Argief vir die 'Artikels' Kategorie

Bylaag in Beeld

Daar verskyn môre ‘n bylaag oor Orania in Beeld. Lede en ondersteuners van Orania word aangemoedig om kopieë van die koerant te koop en dit ook vir familielede, vriende en kollegas te wys.

Die bylaag is ‘n goeie geleentheid om Orania op ‘n positiewe manier aan baie meer Afrikaners bekend te stel.

Vanderkloofdam bereik hoogtepunt

Die uitvloei van water uit die Vanderkloofdam het gisteraand ‘n hoogtepunt van 2400 kubieke meter per sekonde bereik. Dit het vanoggend al na 2300 kubieke meter per sekonde gedaal, hoewel dit steeds ‘n groot stroom water is. Die uitvloei sal teen die naweek so 1800 kubieke meter per sekonde wees.

Magdaleen Kleynhans het gisteraand hierdie foto’s by die Vanderkloofdam geneem:

Water stroom oor die Vanderkloofdam se wal

Water stroom oor die Vanderkloofdam se wal

Vanderkloofdam se pragtige watermassa

'n Magtige dreuning

Die sproei styg bo die water uit

'n Sproeiwolk onderkant die Vanderkloofdam se wal

Die wal van onderaf gesien

Die wal van onderaf gesien

Water stroom uit Vanderkloofdam

Die Vanderkloofdam sowat 40km vanaf Orania is tans in vloed nadat goeie reën in sy opvangsgebied geval het en die Verwoerddam ook heelwat water in die rigting van die Vanderkloofdam stuur. Daar word verwag dat die dam teen Dinsdag sy hoogste vlak sal bereik met sowat 2400 kubieke meter water wat per sekonde uit die dam in die rigting van Orania sal vloei.

Water stroom uit die Vanderkloofdam.

Die water veroorsaak 'n sproei wat ver onder die wal steeds gevoel kan word.

Die dreuning van die water kan van ver gehoor word.

Die Oranjerivier is pragtig met 'n sonsondergang.

Die dam was gister reeds 106% vol.

Orania-argitektuur in Die Burger

Een van die stooibaal-huise op Orania

‘n Baie positiewe artikel oor argitektuur in Orania het die afgelope Saterdag in Die Burger verskyn. Die artikel fokus veral op Orania se ‘groen’ argitektuur met mooi foto’s van huis, die hotel en die spa. Daar word ook agtergrondinligting oor Orania gegee en die artikel kan baie help om Orania se beeld as ‘n volhoubare gemeenskap te bevorder.

Artikel: Orania se argitektuur toon ‘groen’ benadering

Orania in gesaghebbende Britse koerant

Oranian schoolgirls in traditional ‘Volkspele’ clothing celebrate Afrikaner culture in July.

Die bekende skrywer RW Johnson het die afgelope naweek ‘n in-diepte artikel oor Orania in die gesaghebbende Britse koerant, die Sunday Times, gepubliseer. Johnson het Orania onlangs besoek om navorsing vir die artikel te doen en ‘n bekende Amerikaanse fotograaf het die foto’s geneem. Die artikel is oor sewe bladsye in die Sunday Times se tydskrif gepubliseer.

Artikel in Report

Oppad na die hartland – Beeld

Afrikaners het ’n plek nodig waar seker gemaak kan word van die voortbestaan van die Afrikaner se taal, kultuur, tradisies en
geskiedenis. Orania is daardie plek, skryf Jaco Kleynhans.

Ses jaar gelede het ek op ’n Amtrak-trein tussen New York en Los Angeles die Amerikaanse hartland leer ken.

Ek het so baie van die heartland gehoor, maar op ’n trein kon ek dit leer ken.

Ek onthou die rancher van Nieu-Mexiko wat wou weet of Gary Player nog gholf speel en die Amish-tannie met haar handgemaakte koffertjie waaruit sy aan medepassasiers tuisgebakte koekies gegee het.

