystaat is die eerste tak van die Helpmekaarbeweging gestig. Mense het bymekaar gekom om te bak, te brou en te brei om sodoende fondse vir die rebelle in te samel. Die beweging het uitgebrei na elke Vrystaatse dorp en ook na Transvaal en in 1917 is die Nasionale Helpmekaarbeweging gestig. ’n Stroompie het ’n magtige rivier geword. Meer en meer organisasies het betrokke geraak en geld geskenk. Die boetes en eise teen die rebelle kon afbetaal word en selfs ‘n oorskot kon behou word. Die Helpmekaarbeweging was eerder ‘n gees as ‘n organisasie, en die gees was selfdoen. Alhoewel dit gebore is in ‘n tyd van nood, was dit ook in ‘n tyd van opstaan.

‘n Ander voorbeeld van opstaan was die tyd van die depressie in 1929 en daarna en die armblankevraagstuk. Dit het egter nie net gegaan oor materiële armoede wat beveg moes word nie, maar ook oor kulturele herontwaking. Dit het veral in die Groot Trek 100-gedenktrek sy uiting gevind. Vader Kestell het gesê: “‘n Volk red homself”. Kulturele identiteit is nodig om uit die trauma van armoede op te staan. Dit was ‘n ingrypende tyd van mekaar help sonder staatshulp.
Na 1961, met die republiekwording, het die staat wat deur Afrikaners beheer is, egter die rol van helper en ondersteuner gespeel en pleks van “help mekaar” was dit “staat mekaar”. Dit was wel ‘n merkwaardige tydperk en alles is op groot skaal gedoen. Dit het egter teen die prys gekom dat gemeenskappe verlore geraak het en die staat alles geword het. Na die 1994-verandering was die staat nie meer in die Afrikaner se hande nie en gemeenskappe was reeds nie meer ‘n faktor nie. ‘n Totale platval van die volk het gevolg, met individualisering en die fokus op ekonomiese oorlewing. Dit was ‘n tydperk van “los van mekaar”. Individuele vryheid wat Afrikaners aangegryp het, was egter afhanklik van die stelsel en die staat het meer en meer gesentraliseer geraak.

Hoe antwoord ons op hierdie krisis? Nie deur staatsafhanklikheid nie, maar deur “help mekaar” en krag van die gemeenskap. Die voorwaarde daarvoor is gemeenskapselfvertroue: ons mag en ons kan. Tans is die Weste (waarvan die Afrikaner deel is) verlam deur “Oikofobie”, vrees vir die eie identiteit en onvermoë om vir homself op te tree. Mense wat sulke denke aanhang (ook in Afrikanergeledere) dink dat stilbly en neutraliteit die antwoord is. Hulle besef egter nie dat die weerstand nie is teen dit wat hulle as Afrikaners of Westerlinge sê nie, maar teen dit wat hulle is. Mense moet egter kulturele selfvertroue terugkry en Afrikaners het instellings nodig as tussengangers.

Solidariteit Beweging is ‘n voorbeeld van ‘n nuwe Helpmekaarbeweging. “Bou mekaar” is nou die nuwe gees. Voorbeelde is Solidariteit Beweging se betrokkenheid by onderwys, opleiding, kultuur, media en ander. Orals word alternatiewe strukture geskep, uit vele klein inisiatiewe volg ‘n groot stroom. Vryheid word steen vir steen gebou. Pleks van ‘n groot leier moet daar eerder vele gemeenskapsleiers wees. Orania word elke dag sterker. Vryheid word nie opgeëis nie, maar word stuk vir stuk gebou.

Bespreking
Die voorsitter open die vloer vir vrae en kommentare.

Mnr. Sam de Klerk druk sy waardering vir dr. Hermann en ds. De Lange se toesprake uit en sê hy beleef iets uitstaande wat hier gebeur. Hy kan hom daarmee vereenselwig. Orania se strewe is volkseie en christelik begrond, die einddoel is reg maar die pad mag verskil. Ons kan mekaar wel rondom die ideaal vind.

