Mediaverklaring wat op Donderdag, 17 Februarie uitgestuur is.
Laat Orania ons Nkandla wees
Die Orania Beweging het President Zuma se uitspraak vandag in Afrikaanse koerante dat die Afrikaner ook ’n plek moet hê verwelkom en beskou sy verwysings na Orania as ’n teken dat hy besef dat Orania besig is om ’n werklike tuiste vir die Afrikaner in Afrika te word. In die onderhoud noem die President dat hy Nkandla in KwaZulu-Natal as sy tuiste beskou en dat dit die plek is waar hy sy Zoeloe-kultuur gereeld kan gaan beoefen.
Volgens Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, gee Zuma in sy eie woorde die rede waarom Orania die Afrikaner se plek kan wees. “Die President sê dat hy in Pretoria en Kaapstad werk, maar dan Nkandla toe gaan om daar sy taal te gaan praat en tradisionele Zoeloe-danse te gaan doen. Waarom mag die Afrikaner nie ook ’n plek hê waar sy taal, kultuur en tradisies lewendig gehou kan word nie?”
Orania is vanjaar 20 jaar oud en tydens die afgelope 20 jaar is die nedersetting gevestig as ’n tuiste vir Afrikaners. Orania is vandag ’n plek waar Afrikanerkultuur instand gehou word en waar Afrikaner monumente, literatuur en ander kosbare items versamel word. “In Orania is ons trots op Afrikanerskap en leer ons, ons kinders van die Afrikanergeskiedenis, vier ons Afrikanerkultuurdae en leef ons, ons Afrikanerskap daagliks uit. Orania is egter nie net die somtotaal van sy 900 inwoners nie, maar eerder die somtotaal van duisende Afrikaners wat ondersteuners van Orania is en gereeld Orania besoek om weer hul kultuur te kom beleef. Ons is nie onrealisties om te verwag dat alle Afrikaners Orania toe moet trek nie, maar ons weet egter ook dat geen volk kan bly voortbestaan sonder ’n geografiese gebied waar hy die meerderheid is en waar sy taal, kultuur en tradisies die hooftoon voer nie,” sê Kleynhans.
Die Orania Beweging beskou President Zuma se uitspraak dat die Afrikaner se plek egter nie soos Orania ’n eie grondgebied kan wees nie, maar eerder ’n plek in die Afrikaner se kop moet wees, as ’n weerspreking van Zuma se eie standpunt oor sy kultuurtuiste. Dit spreek ook van die regering se vrees dat Afrikaners juis van iets soos Orania ’n sukses kan maak. “Hoewel die President erken dat Afrikaners ’n plek moet hê, besef hy ook dat ’n groeiende, suksesvolle Afrikanergemeenskap soos Orania deur sy effektiwiteit ’n verleentheid vir die ANC kan word. In die Bo-Karoo streek het Orania se eie munisipaliteit homself reeds as meer effektief as enige omliggende ANC-munisipaliteit bewys en dit sonder enige staatshulp. ’n Groot suksesvolle Orania waarheen meer Afrikaners verhuis kan dus vir die regering ’n verleentheid word. Ons beskou ’n sterk Orania egter as ’n aanwins vir Suid-Afrika omdat ’n sterk Orania ook Suid-Afrika se ekonomie en infrastruktuur kan ondersteun en kan verseker dat Afrikaners wat eerder sou emigreer, wel in Suid-Afrika sal aanbly,” sê Kleynhans.
Orania is juis die Afrikaner se tuiste in Afrika. “Die vrees dat Afrikaners hulself dus deur Orania sal isoleer is onwaar. In Orania waardeer ons al Suid-Afrika se kulture en is ons baie bewus van die wyse waarop baie ander kulture ook bedreig word. Ons besef egter ook dat die Afrikaner nie sal kan bly voortbestaan indien sy geskiedenis, taal, kultuur, tradisies en gewoontes nie aan volgende geslagte oorgedra gaan word nie. Geen volk kan as ’n klein minderheid dit regkry sonder ’n eie grondgebied waar hy dominant is nie.”
President Zuma het Orania verlede jaar op 14 September besoek. Tydens sy besoek was hy verstom oor die effektiewe manier waarop Orania op die platteland met Afrikanerinisiatief, kapitaal en arbeid ’n suksesvolle ekonomie skep. Hy was ook verbaas oor die feit dat Orania se munisipaliteit alle dienste op ’n effektiewe wyse sonder staatshulp aan die gemeenskap lewer. “Al waarvoor ons vra is dat ons die reg gegun word om vir die Afrikaner sy eie tuiste te skep. Indien ons nie soos die Franssprekendes in Quebec in Kanada, die Kataloniërs in die Noorde van Spanje en die Vlaminge in die Noorde van België ons eie geografiese gebied kan kry nie, sal Afrikanerskap noodgedwonge uitsterf. Dit is al oor en oor in die wêreld bewys dat elke volk sy eie plek nodig het, die status daarvan kan na gelang van die unieke stel omstandighede natuurlik verskil en dit is volgens ons al wat nog uitgesorteer moet word.”