Wanneer die trein in Dodge City, Kansas, of in Lamar, Colorado, stilhou en jy by ’n diner instap, met die werkers op die stasie praat of deur vriendelike inwoners verwelkom word, weet jy jy is in die Amerikaanse hartland – die plek waar die regte Amerikaanse kultuur nog leef.

Die groot stede is maar soos alle ander groot Westerse stede, ’n mengelmoes van mense wat meestal hul lewens verbyjaag vir oorlewing of suiwer vir meer van die materiële leef.

In die hartland het ek egter “regte” Amerikaners leer ken.

Mense wat die Amerikaanse droom uitleef, in God, die krag van families en die wonder van harde, eerlike werk glo.

Afrikaners se heil lê nie in Suid-Afrika se groot stede nie.

Hoewel die meerderheid tans in stede woon, is dit nie waar die Afrikaner se hartland kan of moet wees nie.

Daar is niks verkeerd daarmee om in ’n groot stad te bly nie, maar elke volk het sy hartland nodig.

’n Plek waar jy eerstens jouself kan wees en tweedens ’n wêreldburger.

’n Vriend noem onlangs in ’n vergadering dat die Afrikaner volgens hom ’n hoofkantoor kort.

’n Plek waar seker gemaak kan word van die voortbestaan van die Afrikaner se taal, kultuur, tradisies en geskiedenis.

’n Plek waar Afrikaners eerstens Afrikaners kan wees en dan Suid-Afrikaners en Afrikane.

’n Plek waar ons ons monumente, biblioteke en museums kan hê.

’n Plek waar Afrikaners saam kan kuier en waarheen hulle soms kan ontsnap.

Die Afrikaner het dus ’n hartland nodig.

Ek het die afgelope sewe jaar in Pretoria gewoon.

As ’n nuweling wat al die pad van die Wes-Kaap getrek en Pretoria glad nie geken het nie, was ek die afgelope sewe jaar in ’n goeie posisie om te sien hoe Afrikanerskap sy vastrapplek in die hoofstad verloor.

Ek het gesien hoe die herdenking van die Gelofte op 16 Desember deur inkopies by Menlyn vervang is en hoe al hoe minder Afrikaners die Voortrekkermonument, Krugerhuis en die talle ander Afrikaner-monumente in die stad besoek.

Daar is net soveel ander dinge om te doen.

Regstellende aksie, misdaad, munisipale verval, die verengelsing van universiteite soos die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en die Universiteit van Pretoria het Afrikaners soos vreemdelinge laat voel.

Waar is daar nog ’n winkelsentrum met Afrikaanse aanwysings?

Wanneer word die Afrikaner se kultuurdae nog in die Jakarandastad herdenk?

In die stede sal die Afrikaner as ’n klein, verspreide minderheid saamsmelt en uiteindelik wegsmelt.

Die Jode het eers sekerheid oor hul oorlewing as volk gekry toe hulle ’n plek gekry het.

Vandag woon daar Jode wêreldwyd, maar is hulle met ’n naelstring, hul Joodse geloof, aan hul moeder, Israel, verbind.

Waar is die moeder waaraan Afrikaners se naelstring weer verbind kan word?

Die Afrikaner kort ’n nuwe hoofkantoor en waar beter as in Suid-Afrika se hartland?

Byna in die middel van Suid-Afrika aan die rand van die Groot-Karoo, lê Orania, ’n plek waar die Afrikaner al byna 20 jaar lank ’n plek het.

Orania kan en moet die Afrikaner se hoofkantoor en hartland word.

Ongelukkig het ons sedert die stigting van Orania gesien dat die anti-Afrikaner-propaganda-masjien Orania laat lyk het na ’n wit en selfs rassistiese enklawe waar verstokte Afrikaners apartheid weer wou laat voortleef.

Die probleem is dat mense Orania nie verstaan nie. Orania is nie ’n enklawe nie.