Mnr. Francois Botes vra of Solidariteit nog instellings soos Volkskas en Sanlam beoog.
Dr. Hermann lewer repliek en sê dat ‘n stad nodig is vir ‘n “Volkskas”. Solidariteit het wel reeds die terrein van finansiële dienste betree en brei uit. Afrikanerkapitaal moet verder gemobiliseer word. Die versekeringsmakelaar Vir Seker mobiliseer kapitaal vir opleiding en daar is groot planne met opleiding. Akademia sal ‘n volwaardige universiteit word en daar sal ook ’n Akademiasentrum op Orania wees en ook praktiese opleiding.

Mnr. Francois de Vos sê dat die Burgervergadering van krag tot krag gaan. Solidariteit het ook ‘n sagte plek vir kultuur en moet ’n bydrae maak tot die moderne kultuursentrum wat Orania wil bou.

Dr. Hermann verwys na die voorbeeld van die 1930’s en die belangrikheid van kultuur en trots wat by opleiding aanskakel.

Afsluiting
Mnr. Frans de Klerk bemark die nuwe tydskrif “REDE” en moedig die teenwoordige persone aan om in te teken. Hy oorhandig ‘n geskenk aan dr. Hermann en sluit die vergadering om 13:00.

___________________    ___________________
Voorsitter                    Sekretaris
 
___________________
Datum


Jaarverslag van die Orania Beweging

vir die tydperk 1 Januarie 2016 tot 31 Desember 2016

1.    Inleiding
Die Orania Beweging het gedurende 2016 talle nuwe hoogtepunte bereik. Tydens ‘n uitgebreide skakeltoer na Europa is op ‘n hoëvlak met regeringsleiers, gemeenskapsleiers en ondersteuners in vyf lande ontmoet.

Die nuwe tydskrif REDE het ook die lig gesien en twee uitgawes is gedurende 2016 gepubliseer.

Die organisasie het gedurende 2016 sy personeelkorps uitgebrei met die aanstel van bekwame nuwe personeel wat die werksaamhede verder kon verhoog.

Ten spyte van moeilike omstandighede kon die Orania Beweging steeds ‘n gesonde netto ledegroei aanteken.

Die grondwerk is in 2016 gelê vir grootskaalse uitbreiding in 2017.

2.    Bestuur en administrasie
Die Orania Beweging se personeelkorps het heelwat uitgebrei en die organisasie het tans 17 personeellede. Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof en daar is twee adjunk-uitvoerende hoofde. James Kemp is adjunkhoof vir kommunikasie en bemarking en Pieter Krige vir filiale en menslike hulpbronne.

Die organisasie het gedurende 2016 geen personeel verloor nie wat ‘n sterk aanduiding van ‘n gelukkige, goed gevestigde span is. Die personeel werk besonder hard en die goeie samewerking is een van die organisasie se sterkste bates.

Die Orania Beweging se Uitvoerende Raad vergader maandeliks en by hierdie vergadering word daar deeglik oor die vorige maand se werksaamhede terugvoer gegee en word strategiese besluite geneem.

Die finansiële komitee van die Orania Beweging vergader ook maandeliks en pas toesig toe oor die finansiële bestuur van die organisasie en sy filiale.  

3.    Groei en ledewerwing
Die Orania Beweging het gedurende 2016 die meeste lede nog in een jaar aangesluit. Netto ledegroei was meer as 6%. Kansellasies is steeds ‘n groot uitdaging. Talle ander Afrikanerorganisasies ervaar dieselfde probleem en daar is aan die einde van 2016 beplanning gedoen om ‘n nuwe strategie in werking te stel ten einde ledebehoud te verseker.

Dit behels onder andere die inrigting van die organisasie se eie belsentrum en die ontginning van beter data. In die eerste maand wat die belsentrum op die been gebring is, het die Orania Beweging sy vorige rekord van die meeste aansluitings in een maand oortref. Buiten die eerste agent wat aangestel is om die belwerk te hanteer is `n tweede persoon ook aangestel wat lede vir filiale gaan werf. Haar primêre funksie gaan egter wees om op kommunikasie-take te fokus. Die stelsel wat vir die belsentrum geïnstalleer is, maak dit ook moontlik om later nog agente aan te stel sou die behoefte homself voordoen.

