Argief vir die 'Nuusbrief' Kategorie

Nuusbrief 29 Junie 2009.

Orania Nuusbrief – 29 Junie 2009
Nommer 32

Monitor Orania se geïntegreerde ontwikkelingsplan

Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van die Orania Bewegings is genooi om in die aktualiteitsprogram, Monitor te gesels oor Orania se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) wat so pas voltooi is.  Die Stad- en Streekbeplanner, Louw van Biljon het ongeveer twee jaar lank aan dié gedetailleerde plan gewerk en dit sal op 8 Augustus tydens die jaarlikse Burgervergadering deur Louw bekend gestel word.  Op Orania word baie aandag gegee aan lokale en volhoubare ontwikkeling.  Daar sal ook gesels word oor die noodsaaklikheid van doeltreffende munisipale bestuur wat Orania nastreef.  Kom op die hoogte van die nuutste Oranianuus: luister Dinsdagoggend, 30 Junie om tien oor sewe na Monitor op RSG!

Frans de Klerk

Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Van hoek tot kant beplan!

Projek Elim Steen vir Steen se fonds staan nou reeds op ongeveer R350 000.  Meer as die helfte van die beoogde R500 000 is dus reeds vir dié projek ingesamel.  Die doel van hierdie projek is om tien nuwe woonstelle vir Afrikaner jongmanne by Elim te bou.  Vier dinees is in Bloemfontein, Orania, Potchefstroom en Pretoria gehou om die fondsinsameling ‘n hupstoot te gee.  Ondersteuners van Orania het hulle harte oopgemaak vir die projek en geesdriftig bygedra.  Die goeie nuus is dat die planne vir die nuwe woonstelle deur Orania se plaaslike argitek, Christiaan van Zyl, gefinaliseer is en by die Orania Dorpsraad ingedien is vir goedkeuring.  Bouwerk sal dus baie binnekort kan begin!

Model

Hierdie model wys hoe die beplande woonstelle by Elim sal lyk.

Wyse uil bly ewig student

‘n Gevlekte ooruil het besluit dat hy soveel as moontlik wil put uit die leeromgewing wat die Orania Volkskool bied en het gaan nesmaak in ‘n opening tussen die dak en die plafon van die skoolsaal.  Hoe wys die uil in sy keuse van Volkskool was, blyk uit die besluit van die skoolbestuur om die nes te beskerm toe die dakstruktuur onlangs herstel moes word.  Daar word gedurig sisgeluide uit die dakhoogte nes gehoor, wat daarop kan dui dat daar op die oomblik kleintjies is.  Hoewel die braakbolletjies en die uilmis ‘n morsigheid by die skool se ingang veroorsaak, is besluit dat die voordele wat die uil se teenwoordigheid bied, groter gewig dra.  ‘n Kolonie vlermuise het dieselfde hoek gekies om hulle skoolkennis uit te brei, waarskynlik omdat daar gereeld ‘n lig brand en baie insekte so aangetrek word.  Die goeie werk wat vlermuise doen is kosbaar en daarom is daar vir hulle ‘n vlermuishotel opgerig sodat hulle in styl hulle daaglikse werksaamhede kan uitvoer.

Onthou 8 Augustus

Alle belangstellendes word baie hartlik uitgenooi om die Burgervergadering van die Orania Beweging op 8 Augustus by te woon.  Hierdie byeenkoms bied aan ondersteuners van die Orania-idee die geleentheid om op die hoogte te kom van gebeure in Orania.  Die jaarverslag sal aan die vergadering voorgehou word en die verkiesing van die Burgerraad sal ook plaasvind.  Nominasievorms vir kandidate is by die Orania Beweging beskikbaar en moet die kantoor voor 1 Augustus bereik.  Ebert Terblanche, Orania se jong, inwonende ouditeur sal aan die vergadering verduidelik hoe die Orania Beweging Ontwikkelingsfonds as instrument vir kapitaalvorming gebruik kan word.  Zani Jooste, ‘n landskapargitek sal meer vertel oor haar betrokkenheid by Orania se estetiese ontwikkeling en Louw van Biljon, ‘n Stad- en Streekbeplanner sal die geïntegreerde ontwikkelingsplan wat hy so pas vir Orania voltooi het, verduidelik.  Dit is baie belangrik dat ondersteuners van Orania hierdie vergadering sal bywoon.  Die volledige program vir die Burgervergadering is beskikbaar op die webwerf www.orania.co.za

Maak skerp die potlode!