Daar is nie hoë mure om Orania waardeur die inwoners hul van die buitewêreld kan afsonder nie.

Orania is ’n plek wat mense met ope arms verwelkom en veral Afrikaners wat weer hul band met hul Afrikanerskap wil kom versterk.

Orania is ’n plek in Suid-Afrika waar die werklikheid van Suid-Afrika se diversiteit al voor 1994 aanvaar is en waar samewerking tussen verskillende rasse en volkere in Suid-Afrika nie as ’n struikelblok nie, maar as ’n noodsaaklikheid geag word.

’n Senior ANC-persoon het onlangs gesê dat hy gereeld terug Oos-Kaap toe gaan om net weer Xhosa te praat en sy kultuur en tradisies te gaan beoefen.

Pres. Jacob Zuma doen dieselfde wat Zoeloe betref, wanneer hy gereeld na sy tuisdorp, Nkandla, toe gaan.

As die Zoeloes in KwaZulu-Natal en die Xhosas in die Oos-Kaap hul plek het, hoekom kan die Afrikaner nie ook sy plek hê nie?

Ek en my gesin het ’n maand gelede Orania toe getrek.

Ons wil saamwerk aan die droom om ’n plek vir die Afrikaner, en ’n broodnodige hoofkantoor.

Los die verlede indien jy Orania wil verstaan – Volksblad

Jaco Kleynhans

Ek en my gesin woon nou al byna ‘n maand in Orania. Baie van ons vriende, familie, kollegas en kennisse was verstom toe ons aankondig dat ons Orania toe trek. Die persepsies wat die afgelope paar jaar deur eensydige mediaberigte oor Orania geskep is, was in meeste gevalle hierdie persone se enigste verwysingsraamwerk om Orania volgens te beoordeel.

Tydens hierdie vier weke van verblyf in Orania het ek egter besef dat mense Orania moet beleef om dit te verstaan. Die joernaliste wat gedurig in koerante en op radio ons gemeenskap as ‘n ‘apartheidswoestyn’, soos wat Volksblad verlede Donderdag in hul hoofartikel ons beskryf het, aan die publiek weergee, was baie keer nog nooit eers self in Orania gewees nie. Die meeste van hulle het ook nog nooit ‘n behoorlike indiepte gesprek met die leierskap van Orania gevoer nie. Die groter probleem is egter dat die meeste van hierdie mense se politieke verwysingsraamwerk steeds Apartheid is en dat hul nog nooit probeer het om nuut oor Suid-Afrika se toekoms te dink nie.

Die vraag wat by my ontstaan is nie waarom daar oor Orania geskryf of gepraat word of waarom ons gekritiseer word nie, maar eerder waarom die media so behep daarmee is om Orania aan rassisme te koppel. Ons gee nie om om gekritiseer te word nie, want ons streef voortdurend na uitnemendheid en kritiek hou ons op ons tone, maar waarom rassisme in Orania bly soek terwyl al ons amptelike dokumentasie Orania as gemeenskap se afkeur van rassisme duidelik uitstippel? ‘n Suid-Afrikaanse koerant het verlede jaar ‘n joernalis Orania toe gestuur met die doel om rassiste in Orania te kom soek. Twee weke gelede het ‘n nuusblad twee swart persone hiernatoe gestuur met die doel om te kyk wat gebeur wanneer swart mense in Orania rondloop. Daar het natuurlik niks gebeur nie, want Orania behandel alle mense van alle rasse met dieselfde mate van respek.

Nadat ek vier weke hier bly weet ek ook dat hier enkele rassiste in Orania is, net soos wat daar rassiste in waarskynlik elke dorp en stad in Suid-Afrika is. As ‘n oop en verdraagsame gemeenskap toets Orania nie mense se ingesteldheid oor ras voordat hulle hier kan kom bly nie. Ek weet van geen ander gemeenskap waar so ‘n toets afgelê word nie. Verskillende mense hanteer ras verskillend en in Orania is ras nie ‘n kwessie vir ons nie. Geen grondwet, beleidsdokument of kommunikasiestuk van Orania of enige van sy instellings bevat of bemoedig enige rassisme nie. Wanneer ek in die supermark in Orania agter ‘n bruin of swart kliënt staan (iets wat algemeen in Orania is) is my ervaring net so normaal soos wanneer ek agter ‘n wit persoon staan.