4.    Kommunikasie en skakeling

Ambassadeursopleiding
Orania word `n toenemend gewilde toerismebestemming. Om daardie rede is dit baie belangrik om seker te maak dat die persone wat met toeriste in aanraking kom bemagtig is om genoeg en die regte inligting oor te dra. Die ambassadeurs wat Orania se skakelwerk moet hanteer is dikwels nie werksaam by die Inligtingskantoor nie maar by plaaslike restaurante, die vulstasie en ander diensleweraars. Die Orania Beweging bied nou vir die laaste twee jaar ambassadeursopleiding aan om te verseker dat dié persone al die besoekers se vrae kan beantwoord.

Publikasies en inligting
Dit het al belangriker geword om eie platforms daar te stel waar die Orania Beweging direk met sy lede kan kommunikeer en nie afhanklik is van hoofstroommedia nie. Alhoewel daar goeie verhoudinge met nuusblaaie en radiostasies gehandhaaf word stel die Orania Beweging al vir jare sy eie publikasies ook vry. Die bekendste hiervan is seker die Voorgrond wat vier keer per jaar verskyn en aan lede gepos word. Die artikels dek plaaslike nuus, meningsartikels en bied ook `n blik op waarheen die Orania Beweging beweeg en wat beplan word.
Die berigte in die e-nuusbrief is aansienlik korter maar hierdie publikasie, wat elke twee weke verskyn, bied `n goeie blik op wat in Orania gebeur en is `n gewilde kommunikasiemiddel.

REDE
Daar bestaan reeds vir jare ‘n groot behoefte binne Afrikanerorganisasies vir ‘n indiepte publikasie wat ruimte gee vir konserwatiewe skrywers om oor aktuele sake te publiseer. Die Orania Beweging het gedurende 2016 saam met sy filiaal EPOG die ambisieuese projek aangepak om so ‘n tydskrif te begin. Twee uitgawes van REDE het gedurende 2016 verskyn en die tydskrif is baie goed ontvang.

Facebook
Die Orania Beweging se Facebookblad is na die van Solidariteit en AfriForum een van die grootstes onder Afrikanerinstellings. Dit bied `n reuse platform wat gebruik word vir kommunikasie aan ondersteuners en ledewerwing. `n Weeklikse program met die titel Toekomsgesprek word ook elke Vrydag op die Facebookblad gelaai.

Instagram
Instagram geniet reuse gewildheid onder veral skoliere en student. Om daardie rede is `n paar jongmense ingespan om die Orania Beweging se Instagram-profiel te bedryf. Daar verskyn pragtige foto’s wat byvoorbeeld oor Desember die gevoel in Orania goed vasgevang het.

5.    Internasionale ondersteuning
Die Orania Beweging het gedurende 2016 sy suksesvolste Europese skakeltoer tot op hede aangepak. Die organisasie het ‘n afvaardiging na vyf Europese lande insluitende Nederland, België, Duitsland, Oostenryk en Italië gestuur.

Die afvaardiging het met onder andere die leier van die grootste party in België, Bart de Wever ontmoet. Mnr De Wever is ook die burgemeester van Antwerpen en tans die magtigste politikus in België.

Nog ‘n hoogtepunt was ‘n ontmoeting met die presidentskandidaat van die tweede grootste politieke party in Oostenryk, Norbert Hofer. In Oostenryk is gesprekke met talle invloedryke politici gevoer en die Orania Beweging het ‘n goeie indruk daar gelaat. Daar bestaan sterk potensiaal vir verdere skakeling in Oostenryk.

Nog hoogtepunte was ontmoetings met leiers van politieke partye in Nederland en skakeling met twee suksesvolle Christelike gemeenskappe op die Nederlandse platteland.

