In ‘n Neutedop

Orania in `n neutedop

Orania is in die Noordkaap-provinsie, 164 kilometer van Kimberley en 240 kilometer vanaf Bloemfontein. Die dorp is geleë aan die oewer van die Oranjerivier en word omring deur uitgestrekte karooveld. Die plantegroei is tipiese karoobossies en nader aan die oewer word pragtige groot bome aangetref, onder andere karee- en witkaree-, blinkblaarwag-‘n -bietjie, witgat- en soet-doringbome. In die winter kan ‘n aantal inheemse blomsoorte hier gesien word. Kleinwild kom volop voor en ‘n groot verskeidenheid voëls, wat watervoëls insluit, is reeds deur voëlkykgeesdriftiges aangeteken. Die Oranjerivier vloei hier taamlik wyd. Orania het lieflike sonsondergange en snags kan sterrekykers die onbesoedelde hemelruim bespied. Orania val in ‘n somerreënvalgebied en tipies aan die karooklimaat word die somers baie warm. Temperature wissel van 30°C tot 38°C en selfs meer. Winters word deur snerpende koue nagte, maar heerlike dae gekenmerk. In die lente en herfs is die klimaat baie matig.