Die bruin fotograaf van Volksblad wat Orania verlede Dinsdag besoek het, het duidelik heel gemaklik in Orania gevoel, veral toe hy teenoor die Volksblad-joernalis opgemerk het hoe netjies die supermark in Orania is. Hoekom het die senior redaksie van Volksblad nie hul hoofartikel waarin hulle Orania sonder enige verduidelik of substansie aan apartheid gekoppel het, met hierdie bruin fotograaf en die ander joernaliste van Volksblad en Beeld wat ook die geleentheid bygewoon het, getoets nie?

Suid-Afrika is ‘n land met ernstige probleme. Werkloosheid, armoede, swak onderrig, hoë misdaad en die verval van regering op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak vereis van ons om kreatief oor ons toekoms as ‘n land te dink. Verstedeliking en sentralisering het die afgelope twee dekades veroorsaak dat miljoene meer mense in haglike omstandighede in plakkerskampe woon waar hulle nie oor die vermoë beskik om hulself ekonomies te bemagtig nie.

In Orania skep ons ‘n model van selfstandige gemeenskapsontwikkeling waar mense weer nuut dink oor maniere om uit hul eie vermoëns vir hulself en hul gesinne ‘n toekoms te skep. Ons ontwikkel ‘n gemeenskap waar mense verder as vandag dink en die heeltyd ingestel is op volhoubare ontwikkeling. Juis om hierdie rede het ons ‘n unieke onderwysstelsel, ‘n gevorderde vullisherwinningstelsel, unieke boumetodes en ‘n sterk ekologiese bewaringingesteldheid.

Orania beskou egter ook kultuur, tradisies en gevolglik ons Afrikanerskap as een van ons sterk bates. Dit is juis die feit dat soveel swart kinders vandag van kleins af in Engels onderrig word wat hul onderrig ernstig belemmer. Ons sien soos die Franstalige inwoners van Quebec in Kanada, die Kataloniërs in Spanje en die talle ander minderheidsvolkere in die res van die wêreld ‘n antwoord in gemeenskapsontwikkeling binne ‘n gedomineerde geografiese gebied.

Hoe die media dit regkry om hierdie beskouing aan apartheid te bly koppel is onverstaanbaar. Die idee van Orania het reeds in die tagtigerjare ontstaan toe talle Afrikanerleiers besef het dat ‘n regering waar die minderheid oor die meerderheid regeer nie volhoubaar is. Orania het dus juis in ‘n teenreaksie tot Apartheid ontstaan en ons beskou ons gemeenskap en sy strewe na selfbeskikking dus juis as ‘n moderne internasionale tendens.

‘n Gemeenskap wat egter sy wortels uitkap om polities korrek voor te kom skiet homself in die voet. Dit is juis die trots van Orania se inwoners op ons Afrikanerskap, ons geskiedenis en tradisies wat ons aanvuur om ‘n gemeenskap van uitnemende inisiatiewe te wees.

Maak ‘n paar rassistiese inwoners van Orania ‘n rassistiese gemeenskap? Nee, want net soos wat ‘n paar rassistiese inwoners nie van Pretoria, Kaapstad of selfs watter ander groot of klein dorpie in ons land ‘n rassistiese plek maak nie, kan die denke en optrede van individue nooit as die beskouing van die kollektief geag word nie.

