Ons het jou steun nodig

Ons het jou steun nodig

Die Orania Beweging bepleit nuwe historiese ooreenkoms oor grond.

Kommentaar
van die
Orania Beweging/Afrikanervryheidstigting
op die moontlike wysiging van die
Suid-Afrikaanse Grondwet
om voorsiening te maak vir
onteiening sonder vergoeding van grond

 

  1. Die Orania Beweging is in 1988 as Die Afrikanervryheidstigting opgerig met die doel om tot ‘n nuwe konstitusionele bedeling in Suid-Afrika by te dra deur die beëindiging van blanke minderheidsregering in samehang met die implementering van selfbeskikking vir Afrikaners in ‘n eie gebied. Die Vryheidstigting het toe reeds voorsien dat demokratisering verreikende gevolge vir die Suid-Afrikaanse samelewing sou hê en dat die heersende orde omvattend getransformeer sou word. Dienooreenkomstige insette is in die daaropvolgende jare tot die politieke diskoers van die dag, tot grondwetlike onderhandelings en tot die afbakening van provinsies en munisipaliteite gemaak. Die Vryheidstigting het ook aanvaar dat die transformasie van die samelewing ook met betrekking tot die besit van en toegang tot grond onweerstaanbaar voelbaar gemaak sou word.
  1. Die eksistensiële en historiese verbintenis tussen Afrikaners en die gebruik en besit van grond in Suid-Afrika, soos ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe en persone se verbintenis met hulle grond immers ook, maak daarvan vir ons ‘n besonder gevoelige saak en regverdig groot oorleg. Huidige oorweging daarvan vind teen die agtergrond van ‘n geskakeerde geskiedenis en van vorige ooreenkomste plaas en kan nie nou benader word asof dit vir die eerste keer sedert die koloniale verowering van Afrika op ‘n wederkerige wyse behandel word nie.
  1. Die Grondwet van 1996 verteenwoordig juis ‘n historiese ooreenkoms met die bedoeling om die reëls aan die hand waarvan botsende belange tussen uiteenlopende partye behandel moet word, neer te lê. Hoewel dié ooreenkoms nie bo kritiek verhewe is nie, veral aangesien dit nie vir groepsregte voldoende voorsiening maak nie, is dit wel op die wedersydse erkenning van rolspelers gebaseer en is daar gepoog om ‘n volhoubare balans tussen die draers van botsende belange te handhaaf. So is daar tegelyk voorsiening gemaak vir sowel die herstel van historiese wanbalanse, as vir die kompensasie aan die hand van meerdere maatstawwe wanneer daar van onteiening sprake sou wees. Hierdie historiese ooreenkoms kan nie eensydig, selfs deur die meerderheid, ten koste van ‘n aanwysbare belangegroep gewysig word sonder om die onderliggende erkenning en balans waaraan dit uitdrukking wou gee, te versteur nie.
  1.  Teen hierdie agtergrond moet die parlementêre mosie oor die onteiening sonder vergoeding van grond as van groot en verreikende belang beskou word. Dit kan na ons oordeel nie as ‘n bloot tegniese of administratiewe saak beskou word nie, maar affekteer die drakrag van die historiese ooreenkoms waarop die Suid-Afrikaanse samelewing vandag gebaseer is. Dit hou dus die moontlikheid in om die ewewig wat bewerkstellig is drasties te versteur, maar ook om die aard en omvang daarvan opnuut in oënskou te neem en waar nodig te heroorweeg, te herbevestig en/of te heronderhandel.
  1. Vanuit die Orania Beweging se hoek beskou, kan die moontlike onteiening sonder vergoeding van grond op twee geldige maniere vertolk word. Die eerste en voor die hand liggende manier is om die ekonomiese betekenis en gevolge daarvan vir ekonomiese beleid te oorweeg en dit met die suksesse en mislukkings van grondhervorming en die herstel van grondregte, waarvoor daar reeds in die 1996 Grondwet voorsiening gemaak is, in verband te bring. Ons het van voortreflike voorleggings in hierdie verband aan die Komitee kennis geneem en is nie voornemens om verdere argumente daarby te voeg nie.
  1. Die tweede vertolking van onteiening sonder vergoeding van grond waarop die Orania Beweging verder wil ingaan, is die betekenis en gevolge vir bevolkingsbeleid wat dit inhou. Dit knoop aan by méér as net die sekerheid of bedreiging van eiendomsreg as hoeksteen van ekonomiese ontwikkeling en welvaart, dit dring deur tot die fondament van ons huidige grondwetlike ooreenkoms, naamlik wedersydse erkenning en balans tussen partye met botsende belange. Selfs die hantering van historiese ontwikkeling en welvaart is nie net van ekonomiese belang nie, maar gee of weerhou erkenning aan ‘n bevolkingsdeel waarmee dit verbind word.