6.    Navorsing
Die dubbelde pos van toergids en navorser word gevul deur Sebastiaan Biehl.

Besigtigingstoere het in 2016 teenoor die vorige jaar verder toegeneem en so ook die aantal besoekers. Dit het meegebring dat meer tyd aan toere en besoekers se vrae gespandeer is.
Navrae per epos oor Orania het ook toegeneem en daar is ook meer en meer navrae vanaf die buiteland, sowel ondersteuners asook joernaliste. Navrae oor Orania, veral van mense wat wil verhuis, het ook aansienlik toegeneem.

Vertaalwerk van buitelandse media-artikels en ondersteuning van die mediapersoneel is ook deel van die werk van die navorsingsafdeling.

Die navorser is ook verantwoordelik vir die Orania Blog en skryf gereeld artikels vir die blog en maak artikels van ander skrywers bymekaar en plaas dit. Ook artikels vir die tydskrif Voorgrond en vir die nuwe tydskrif REDE word geskryf, asook vir Maroela Media. Die radioprogram, Blik na Buite, wat op Radio Orania deur EPOG aangebied word, word ook deur die navorser bedryf.

Die navorsing aan die boekprojek oor Orania is grootliks afgehandel. Enkele ondersteunde werk in die verband is vir die president, Carel Boshoff, gedoen. ‘n Verdere navorsingsopdrag was die bymekaarmaak en taalversorging van alle HF Verwoerdgedenklesings vir die doeleinde van die saamstel van ‘n boek.

Na die vertrek van mnr Willem van As in die middel van 2016 het die navorser ook sy pligte vir die bestuur van die argief en boekery, met ondersteuning deur mev. Isabella Taljaard, oorgeneem. Dit het behels dat amper daagliks op ‘n halfdag basis by die argief gewerk word. Heelwat skenkings van boeke en dokumente is ontvang wat op die indeks en op die rakke gesit is en groot dele van die biblioteek is herrangskik.

Die navorser het in 2016 ook, na die afsterwe van die kurator, mnr Francois de Vos, die verantwoordelikheid vir die Kultuur Historiese Museum oorgeneem. Soos die behoefte ontstaan neem die navorser toere deur die museum en teken ook aanwinste aan en plaas hulle waar dit hoort.

7.    Filiale
Die Orania Beweging se terrein van fokus is binne ’n eenvoudige model identifiseerbaar as tweeledig van aard:

  • Ekstern
  • Intern

Die filiale se fokus is dan ook op beide van hierdie terreine maar met die oog op die vestiging van inhoud binne die Beweging en by verlenging van Orania. Die daarstel, vestiging en uitbouing van wat ons ’n voortsetting van die Afrikanerbestaan kan noem.

Kortliks om ’n voertuig te wees vir die vestiging van ’n gemeenskap binne ’n omgewing wat vir elke inwoner ’n volhoubare, opwindende, vervullende en stimulerende tuiste bied. Die filiale bied ook aan die uitwoner en ander ondersteuners die geleenthede om te belê (nie bloot net in finansiële hoedanigheid nie, maar met gawes en idees)  in ’n ryk en vol toekoms vir ons en ons mense.

Miskien is die beste woord hiervoor Kultuur of dan Afrikanerkultuur. Waar God die natuur geskape het, het Hy die mens geroep en toegerus om kultuur te skep.

Die visie van die filiale binne die Orania Beweging is om te streef na ‘n beter kultuur en dit gee aan die visie ’n uiters dinamiese karakter. Ons moet skep, sodat ons mense ’n plek kan hê waar hulle kan kom skep. Die gedagte is geensins een van beheer nie, maar die daarstel van voertuie wat ons mense kan bemagtig om die Afrikaner sterker, voller en beter te maak.

Met so ‘n wye fokus op ons toekoms, het die Orania Beweging dan sekere instellings betrek as filiale en vennote om saam kultuurskeppende instellings te wees. Die Beweging is dan as’t ware die organisasie wat deur die filiale ’n toekoms met inhoud vir ons mense wil en moet bied.

Groeifonds
Die Orania Groeifonds is die beleggingsfiliaal van die Beweging met as hoofoogmerk die daarstel van bekostigbare kapitaal vir aanwending binne Orania se staatkundige groei.