Orania word belas met die juk wat mense wat tydens Apartheid grootgeword het bly dra. Hierdie mense kry dit nie reg om die verwysingsraamwerk wat gedurende die sewentiger en tagtigerjare in hul ingeprent is, af te skud nie. Ons sien daagliks dat koerantredakteurs, akademici en kommentators die uitrusting van vandag se samelewing aan gister se kapstok probeer hang. Dit veroorsaak dat Orania aan Apartheid gekoppel word omdat al die inwoners van Orania wit is. Orania is egter in die moderne idioom nie ‘n dorp met wit inwoners nie, maar ‘n dorp met Afrikanerinwoners. Dit is net toevallig dat Afrikaners wit is.

Die afgelope vier weke was ‘n bevrydende ervaring. In Orania kan ek trots Afrikaner wees sonder dat ek dit vanuit ‘n Apartheidsperspektief moet beskou. In Orania kan ek hard werk vir ‘n toekoms vir my, my gesien en mense met dieselfde taal, kultuur, geloof en tradisies as ekself. Ek doen dit alles egter nie omdat ek teen iemand is nie, maar omdat ek vir ‘n model van gedesentraliseerde gemeenskapsontwikkeling is. Ek sien en verstaan die probleme van swart Suid-Afrikaners beter en wat die verval van hul taal, kultuur en veral die sentralisering en verstedeliking wat deur die ANC se regeringstyl veroorsaak word, meegebring het.

Wat ons in Orania doen is nie ten koste van enigiemand nie. In Orania verlaag ons die las op die staat omdat ons deur onderwys, werkskepping, maatskaplike ontwikkeling, behuising en talle ander metodes ‘n gemeenskap ontwikkel wat uit sy eie kapitaal, arbeid en inisiatief sy bestaan voer. Net omdat ons Afrikaners is word dit as regs, rassisties en ‘n teruggryp na die verlede beskou. Die media sal nuut moet begin dink om nie ook in die groep te verval waar jy net kritiseer en geen nuwe oplossing kan aanbied nie. Orania kan vir baie ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe as ‘n voorbeeld dien. Kom ons los die verlede en fokus op kreatiewe oplossings vir ons land se probleme.

Orania se kraakvars neuteoes

Aanleg vir gradering en pak

Die blare hang nog vir oulaas geel en herfserig aan die pekanbome in Orania.  Dit is egter ‘n gesig wat ‘n mens moet geniet as jy die geleentheid het om dit te sien, want oestyd het reeds in alle erns begin.  Op Orania is daar ongeveer 155 ha pekanneutbome aangeplant, wat sowat 15 500 bome verteenwoordig.

Dit is belangrik om te besef dat pekanneutboerdery ‘n langtermynbelegging is.  Boere raak dikwels moedeloos vir die lang wagtyd en ploeg dan bome uit wat al ‘n paar jaar groeityd agter die rug het.  Op Orania is die oudste bome nou ongeveer vyftien jaar oud en opbrengste verbeter nog jaarliks.  Die nasionale gemiddelde opbrengs is ongeveer een duisend vyfhonderd kilogram per hektaar.  Die uiteindelike verwagte gemiddeld  vir Orania is tweeduisend kilogram pekanneute per hektaar.  Daar word egter ’n gemiddelde van sowat 500 kilogram per hektaar vir die 2010-oesseisoen verwag omdat al die bome nog nie in volle produksie is nie.

Die boorde op Orania is almal in privaatbesit.  Sommige word egter deur kontrakteurs onderhou.

Jong bome word nog met die hand geoes, maar die meeste bome is reeds sterk genoeg om meganies geoes te word.  Dié proses behels ‘n skudmasjien waar ‘n klamp om die boom se stam gehaak word en dan word  die boom met ‘n vinnige vibrasie geskud.  Die geel en bruin blare tuimel dan saam met die pekanneute grond toe en val in sommige gevalle op skadunette.

