Orania en 'n stad wat nog kom

Dr. Dirk Hermann

'n Repliek tydens die konferensie oor nuwe idees vir nuwe tye
9 Augustus 2008

Ek het my dogtertjies se skopfietsies ingepak vir ons besoek aan Orania. Toe ons hier stop het hulle uitgespring en hulle het hulle fietsies gegryp en in die straat ingevaar. Ek wou eers keer, maar my dogtertjie het my herinner dat hulle mag want: “Pappa, ons het bordjies gesien wat sê kindertjies mag in die straat speel.” Wat 'n abnormale samelewing hier in Orania waar my kinders uitbundig in die straat kan afjaag. My tweede reaksie was dat dit eenvoudig te gevaarlik is. Hulle skool by die huis is letterlik 400 m van die huis af, maar ek sal nie waag om hulle alleen skool toe te laat stap nie. Teen hierdie tyd is my dogtertjies al om die hoek en ek dink: wat 'n abnormale samelewing waar ek nie doodbenoud voel as my dogtertjies uit my gesigsveld verdwyn nie. Met rede is ek benoud, my oudste dogtertjie het al haar eerste kaping oorleef, waar ek en my vrou haar benoud uit haar karstoeltjie moes kry om te keer dat die kapers nie met haar wegry nie en ek, met twee pistole op my gerig moes kyk hoe 'n pistool teen my vrou se kop gespan word met my dogtertjie in haar arms. Ons het ontbyt geëet by Herberg Oranje. Net langs Herberg Oranje bou Renus Steyn 'n huis vir sy dogter. Jong Afrikaner mans gooi stene rond. Wat 'n abnormale samelewing, mens doen mos nie jou eie werk nie, veral nie harde handearbeid nie. Langs die erwe sien ek vier asblikke, een vir plastiek, en vir glas een vir voedselafval en die ander vir papier. Dit is blykbaar 'n groen manier van vullisverwydering en maak herwinning moontlik. Wat 'n abnormale samelewing wat in die eerste plek hulle vullis in asblikke gooi en in die tweede plek dit skei met die oog op herwinning. Op 'n koppie sien ek die borsbeelde van 'n aantal Afrikanerleiers wat van agter kyk na 'n seuntjie wat sy moue oprol om te werk. Wat 'n abnormale samelewing wat uit die geskiedenis vorentoe kan kyk. Ek hoor van goeie dienslewering en spesiale programme om arm Afrikaners te akkommodeer. Sowaar Orania is net soos die mense daarbuite sê: 'n abnormale samelewing.

Miskien het ons so gewoond geraak aan die abnormale dat die normale nou al vir ons abnormaal is. Ek wil hê my dogtertjies moet in die straat kan afjaag, hulle moet trots uit die verlede na die toekoms kan kyk. Ek wil hê Afrikaners moet toegang hê tot alle strata van werk en volhoubare ontwikkeling moet deel van die mens word. Goeie dienslewering is normaal en ons moet tog arm Afrikaners by ons samelewing inskakel.

Dit bring my by die twee referate waarop ek repliek moet lewer. Lida Strydom praat oor die groen Orania. Sy gee vir ons 'n tienpunt plan om Orania groen te verf. Haar idees sluit in sonpanele en watertenks vir afloopwater. Sy vra vir spesiale argitektuur sodat huise reg front, goed geïsoleerd is en ekologies eties is. Sy sê: “Ons sal eerstens 'n besluit moet neem om volhoubaar te leef. Dan sal ons dit passievol moet aanpak. Dit is te laat vir effentjies.”

Frans de Klerk praat oor die krisis van armoede onder Afrikaners. Dit is tereg 'n groot krisis. Hy bied as antwoord vir armoede onder Afrikaners die idee van 'n werkende gemeenskap. Hy praat van selfstandigheid, 'n geïntegreerde gemeenskap en koöperatiewe instellings.

Ek luister so na Frans en Lida en ek vra, maar het die linkses nou Orania beset? Kom ek verduidelik.

Die groen beweging is 'n linkse beweging. Dit het in 'n groot mate ontwikkel in reaksie op die neo-liberale globalisering waar balans en volhoubaarheid dikwels in die stof byt. Die groenes betoog, soms geweldadig, teen die G8 leiers en skroom nie om aktivistiese tegnieke te gebruik om hulle doelwitte te

bereik nie.

Die lokaliteitsteorie, waarbinne Frans se idees gegrond is, is ook midde in linkse ekonomiese denke.