  • Veilige beleggings vir volhoubare groei
  • 8.5% dividende uitbetaal
  • Aanwending vir Orania binne Orania
  • Ondersoek tans geleenthede vir die verandering van die model om nog beter die gemeenskap te bedien

Helpsaamfonds

  • Volhoubare oplossings vir Afrikanerarmoede
    • In 2016 het ons verskeie veranderinge binne die Afrikakonteks beleef.
      • Die Afrikaner is verder gemarginaliseer
      • Die Afrikaanse taal is grootliks verwyder uit die tersiêre instellings
      • Die arbeidsmark het toenemend Afrikaner-onvriendelik geword
    • Dit het die gevolg dat die toevloei na Orania ook bepaalde nuwe uitdagings geskep het.
      • Waar daar voorheen enkellopende manne hier opgedaag het op soek na ’n nuwe toekoms, het dit in 2016 verander na gesinne.
      • Man, vrou en kinders daag soms met hul lewe in drie blou tasse hier op.
      • Dit het genoodsaak dat ons anders na ons behuisingsoplossings moes kyk.
      • Werksgeleenthede is volop danksy innovasie en hardwerkende entrepreneurs.
      • Die skole is wêreldgehalte.
      • Die uitdaging bly behuising vir die gesinne om by die normalisering fase te uitkom.
  • Driedelige visie
    • Stabilisering
      • Huis om in te bly
      • Plasing binne die arbeidsmark
    • Opvoeding
      • Voorskool, Laer- en  Hoërskool asook tersiêre opleiding
      • Maatskaplike opheffing met projekte in  samewerking met rolspelers soos kerke.
      • Remediërende projekte in samewerking met Regspraak en verblyfsreg.
      • Bystand tydens nood en huislike uitdagings.
    • Normalisering
      • Deur die volhoubare projekte is die doelwitte dat die verarmde Afrikaner stelselmatig as deelnemende en bydraende Oraniër inskakel.
      • Die skole speel ’n groot rol.
  • Die Helpsaamfonds het in 2016 meer as R 2 300 000 spandeer binne Orania
    • Bejaardesorg
    • Onderwys
    • Behuising
    • Maatskaplike werk
    • Medies
  • In 2016 het die Helpsaamfonds die #mySTAD projek geloods en is in finale beplanningsfase en besig met die insameling van die fondse vir Fase 1. Ons benodig ’n beraamde totaal van R 2,2 miljoen om Fase 1 te voltooi en na beraming R18 000 000 vir die afhandeling  van die hele projek.
    • 75 gesinseenhede vir 250 nuwe Oraniërs

Die Helpsaamfonds het deur Gousblom Ontwikkeling (filiaal) verlede jaar by die Orania Groeifonds R 700 000 geleen om Elim se enkelkamers van blok B na woonstelle te omskep. Ook vyf nuwe eenhede is binne die saal aangebring vir verdere kapasiteit.

Gousblom Ontwikkeling
Met R25 miljoen se bates, is Gousblom Ontwikkeling die grootste behuisingsvoorsiener binne Orania. Die maatskappy se visie is om met ’n 0-begroting bedryf te word, met ander woorde, om gelyk te breek. Daar is bepaalde uitdagings, hoofsaaklik die delging van skuld vir die bouprojekte. Die voordeel is egter die feit dat Oraniërs vir vêr onder markwaarde goeie behuising kan kry. Gousblom Ontwikkeling subsidieer Orania maandeliks met meer as R150 000 (in vergelyk met die markwaarde van verhuring).

Tans word 120 mense binne Gousblom Ontwikkeling se projekte gehuisves en bied Gousblom Ontwikkeling werk aan 6 personeellede. Orania Beweging se kantoor hanteer Gousblom Ontwikkeling se administrasie.

Die #mySTAD projek sal deur Gousblom hanteer word. Gousblom is in proses om sy portefeulje uit te brei om ook aan ander rolspelers administratiewe, verhuring en instandhoudingsdienste te verrig.  