Johan Ferreira van Dendronboerdery, ‘n kontrakteur wat sowat 110ha met vyftien manne binne twee en ‘n half maande oes, het die oesproses al verder gemeganiseer.  Hier word die neute wat op die boordvloer lê nadat die bome geskud is, met ‘n reuse suier aan ‘n trekker opgesuig terwyl die blare terselfdertyd  uitgeblaas word.   Johan maak ook gebruik van ‘n kragtige blaser, wat die neute op die boordvloer almal in een rigting blaas.  Daar word reeds beplan om  ‘n boordbesem aan te koop.  Die boordbesem sal dan vooraan die trekker geplaas word met die blaser agteraan.  Sodoende sal die neute in windrye gevee en dan maklik met die suier opgesuig word.  Dit behoort produktiwiteit verder te verhoog.

By Dendronboerdery is daar ook onlangs ‘n nuwe verpakkingsaanleg in gebruik geneem.  Die neute word op ‘n produksielyn met ‘n masjien skoongemaak en volgens grootte en kwaliteit gesorteer.  Gekraakte neute word met die hand van ‘n vervoerband  verwyder.  Die gegradeerde neute val volgens grootte in sakke. Die sakke word toegestik en ‘n identifikasiekaartjie word aangeheg.

Die wit sakke met Orania-pekanneute word in ‘n koelkamer gestoor,  gereed vir die uitvoermark waarvoor dit bestem is.

Neute uit sommige boorde word egter in Annatjie Joubert se Karoo-pekanaanleg meganies gekraak, uitgedop en in grootmaat vakuumverpak.  Annatjie berei ook kleiner verpakkings voor met verskillende mengsels van neute, byvoorbeeld gebak, gegeur of met rosyne gemeng.

Die kwaliteit van neute uit die Bo-Karoo is besonder hoog, met ‘n gemiddelde uitdoppersentasie van tot 58%.

Pekanneute word beskou as een van die beste beskikbare gesondheidskosse en is besonder ryk aan voordelige vetsure en ook ‘n goeie bron van plantaardige proteïen.   In Orania is dopvars pekanneute in oorvloed beskikbaar en Oraniërs wat bederf is met goeie kwaliteit, vars neute, is al buitengewoon kieskeurig oor watter neute regtig lekker is!

Lida Strydom

Hiér is anderkant die kla

- Beeld

Orania het baie om te wys. Kom kyk maar self en besluit self, skryf Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Beweging.

Laat in Desember het ’n bouspan in Orania hard gewerk om nog klaskamers vir ’n plaaslike skool gereed te kry.

Die nuwe klaskamers moes vir die nuwe skooljaar gereed wees omdat die skool nie meer genoeg plek het vir die toenemende aantal leerlinge in Orania nie.
“Teen die einde van die jaar gaan die koshuis ook vol wees,” sê die bekommerde voorsitter van die skoolbeheerliggaam.

“Gaan ons vanjaar genoeg geld insamel om ons koshuisgeriewe ook nog uit te brei?”

Nog ’n bouspan – by Orania se Oewerpark langs die Oranjerivier – kon in Kerstyd ontspan.

Hulle het reeds aan die begin van Desember die bou van ’n nuwe viersterhotel in Orania voltooi. Verskeie ondernemings in die gasvryheidsbedryf in Orania het hul beste vakansieseisoen tot dusver gehad. Die Orania Beweging se toergidse sal ook, soos die skool se bouspan, hul verlof in die stiller maande moet neem.

Al hoe meer toeriste het Orania die vakansietyd besoek. Sommige dae moes van die toergidse tot ses besigtigingstoere per dag inpas.

Afrikaners is ontnugter

Maar wat sê hierdie toenemende aantal besoekers? Laat ek sommer dadelik byvoeg: Hulle is nie snaakse mense nie, maar gewone Afrikaners. Die soort wat Saterdagoggende in Menlyn Park rondloop en die middag rugby gaan kyk op Loftus.

Baie van hulle het waarskynlik ’n swembad en ’n lekker strooidaklapa tuis (met apologie aan Pieter du Toit se rubriek).