Gerhardus Thompson is ‘n geesdriftige Orania-uitwoner.  Hy woon tans in Taiwan vanwaar hy die jaarlikse Afrikaanse Wetenskapfiksie- en  Fantasie-skryfkompetisie vir Oraniërs en ondersteuners van Orania loods.  Die verhale van die wenners in die eerste rondte van dié kompetisie is in ’n bundel opgeneem en is beskikbaar teen R50 plus posgeld by die Orania Beweging Boekwinkel.  Die volgende kompetisie is reeds geloods en die sluitdatum is 5 September 2009. Goeie pryse is op die spel!   Nuwe nuus is dat ‘n wetenskap-fiksiekunskompetisie ook nou geloods is. Dié kompetisie sluit reeds op 1 Julie 2009.

Meer inligting by Lida Strydom by
redakteur@orania.co.za of 053 2070057.

Stories

Die eerste bundel met Afrikaanse Wetenskapfiksie- en Fantasiekortverhale wat deur Gerhardus Thompson uitgegee is.

Buitebeleggers ontdek ‘n geleentheid in Orania

Christo Opperman, ‘n siviele ingenieur van Pretoria, het onlangs besluit dat Orania die aangewese plek is om nou in te belê.  Christo het ‘n mooi hoekerf in Orania-Wes uitgesoek en ses meenthuise is deur die plaaslike argitek daarop ontwerp.  Die eerste huis in die Marnatie-ontwikkeling is byna voltooi en die tweede is byna halfpad.  ‘n Afrikaner-bouspan wat goeie kwaliteit werk lewer, trotseer sowel Orania se snikhete somers en snerpende winters om dag na dag aan die huise te bou.  Die bouers lê tot tweeduisend stene per dag.  ‘n Bonus vir Orania is dat van Orania se jongmanne ook hier die geleentheid gebied word om in die boubedryf opgelei te word.  Vir meer inligting oor die meenthuise skakel Christo Opperman by 083 225 8199.

Leeslustiges soek nuwe boeke

Die Orania Biblioteek lewer ‘n baie waardevolle diens aan Oraniërs.  Die biblioteek se boekery is afkomstig van skenkers wat lojaal is aan Orania.  Ongelukkig is van die boeke in die versameling reeds baie verouder en word daar dringend gesoek na nuwe boeke, veral meer moderne letterkunde van bekende skrywers in beide Afrikaans en Engels.  Indien u dus onlangs ‘n nuwe boek aangeskaf of persent gekry het wat u klaar gelees en baie geniet het, maar wat nou net op ‘n rak gaan staan, oorweeg asseblief om dit aan Orania se biblioteek te skenk.  Dit sal hier met groot gretigheid gelees word.  Doen asseblief navraag by Mildred Conradie by mildredconradie@gmail.com

Lopende Besigheid te koop

Roelien de Klerk Juwele, is ‘n gevestigde en suksesvolle juweliers- en geskenkewinkel in Orania.  Hierdie besigheid word nou te koop aangebied. Belangstellendes kan vir Roelien de Klerk tussen 9:00 en 16:00 by 053 207 0282 of by 083 683 3070 skakel.

Die nuusbrief is saamgestel deur Lida Strydom vir die Orania Beweging.
Moet asseblief nie op hierdie e-pos antwoord nie. U is welkom om kommentaar te lewer of navrae te rig aan redakteur@orania.co.za.
Teken in of uit deur ‘n vonkpos te stuur aan magriet@orania.co.za.
Skakel die Orania Beweging by 053 207 0062 vir meer inligting oor Orania.
Om aan te sluit by die Orania Beweging skakel 053 207 0062 of skryf aan
oraniabeweging@orania.co.za.
Eie grond. Eie arbeid. Nuwe toekoms.

Powered by PHPlist2.10.5, © tincan ltd

Voorgrond Maart 2009

Klik asseblief op onderstaande skakel vir artikel:

orania-voorgrond-mrt-09

Voorgrond November 2008.

Klik hier vir Voorgrond.

Voorgrond September 2008

Klik asseblief op onderstaande skakel vir die artikel:

orania-voorgrond-sept-08-proof-pdf1