EPOG
Bepeins. Bewaar. Belyn. Beplan.

Die navorsingsfiliaal van die Orania Beweging, bestaan sedert 1948 en is steeds besig met die ideologiese , filosofiese en politiese besinning en herbesinning van die Afrikaner se rol binne die Afrika-eksperiment.

Die doelstelling was deurlopend die volhoubare voortbestaan van die Afrikaner,  met meer as blote oorlewing voor oë, die doel is dat die volk moet gedy. Met die huidige verval van staatkundige Suid-Afrika word dit nog duideliker dat ons fokus op  selfstandigheid, onafhanklikheid en staatkundige vryheid moet wees.

Binne die velde van EPOG se visie is ekonomie, politiek, omgewing en gemeenskap steeds die sub-afdelings. Verskeie rolspelers is voortdurend besig om te werk aan die volhoubare politieke model vir Orania as groeipunt van die volkstaat, maar ook vêrder as die stad vir die Afrikaner. Dit behels die besinning oor geografie, demografie en politieke stelsels.

Binne die bewaring van ons erfenis het EPOG baie spandeer aan die museums binne Orania en ook aan die verhoudinge met ander rolspelers. Daar is ook kapasiteit geskep vir nuwe personeel en Dr Burgert Senekal sal eersdaags sy gewig ten volle binne EPOG aanwend.
Die De Wet projek is goed op dreef.  Hiermee wil ons vir Generaal De Wet ’n bronsbeeld op Monumentkoppie aanbring. Die veiligheid en sekuriteit van beide museums is opgeknap, opgegradeer en daar is ook ’n goeie besproeiingstelsel by die Verwoerdmuseum aangebring.
EPOG beplan ook om binne 2017 te fokus op die daarstelling van ’n publikasiehuis vir ons eie navorsing, maar ook vir ander rolspelers.

OKeR
Kunsvorme van die hartstaal.

Die Orania Kunsteraad het as fokus die daarstelling van ’n voertuig vir kunstenaars binne Orania. Projekte afgehandel was:

  • Pianis en sopraan
  • Die toneel “Stoep Stories”
  • Toeka se jongdae
  • Toneel skryfskool

Om kultuurskeppend te wees, voeg waarde toe tot die vryheid waarvoor ons so hard werk. OKeR beplan ook om meer kunstenaars van regoor die wêreld geleentheid te bied om binne Orania op te tree, maar ook hul kunste te kom ten toon stel en ook verkoop.

Die beplanning vir ’n musiek ateljee het ook die verwagtinge oortref deurdat ’n hoë gehalte lied binne Orania geskryf, vervaardig en opgeneem is.

Orania Sterrewag
Jou plek in die hemelruim.

Met goeie toerusting bied die sterrewag geleenthede vir amateur sterrekykers om die pragtige karoo-lugruim te aanskou, beleef en te ondersoek.
Die Sterrewag hou die kalender dop vir kosmiese gebeure en reël dan geleenthede om dit te benut.
Orania Bewarea
God se skepping, ons verantwoordelikheid
Die Orania Bewarea bied aan Oraniërs die oplossings vir volhoubare ekologiese ontwikkeling binne ’n ekonomies-aktiewe omgewing.
Die Bewarea nader verskeie rolspelers om op gereelde basis artikels te skryf om die Oraniërs in te lig en op te voed oor die unieke natuur wat ons hier aantref.
Die Bewarea beplan ’n groot projek saam met Deon Kotze, die befaamde botanis, om ’n botaniese tuin aan te plant en te onderhou.
Met meer beweging binne die Bewarea glo ons ook dat daar meer befondsing vir hierdie noodsaaklike deel van die samelewing beskikbaar gestel sal word.

Die Orania Sportfederasie
Alhoewel nog in beplanning- en stigtingsfase gaan die Sportfederasie aan Orania die voertuig bied om op georganiseerde wyse aan verskeie sportaktiwiteite deel te neem en ook te kompeteer.