Hulle sê hulle voel onveilig in Suid-Afrika. Hul lewensruimte word bedreig en die reg op ’n menswaardige bestaan word hulle ontneem. Hulle vind dit ongelooflik dat hul kinders in Orania vryelik kan beweeg en dat dit hier veilig is.

Mense vertel ons uit eerstehandse ervaring van moord, roof en ander gruwelmisdade, van munisipale dienslewering wat in duie stort, van regstellende aksie wat hul kinders ontneem van die reg op ’n regverdige toekoms en van Afrikaanse skole wat in die hof moet veg om hul voortbestaan.

Wyle Chris Louw het hierdie frustrasie wat toenemend onder baie Afrikaners heers, goed opgesom toe hy in Beeld geskryf het: “Kom ons wees eerlik en erken dit. Die toekoms is swart.”

Tim du Plessis onderskryf hierdie standpunt van Louw wanneer hy in sy jongste rubriek skryf: “ ’n Breër wordende stroom van ontnugtering en verwyt loop deur die wit en die Afrikaanse gemeenskap. En hy’s diep. Dis in die bo-klas, die middelklas en laer af.”

Anderkant die kla

Die groeiende gevoel van frustrasie en verbittering onder baie Afrikaners roep onmiddellik die vraag op wat Louw ook gevra het: “En as ons klaar gekla het?” Wat doen ons hieraan? Kan daar iets anderkant die “kla” wees?

Op hierdie vraag het daar die laaste tyd onder Afrikaners verskeie antwoorde na vore gekom.

Vir Antjie Krog, byvoorbeeld, is die antwoord eenvoudig: “Beg to be black.”

Vir die grondwetskrywers en politici wat by die oorgang in 1994 betrokke was, kan die probleem nie so groot wees nie. Ons het immers ’n modelgrondwet. Een van die beste ter wêreld. Op die een of ander manier sal redelikheid intree en ten spyte van die teendeel sal die Grondwet die werklikheid verander en nie andersom nie.

Dan is daar nog dié wat dink dat Afrikaners nie ’n reg het om oor hul eie toekoms besorg te wees nie, maar hulle “eerder aan die kant van die honger, arm en vertrapte massa (moet) skaar”, soos Du Toit skryf.

Baie ander sien bloot nie kans om ’n antwoord te ontwikkel nie en kies emigrasie.

Daar is egter ’n groeiende groep Afrikanerdenkers wat besef dat daar by die oorgang in 1994 fundamentele foute begaan is en dat ons ’n nuwe beeld oor Suid-Afrika sal moet ontwikkel.

Nie ’n terugkeer na die ou bedeling nie, maar ’n alternatief vir die huidige sentralistiese een wat besig is om ’n al hoe meer ongenaakbare vorm aan te neem. Breyten Breytenbach formuleer dit só: “Dit beteken dat gesprekke, aangevuur deur ’n morele en praktiese verbeeldingsvermoë, rondom die noodsaak van ’n opnuut geformuleerde Suid-Afrika – gegrond in ’n bestel van funksionerende federale deelstate, met dieselfde regte en moontlikhede vir almal – op alle vlakke aan die orde van die dag moet kom.”

In reaksie hierop skryf Lawrence Schlemmer: “Die voorstel (van Breytenbach) kom breedweg ooreen met die beste deskundige voorstelle vir die hantering van kulturele diversiteit.”

Koos Malan onderskryf ook die uitgangspunt wanneer hy sê: “Ek bepleit lank reeds dat die sentralistiese, grondwetlike orde waaraan ons uitgelewer is deur ’n federale bedeling reggestel word.”

