Afrikaners het ’n plek nodig waar seker gemaak kan word van die voortbestaan van die Afrikaner se taal, kultuur, tradisies en
geskiedenis. Orania is daardie plek, skryf Jaco Kleynhans.
Ses jaar gelede het ek op ’n Amtrak-trein tussen New York en Los Angeles die Amerikaanse hartland leer ken.
Ek het so baie van die heartland gehoor, maar op ’n trein kon ek dit leer ken.
Ek onthou die rancher van Nieu-Mexiko wat wou weet of Gary Player nog gholf speel en die Amish-tannie met haar handgemaakte koffertjie waaruit sy aan medepassasiers tuisgebakte koekies gegee het.
Wanneer die trein in Dodge City, Kansas, of in Lamar, Colorado, stilhou en jy by ’n diner instap, met die werkers op die stasie praat of deur vriendelike inwoners verwelkom word, weet jy jy is in die Amerikaanse hartland – die plek waar die regte Amerikaanse kultuur nog leef.
Die groot stede is maar soos alle ander groot Westerse stede, ’n mengelmoes van mense wat meestal hul lewens verbyjaag vir oorlewing of suiwer vir meer van die materiële leef.
In die hartland het ek egter “regte” Amerikaners leer ken.
Mense wat die Amerikaanse droom uitleef, in God, die krag van families en die wonder van harde, eerlike werk glo.
Afrikaners se heil lê nie in Suid-Afrika se groot stede nie.
Hoewel die meerderheid tans in stede woon, is dit nie waar die Afrikaner se hartland kan of moet wees nie.
Daar is niks verkeerd daarmee om in ’n groot stad te bly nie, maar elke volk het sy hartland nodig.
’n Plek waar jy eerstens jouself kan wees en tweedens ’n wêreldburger.
’n Vriend noem onlangs in ’n vergadering dat die Afrikaner volgens hom ’n hoofkantoor kort.
’n Plek waar seker gemaak kan word van die voortbestaan van die Afrikaner se taal, kultuur, tradisies en geskiedenis.
’n Plek waar Afrikaners eerstens Afrikaners kan wees en dan Suid-Afrikaners en Afrikane.
’n Plek waar ons ons monumente, biblioteke en museums kan hê.
’n Plek waar Afrikaners saam kan kuier en waarheen hulle soms kan ontsnap.
Die Afrikaner het dus ’n hartland nodig.
Ek het die afgelope sewe jaar in Pretoria gewoon.
As ’n nuweling wat al die pad van die Wes-Kaap getrek en Pretoria glad nie geken het nie, was ek die afgelope sewe jaar in ’n goeie posisie om te sien hoe Afrikanerskap sy vastrapplek in die hoofstad verloor.
Ek het gesien hoe die herdenking van die Gelofte op 16 Desember deur inkopies by Menlyn vervang is en hoe al hoe minder Afrikaners die Voortrekkermonument, Krugerhuis en die talle ander Afrikaner-monumente in die stad besoek.
Daar is net soveel ander dinge om te doen.
Regstellende aksie, misdaad, munisipale verval, die verengelsing van universiteite soos die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en die Universiteit van Pretoria het Afrikaners soos vreemdelinge laat voel.
Waar is daar nog ’n winkelsentrum met Afrikaanse aanwysings?
Wanneer word die Afrikaner se kultuurdae nog in die Jakarandastad herdenk?
In die stede sal die Afrikaner as ’n klein, verspreide minderheid saamsmelt en uiteindelik wegsmelt.
Die Jode het eers sekerheid oor hul oorlewing as volk gekry toe hulle ’n plek gekry het.
Vandag woon daar Jode wêreldwyd, maar is hulle met ’n naelstring, hul Joodse geloof, aan hul moeder, Israel, verbind.
Waar is die moeder waaraan Afrikaners se naelstring weer verbind kan word?
Die Afrikaner kort ’n nuwe hoofkantoor en waar beter as in Suid-Afrika se hartland?
Byna in die middel van Suid-Afrika aan die rand van die Groot-Karoo, lê Orania, ’n plek waar die Afrikaner al byna 20 jaar lank ’n plek het.
Orania kan en moet die Afrikaner se hoofkantoor en hartland word.
Ongelukkig het ons sedert die stigting van Orania gesien dat die anti-Afrikaner-propaganda-masjien Orania laat lyk het na ’n wit en selfs rassistiese enklawe waar verstokte Afrikaners apartheid weer wou laat voortleef.
Die probleem is dat mense Orania nie verstaan nie. Orania is nie ’n enklawe nie.
Daar is nie hoë mure om Orania waardeur die inwoners hul van die buitewêreld kan afsonder nie.
Orania is ’n plek wat mense met ope arms verwelkom en veral Afrikaners wat weer hul band met hul Afrikanerskap wil kom versterk.
Orania is ’n plek in Suid-Afrika waar die werklikheid van Suid-Afrika se diversiteit al voor 1994 aanvaar is en waar samewerking tussen verskillende rasse en volkere in Suid-Afrika nie as ’n struikelblok nie, maar as ’n noodsaaklikheid geag word.
’n Senior ANC-persoon het onlangs gesê dat hy gereeld terug Oos-Kaap toe gaan om net weer Xhosa te praat en sy kultuur en tradisies te gaan beoefen.
Pres. Jacob Zuma doen dieselfde wat Zoeloe betref, wanneer hy gereeld na sy tuisdorp, Nkandla, toe gaan.
As die Zoeloes in KwaZulu-Natal en die Xhosas in die Oos-Kaap hul plek het, hoekom kan die Afrikaner nie ook sy plek hê nie?
Ek en my gesin het ’n maand gelede Orania toe getrek.
Ons wil saamwerk aan die droom om ’n plek vir die Afrikaner, en ’n broodnodige hoofkantoor.