  1. Die rasionaal agter onteiening sonder vergoeding van grond, word kort en klaar uitgedruk in die motivering dat “mens nie gesteelde goed van ‘n dief behoort te koop nie” – soos immers tydens die parlementêre debat oor die betrokke mosie aangevoer is. Daarmee word die onderliggende waardes van respek en versoening waarop die 1996 Grondwet aanspraak gemaak het, deur waardes van miskenning en wraak vervang. By die oorgang van ‘n eksklusiewe en rasgebaseerde bedeling na ‘n inklusiewe bedeling wat voorgegee het om nie rasgebaseer te wees nie, is aanvaar dat ‘n volk wie se oorsprong in Suid-Afrika histories met kolonialisme verband gehou het, as eie en inheems tot die kontinent erken is. Daardie erkenning is egter deur die parlementêre mosie ondergrawe en die implementering van onteiening sonder vergoeding sal dit grondwetlik gesproke finaal tot niet maak.
  1. Vir Afrikaners kan die oproep tot “onteiening sonder vergoeding” dan ook nie anders nie as om in verband gebring te word met die “onteiening” van kulturele ruimtes, die verlies aan skole en universiteite wat moedertaalonderrig verseker, en die verrinnewering van Afrikaans se status in die openbare sektor nie. Daarmee word Afrikaners, soos ander inheemse bevolkings, vervreem en tot tweederangse burgers van hulle geboorteland gemaak in plaas daarvan dat maniere gevind word om aan al die inheemse volke en kulture betekenisvolle erkenning en ruimte te verseker. Die verwagting dat die historiese ooreenkoms wat op die 1996-grondwet uitgeloop het, hieraan sou uitdrukking gee, word dus in ‘n breër verband deur die huidige verwikkelinge teleurgestel.
  1. Hierdie teleurstelling mag daarop berus dat daar aan beide kante van die destydse skikking ‘n onderskatting van die ander kant se sienings en verwagtings was en van wat hulle in die proses prysgegee het. Indien dit inderdaad die geval is – en ons is van oordeel dat dit is – kan die ewewig vandag nie eenvoudig herstel word deur bloot ‘n beroep op daardie skikkingsgebeure te doen nie. Die nodige ewewig kan slegs herstel word deur ook ervaring wat sedertdien opgedoen is, in berekening te bring. ‘n Nuwe vergelyk sal egter op ‘n nuwe verstandhouding moet berus en ‘n nuwe wil tot wedersydse erkenning vereis.
  1. Die Orania Beweging bepleit dus ‘n nuwe historiese ooreenkoms waarvan die huidige proses die begin en aanknopingspunt kan wees en waarby daar erns met verskillende belewenisse van ons huidige werklikheid gemaak word. Dit moet by die erkenning van verskillende en verskeie perspektiewe op die verlede, insluitend die besit en benutting van grond begin. Uit ons oogpunt moet die erkenning van Afrikaners as permanente deel van die Suid-Afrikaanse samelewing en van ons begeerte om, met ons foute én vermoëns, ‘n opbouende rol in die toekoms te speel, ‘n deel daarvan uitmaak. Ons aanspraak – soos dié van ander Suid-Afrikaners – op ‘n geleentheid om ook vir ons en ons kinders ‘n vrye toekoms te verseker en billike leefruimte op te neem, is vir ons onverhandelbaar.
  1. Ons besef dat die toegang tot en toedeling van hulpbronne, ook van grond, nie a-histories of staties is nie en dat dit in die groter orde van dinge aan die hand van veranderings van demografie en magsbalans, deurlopend verander. Daarom het ons geen ander vooruitsig as dat verandering van grondbesit en -benutting sal plaasvind nie – talle Afrikaners en boere is immers ook betrokke by pogings om dit op volhoubare grondslag te laat slaag. Dit gee ons egter geen rede om te verwag of te aanvaar dat ons billike belang in die proses geminag of verbygegaan moet word nie of dat nuwe onreg daardeur geregverdig word nie.
  1. Teen hierdie agtergrond kan die Orania-gedagte en die Orania-ervaring ‘n goeie uitkoms help bied, synde ‘n suksesvolle gemeenskap gebou op geslaagde plaaslike ekonomiese ontwikkelingstrategieë wat unieke en progressiewe arbeids- en maatskaplike verhoudings insluit. As sodanig verteenwoordig Orania dan ook die implementering van selfbeskikking op ‘n wyse wat met ‘n nuwe historiese ooreenkoms versoenbaar is, hoewel daar verder op uitgebrei moet word. ‘n Meer omvattende ooreenkoms ten aansien van gemeenskappe se vooruitsig op selfbeskikking, sowel as die vereistes daarvoor, insluitende grond, moet en kan bereik word.
  1. Die Orania Beweging beskou die verklaring van mnr Mohamed Valli Moosa, destydse Minister van Staatkundige Ontwikkeling, op 4 Junie 1998 in die Parlement as ‘n waardevolle beginpunt. Dit lui soos volg: “The pursuit on the part of the Freedom Front and other Afrikaners  to strive towards the development of a particular region in the country (the “North-West corridor”) as a home for Afrikaner culture and language within the framework of the Constitution and the Bill of Rights is in Government’s view indeed a legitimate pursuit.”Ons is van oordeel dat ‘n ooreenkoms in so ‘n gees en langs sulke lyne tot ‘n volhoubare skikking ten opsigte van die benutting, verdeling en besit van grond kan bydra.

 

Carel Boshoff
President van die Orania Beweging