Die Suid-Afrikaanse denkskool bied die lokaliteitsidee aan as oplossing vir die arm swart gemeenskappe.  Hulle redeneer dat plaaslike gemeenskappe omskep moet word in werkende ekonomieë.  Rande moet soveel moontlik omgedraai word in die plaaslike ekonomieë en die ekonomieë moet minder afhanklik gemaak word van die hoofstroom of globale ekonomie. Instrumente wat die lokaliste aanbied om plaaslike ekonomie te stimuleer is gemeenskapsbanke, koöperatiewe

stelsels, gemeenskapsproduksie en handel en plaaslike geldeenhede. Die denkskool is ook voorstanders van 'n basiese inkomstetoelaag wat in 'n plaaslike geldeenheid uitbetaal word.  Hierdie plaaslike geldeenheid word net in die gemeenskap aanvaar en sodoende word plaaslike ekonomie gestimuleer.  Hierdie plaaslike ekonomieë kan aansluiting vind by mekaar deur 'n gemeenskap van gemeenskappe en kan mekaar oor en weer stimuleer en ondersteun.

Nog 'n term in die lokaliteitsdenke is kollektiewe globalisering.  Die kollektiewe globaliseringsdenke vind neerslag in die identiteit van gemeenskappe.  Kollektiewe globalisering word gebied as verskansing teen die soms wrede individuele neo-liberale globalisering.  Gemeenskappe vind hierin geborgenheid in hulle identiteit.  Die individue van die gemeenskap kan dus individueel deelneem aan en 'n bydrae lewer tot 'n globale gemeenskap maar het die ondersteuning van 'n lokale gemeenskap.

'n Volgende idioom in die lokaliteitsdenke is radikale demokrasie.  Die lokaliste voel sterk dat besluite op die laagste vlak moontlik geneem en geïmplementeer moet word.  Dit kan insluit die taal van instellings in die gemeenskap tot vullisverwydering, veiligheid of instandhouding van sypaadjies op straatvlak.  Die lokaliste klou nie vas aan die staatsidee nie, want die staat se mag word deur globalisering en multinasionale maatskappye weggekalwe.  Die onderliggende van radikale demokrasie, wat ook by die idees van gemeenskapsekonomie aansluit, is selfstandigheid.  Die gemeenskap is dus minder van die sentrale mag (of globale ekonomie) afhanklik en kan meer self funksioneer.  Die gemeenskap kan dus onbevange deelneem aan aktiwiteite van die sentrale mag of die globale ekonomie.  Dit is dus nie isolerende idees nie, maar juis deelnemende idees.

Die betekenis van Frans en Lida se referate lê nie daarin dat dit binne 'n linkse idee raamwerk val nie, want hulle het aan dit 'n eie Orania inhoud gegee, wat nie dieselfde anargistiese kenmerk het van ander linkse bewegings nie en dit weerspieël ook 'n ander waardeinhoud as die linkse bewegings en het baie meer vrye mark kenmerke.

Die betekenis lê daarin dat dit na-apartheidsdenke is. Dit is denkraamwerke wat nie voor 1994 bestaan het nie. Dit is dus na '94 oplossings vir die Afrikaner binne die na '94 politieke raamwerk.

Die idees van lokalisme het egter 'n implikasie vir die volkstaat konsep. Lokaliste glo juis nie in afhanklikheid van die nasionale staat nie, maar in radikale demokrasie wat selfstandigheid van die gemeenskap beteken. Binne die werklikheid van 'n meerderheidsomgewing kan 'n selfstandige gemeenskap, wat 'n demokratiese ruimte, vir die lede daarvan skep, 'n sterk instrument wees. Die volkstaat konsep is egter uitgedien en dit moet vervang word met die idees van die selfstandige gemeenskap. 'n Selfstandige gemeenskap kan binne die huidige politieke werklikheid en grondwetlike bedeling 'n demokratiese bestaan voer. 'n Volkstaat met 'n eie regering is te ver van die werklikheid om mense opgewonde te maak. Die woord volkstaat, plaas Orania binne die denkraamwerk van isolasie. Orania het self 'n nuwe idoom en nuwe idees ontwikkel. Die ideeraamwerk van Orania het verby die volkstaat idioom en idee onwikkel. Orania het self die volkstaat ontgroei. Vir Orania is dit nou tyd vir nuwe idees in nuwe tye.

Dit beteken nie dat plek vir 'n gemeenskap uitgedien is nie. Afrikaners is ontplek, hulle voel vervreemd. Hulle voel magteloos omdat hulle in 'n stelsel is, maar nie deel van 'n stelsel nie, hulle voel betekenisloos en sonder toekomsverwagting, hulle voel geïsoleerd en selfs verwyder van hulleself. Orania kan Afrikaners weer 'beplek', maar Orania moet die vertroue van die Afrikaners wen. Binne die nuwe ideeraamwerk van Orania kan Oraniërs sonder vrees vir isolasie droom oor 'n stad wat nog moet kom. 'n Stad waar kinders op hulle skopfietsies in die straat kan afjaag, sonder dat ouers hoef bang te wees, waar goeie dienslewering nie snaaks is nie, waar om groen te wees nie vreemd is nie en waar om Afrikaans te wees nie 'n 'statement' is nie. Oor die stad wat moet kom kan Afrikaners wat selfs buite Orania is sê: daar is my plek in Afrika, ek bly net hier op my kontinent.

zp8497586rq
Die kommentaar is tans gesluit.