Veilig en Afrikaans

In dié politieke denkruimte kry Orania sy beslag. Of die regering bereid sal wees om die federale karakter van die Grondwet uit te bou, bly ’n ope vraag. Verskeie gesaghebbende politieke kommentators het al opgemerk dat Suid-Afrika ’n opvolgskikking nodig het. In Orania word daar egter ’n de facto federale werklikheid geskep wat uiteindelik beliggaam sal moet word in de jure-erkenning. Hierdie werklikheid word onder andere beliggaam deur ’n nuwe volhoubare ekonomie op die grondslag van selfstandigheid te vestig, skole te bou, goeie en betroubare munisipale dienste te lewer en ’n algemeen veilige en skoon omgewing te skep waarin ’n gesonde gemeenskapslewe kan gedy.

Reeds by die ontstaan van Orania het die leierskorps geweet dat die dorp nie in isolasie kan voortbestaan nie. Daarom is daar ’n gesonde wisselwerking tussen die Orania-gemeenskap, sy omgewing en die res van Suid-Afrika.

Of dit nou is met die honderde toeriste en joernaliste wat Orania jaarliks besoek, skakeling deur sakemanne wat hulle produkte elders verkoop, gesprekke met leiers in die ANC (soos pres. Jacob Zuma en mnr. Julius Malema) of gereelde deelname aan die openbare diskoerse in Suid-Afrika.

Hermann Giliomee haal Jane Jacobs, die invloedryke Amerikaanse antropoloog, aan in ’n referaat voor die kongres van Solidariteit se Helpende Hand op 22 Oktober verlede jaar in Pretoria. In haar boek Systems of Survival sê Jacobs dat gemeenskappe wat daarin slaag om op lang termyn te oorleef, vir hulself twee dryfvere ontwikkel. Aan die een kant ’n beskermdryfveer wat daarop gerig is om die gemeenskap lewend te hou en sy waar- des en kultuurerfenis te laat oorleef. Aan die ander kant is daar ’n handelsdryfveer wat ’n gesonde ekonomiese welstand vir die gemeenskap verseker.

Hierdie twee dryfvere is dan ook Orania se dryfvere en dit verseker dat die dorp elke jaar reële groei aanteken.

Daar is baie wanopvattings oor Orania. Hierdie wanopvattings word versterk deur rassiste met hul eie agendas en politieke kansvatters wat met stellings soos “ons eis ’n derde van die land” die geloofwaardigheid van die Orania-gedagte ondermyn.

Hierdie kwaadwillige en soms kru politieke retoriek word baie keer deur gretige joernaliste onregverdig op Orania se brood gesmeer. Sedert sy ontstaan het die dorp hom konsekwent hiervan gedistansieer en sal steeds nie toelaat dat opportuniste sy billike en regverdige strewes ondermyn nie.

Staan daar nie geskrywe dat ’n boom geken sal word aan die vrugte wat hy dra nie? As ’n boom vrugte dra van ontwikkeling, veiligheid, gesonde bestuur, vooruitgang, ’n veilige Afrikaanse omgewing, werkgeleenthede vir baie arm Afrikanergesinne wat elders uitgestoot is en glimlaggende kinders wat die strate vol speel en in die swembad baljaar, is dié boom dan doodgebore?

Kom kyk maar self en besluit self. Orania het baie om te wys.

Midwinter fees.

‘n Paar vriende op Orania (meesal boere) het die gewoonte om presies in die middel van die winter ‘n fees te hou wat die draai van die seisoen vier.  Die afgelope paar jaar het ‘n groei in die gaste beleef vanaf ongeveer 4 mense tot 10.  Dit beteken dat op, of so na moontlik aan 21 Junie ‘n aand gekies word waarop vriendskap en lekker kos die ereplek inneem.  Tradisioneel is sop, tuisgemaakte ham en boerkool die hoofgeregte.

Daar word hard gewerk en baie besin op Orania, en geleenthede soos hierdie is waardevol om mekaar te bemoedig en vriendskappe te verstewig.  Ook word toenemend gepoog om die geregte van plaaslike produkte te berei.  Oor vark en sop hoef ek niks te sê nie, maar wie ken boerkool?  Hierdie waardevolle groente groei pragtig op Orania!