Sporte wat alreeds betrokke is, is:

  • Rugby
  • Netbal
  • Jukskei
  • Skaak
  • Tennis

Die fokus van Orania Beweging se filiale is: Belegging, Maatskaplik, Behuising, Kultuur, Omgewing, Navorsing, Sport. Om inhoud aan die vryheid te gee!

8.    Ander projekte

 

Jeug
Reeds gedurende 2016 is daar met jeugberade begin en `n jeugtoer na Mnyameni en Oos-Londen is aangebied. Vanjaar word die jeugberade steeds aangebied en twee debatsaande is ook by die jaarprogram gevoeg.

Kampusprojek
Orania gaan in die toekoms die stad wees wat `n Afrikaanse kampus huisves. In die stadium is daar reeds drie instellings wat naskoolse opleiding bied naamlik Bo-Karoo Opleidingsentrum, Technik Akademie en Excellencia Haarakademie. Die Orania Beweging het die student van die drie instellings in `n kampusstruktuur georganiseer en bied vermaak wat ook aansluit by die kultuur van die gemeenskap. So is daar byvoorbeeld op 6 April die eerste jaarlikse vlotoptog gereël – die verskil is dat die vlotte op die rivier dryf. Vanjaar se vlotte het die koms van Jan van Riebeeck uitgebeeld en die Drommedaris, Reiger en Goede Hoop het anker gegooi op die wal van die Oranjerivier.

9.    Geldsake
Die Orania Beweging se inkomste het gedurend 2016 met sowat 20% gestyg. Ledegeldinkomste het skerp toegeneem sowel as inkomste wat uit die aktiwiteite van filiale verdien word.

Die organisasie se uitgawes het egter met byna 25% toegeneem, veral weens verhoogde kommunikasie- en skakelaktiwiteite en noodgedwonge personeeluitbreidings.

Opgehoopde inkomste is aangewend om die tekort vir 2016 te dra, maar die organisasie sal gedurende 2017 hierdie tekort in ’n oorskot moet omskep en daarvoor is ’n selfs meer aggressiewe groeistrategie nodig. Gedurende die eerste paar maande van 2017 het hierdie strategie vrugte begin afwerp met ledegroei van heelwat hoër as begroot en ledegeldinkomste wat besig is om skerp toe te neem.

10.    Die pad vorentoe
Die Orania Beweging het ‘n omvattende nuwe strategie vir 2016 aanvaar en reeds met sukses begin implementeer. Terwyl ons doelstellings en visie presies dieselfde bly en ons met trots onsself vir Afrikanervryheid in die Noordwes-Kaap beywer, het die organisasie homself herposisioneer ten einde die beste stelsels, tegnologie, organisatoriese denke en werkswyses in te span om hierdie visie en doelstellings te verwesenlik. Die volgende vyf stappe is reeds in die eerste paar maande van 2017 geïmplementeer:

  1. Nuwe werwingstrategie
    Die organisasie het begin om aktuele veldtogte te loods wat daagliks reageer op aktuele sake wat ons mense raak. Daardeur stel ons Orania aan mense bekend en kry ons data van mense wat in ons strewe belangstel. Daarmee saam het ons met groot sukses ons eie belsentrum geloods en sluit ons reeds rekordgetalle nuwe lede binne die nuwe belsentrum aan.
  2. Grootskaalse sosiale media-veldtogte
    Die meeste hoofstroommedia was nog altyd stief teen Orania en sy strewes. Soos wat talle ander bewegings in Amerika en Europa die afgelope paar jaar bewys het, is dit moontlik om hierdie uitdagings te bowe te kom deur jou eie sterk mediakanale te skep. Die Orania Beweging fokus baie sterk op Facebook en is vandag die derde grootste Afrikanerbeweging op Facebook.
  3. Ontwikkeling van oorlogskamer
    Talle moderne organisasies en maatskappye het reeds bewys dat die belangrike uitdaging is om silo’s in organisasiestrukture af te breek en kreatiewe spanwerk aan te moedig. Om daarin te slaag het ons ‘n sogenaamde ‘oorlogskamer’ in ons kantoor ingerig waar agt personeellede saamwerk aan die daaglikse strategie en werksaamhede.
  4. ‘n Kantoor vir die 21ste eeu
    Die Orania Beweging se kantoor het nie meer voldoen aan die eise van die moderne era nie. Sowat R300 000 se opgraderings is die afgelope tyd gedoen wat insluit die omskepping van die kantoor in ‘n koordlose werksruimte, die benutting van nuwe hoë spoed internet en die gebruik van nuwe tegnologie bedieners, rugsteunstelsels en databeheerstelsels. Personeel is ook toegerus met beter rekenaars, sagteware en ander hulpmiddelle om slimmer te kan werk.
  5. Aanstelling van bekwame personeel wat self inkomste genereer
    Die Orania Beweging se personeelkorps het die afgelope tyd wesenlik uitgebrei. Hierdie uitbreidings was nodig omdat die organisasie vinniger meer projekte moes begin aanpak. Die uitdaging om hierdie poste te finansier word te bowe gekom deur die skep van nuwe inkomstebronne binne die organisasie.

Die Orania Beweging beleef tans ‘n opwindende tydperk van groei. Ons idee staan sterk en die motief om soveel moontlik Afrikaners van die belangrikheid van Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap te oortuig, is ook onder mense aanwesig.

Dankie vir u volgehoue ondersteuning


INKOMSTESTAAT

  Tot 31 Des 2016 Tot 31 Des 2015
  R R
Inkomste    
Administratiewe dienste gelewer 1 025 000 717 000
Advertensie-inkomste 72 000 57 000
Huur ontvang 36 000 30 000
Donasies ontvang 688 000 710 000
Wins op drukwerk en algemene verkope 162 000 151 000
Rente en dividende ontvang 41 000 39 000
Ledegeld ontvang 1 884 000 1 625 000
Wins met verkoop van bates 69 000 14 000
TOTAAL 3 977 000 3 343 000
     
Uitgawes    
Inligting en skakeling 1 161 000 796 000
Administrasie 824 000 565 000
Onderhoud: Gebou en toerusting 186 000 194 000
Reis- en verblyfkoste 59 000 52 000
Waardevermindering 22 000 95 000
Personeeluitgawes 1 891 000 1 550 000
Werwingskoste 213 000 229 000
TOTAAL 4 356 000 3 481 000
     
Behoue inkomste vir die jaar (379 000) (138 000)
Behoue inkomste begin van die jaar 312 000 450 000
Totale behoue inkomste (67 000) 312 000

Die geouditeerde state van die Orania Beweging en al sy filiale is ter insae vir lede en donateurs by die Orania Beweging, Pêrellaan-Wes 136, Orania beskikbaar.


BALANSSTAAT

  Tot 31 Des 2016 Tot 31 Des 2015
  R R
Bates    
     
Nie-bedryfsbates    
Eiendom, masjinerie en toerusting 1 030 000 987 000
Ander finansiële bates 900 000 749 000
  1 930 000 1 736 000
Bedryfsbates    
Voorraad 519 000 466 000
Handels- en ander ontvangbare rekeninge (4 000) 297 000
Kontant en kontantekwivalente 190 000 305 000
  705 000 1 068 000
     
Totale bates 2 635 000 2 804 000
     
Ekwiteit en aanspreeklikhede    
     
Ekwiteit    
Nie-uitkeerbare reserwes 2 524 000 1 892 000
Behoue inkomste (67 000) 312 000
  2 457 000 2 204 000
     
Laste    
     
Nie-bedryfslaste    
Ander finansiële aanspreeklikhede 55 000 179 000
     
Bedryfslaste    
Handels- en ander betaalbare rekeninge 123 000 421 000
Totale laste 178 000 600 000
     
Totale ekwiteit en aanspreeklikhede 2 635 000 2 804 000
     

Die geouditeerde state van die Orania Beweging en die Helpsaamfonds is ter insae vir lede en donateurs by die Orania Beweging, Pêrellaan-Wes 136, Orania beskikbaar.

Teken in op ons e-nuusbrief
Kry al die Orania nuus eerste!
Ons respekteer jou privaatheid.